Dit is nou al bewys: Die meeste mense werk baie harder en baie langer ure wanneer hulle van die huis af werk, as wanneer hulle op ’n vooraf bepaalde uur hul rekenaar afskakel, die kantoordeur sluit, en huiswaarts keer.
En tog, soms, veral op ’n Vrydagmiddag, wil en kan die vlees en selfs die gees nie meer nie, en moet ’n mens tot stilstand kom. Daardie oomblik wanneer jy net alleen wil wees, met niemand meer wil praat nie, nie eens die klank van die televisie wil aanhoor nie.
Op so ’n Vrydagmiddag sit ek op die rusbank in die sitkamer, en vang my oog ’n dartelende voëltjie in die boom se takke. Vlugvoetig skarrel hy van tak tot tak, rats verby die spreiende takke, woerts tussen die blare deur, met die sonlig wat swiep-swiep oor sy trillende vlerkies.
Dit tref my: Nie so ligvoetig nie, beslis nie so sierlik nie, maar net so skarrelend wip ons daagliks deur die lewe. Meestal van die een probleem na die ander, die een onderonsie na die ander, rakelings verby die verstrengelde takke van ons bestaan.
En party van ons, dié van ons wie se werk detailgeoriënteerd is, swenk en koes selfs nog meer. Byvoorbeeld: As taalversorger moet jy jou klou ken aan daardie swaaiende tak, want met (erkende en toelaatbare) wisselvorme waarvan nie almal weet nie, en die oormatige of versigtiger gebruik van hoofletters, en kursief vs enkelaanhalingstekens vs dubbelaanhalingstekens, en die gebruik van hinderlike afkortings (!) in die middel van die sin, en hoogdrawende teenoor te informele taalgebruik vir ’n bepaalde situasie, en onnodige Engelse woorde tussenin… En werklike swak skryfwerk, en te geleerde tekste, en onnodige beklemtonings… En die persoonlike voorkeure van lesers wat – so voel dit – jou werk met valkoë dophou… kan selfs die vrolikste voëltjie soms sy klou verloor en kop onderstebo grond toe tuimel.
Dan boonop die darteling tussen verpligtinge en eise deur. Eise van stadsrade (elektrisiteitsrekenings, bestuurslisensies), selfoonmaatskappye (kontrakperiodes, data wat wegraak), winkels (swak produkte, waarborge wat nie eerbiedig word nie, pryse wat styg en styg, en nie ooreenkom met wat op die rakke aangedui word nie), banke (webwerwe wat gedurig verander), WhatsApp-groepe (nodig, maar vol dom en onnodige boodskappe – en die spelling!), familie (onrealistiese verwagtings, seergemaakte gevoelens)… en so voort tot in oneindigheid…
Let op, al hierdie goed en meer, sonder dat wrede virusse nog eens ter sprake gekom het…
Hoe dan, vra ek, kan ons selfs eens probeer om ligvoet deur die lewe te gaan?
Dan soek jy maar die sondeurdrenkte bome op. ’n Goeie boek, ’n nuwe digbundel, ’n inspirerende televisieprogram, jou kinders se geselskap, jou kleinkind se uitbundige lag. Jou gunsteling-Bybelteks, ’n Gesang uit ’n ou Psalm- en Gesangeboek wat jou as kind so lekker laat saamsing het… ’n Stukkie klassieke musiek, ’n foto van ’n ontslape geliefde…
Miskien iets so elementêr soos ’n oop blik kondensmelk…
Of jy stap by die deur uit, kyk na die kleure en maniertjies van die verrinneweerde kuifkophoutkapper, die astrante spreeu, die kakelende hadida… Of jy kyk op, verwonder jou aan die bewegende wolke en die storm wat op die horison broei…
Of jy sit maar net in stilte voor die sitkamervenster en hou die vlugvoetige voëltjies dop. En herinner jouself aan die Skepperhand wat skep en onderhou, troos en genees, en nooit die werke van sy hande laat vaar nie. Want niemand kan sy skape uit sy hande ruk nie. En veral: Van agter en van voor omsluit U my; U plaas u handpalms op my. Om dit te verstaan, is ’n te groot wonder vir my; dit is te hoog, ek kan dit nie begryp nie (Ps 139: 5-6, AFR2020).
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)