Dit neem nie lank om ’n ondersteuningsgroep vir vroue in die amp op sosiale media te vind nie. Die groepe is in elke land, in elke taal, want die ervaring van vrou in die amp wees, is in elke land, in elke taal. Ook in Suid-Afrika, in die Reformatoriese tradisie. Sommige groepe is formeel op Facebook. Geslote, want internettrolle dié sal daar wees. Ander is minder formeel, op WhatsApp.

Dis belangrik vir vroue in die amp om iewers aan so ’n groep te behoort. ’n Veilige plek waar die werklikheid van jou ervaringe geglo en gedeel word. Mense wat nog nooit in ’n vrouelyf van ’n kansel afgeklim het nie, kan hulle nie die gruwelikhede wat vrouepredikante goedsmoeds toegesnou word, indink nie.

’n Kerklike publikasie van die NHKA gee onlangs aan vrouepredikante in die NHKA kans om hul ervaringe te deel. Die poging is opreg en sonder kwade bedoelings. Maar die eerste sin in die uitnodiging om haar ervaring te deel verwys na “diskriminasie” teen vroue in die amp. In aanhalingstekens. Asof dit net in sommige vroue se koppe bestaan.

Die groepe waarvan ek deel is, gons na die uitnodiging ontvang is. Hoe kan ons oor die diskriminasie praat as mense nog steeds nie verstaan dat dit werklik diskriminasie is nie? Durf ons die Kerk vertrou met hierdie seer? So oop en eerlik waar almal dit kan lees? Hoeveel vroue is genader? Kan die diepte en kompleksiteit van ons ervaring in een enkele artikel verduidelik word?

Want dit is wat ons moet doen. Verduidelik hoekom ons belewenis dié van diskriminasie is. Op ’n manier wat nie aanstoot gee nie. Iets waarvan ons baie maklik beskuldig word – dat ons manier van doen “ons saak” (koud en klinies, asof dit nie ons lewens is nie) skade doen. Dit kan nie met net een artikel of een gesprek of een preek of een Bybelstudie gedoen word nie. ’n Voortdurende proses van bewusmaking is nodig. Want mense gaan jou belewenis in jou lyf met jou siel in twyfel trek. Voel jy neem ’n persoonlike saak teen hulle op, terwyl jy eintlik die kultuur bevraagteken.

Vroue word daagliks blootgestel aan nimmereindigende opmerkings, aanmerkings, opinies, grappies, maniere wat die waardes wat vroue se belewenis ignoreer in stand hou.

Dit word soos ’n doring waarvan die punt onder die vel agterbly wanneer die doring uitgetrek word. ’n Mens voel aanvanklik verlig wanneer jy jou in jou eie binnewêreld terugtrek, want dit voel of die doring uitgetrek is.

Maar na ’n ruk begin jy agterkom jou gemoed is swaar en jou hart is seer. Na ondersoekende gesprekke met die mense wat jou goed ken, kom jy agter die doring se punt het agtergebly en begin sweer.

Mense dink seksisme is aktiewe openlike diskriminasie. Dit is dit ook ja. Maar dis dikwels meer subtiel. In die manier waarop ons dink. In die onuitgesproke dubbele standaarde.

In die ondeurdagtheid van alledaagse menswees.

  • Aan die einde van ’n onlangse kerklike simposium doen een van die dagbestuurslede die bedankings. Die predikant van die gemeente waar die simposium gehou is, word bedank. Een van die twee predikante van die gemeente – ’n vrou – sit langs my en sê: PredikantE.
  • Dieselfde predikant word deur een van die dagbestuurslede ’n “predikantjie” genoem. Sy wat al vyf jaar dieselfde gemeente bedien. Ek is self deur hierdie spesifieke mannekollega ’n “predikantjie” genoem tot ek hom gevra het om dit asseblief nie te doen nie. Nie eens die mans wat in 2018 klaar studeer het, word “predikantjie” genoem nie.
  • ’n Mannekollega sluit by ’n etenstafel aan waar ’n vrouekollega besig is om met ’n ander mannekollega te praat en val haar in die rede om in die bresse te tree vir die ander mannekollega. Die vrouekollega kry ’n toespraak wat irrelevant is ten opsigte van wat sy besig was om te sê. Sy is te verdwaas oor die ongevraagde en onwelkome “opvoeding” om iets te sê.
  • ’n Mannekollega sien twee vrouekollegas in ’n geanimeerde gesprek en besluit om sy glas neer te sit, en die naaste vrouekollega se skouers te masseer, want sy gaan ’n hartaanval kry. Hierdie vrouekollega is nie te verdwaas oor die ongevraagde en onwelkome vermaning “ter wille van haar gesondheid” nie. Sy sê vir die mannekollega dat dit nie aanvaarbaar is om so aan iemand te vat nie en dat sterk emosies nie ’n maatskaplike probleem is wat bekamp hoef te word nie.
  • ’n Manspredikant voer ’n onderhoud met mense. Vestig die gehoor se aandag daarop dat daar meer mans as vroue teenwoordig is, en dat hy seker is die teenwoordige mans sal met hom saamstem dat een van die twee vroue met wie hy die onderhoud voer beeldskoon is. Tydens dieselfde onderhoud maak dieselfde manspredikant ’n verwysing na die man met wie hy ’n onderhoud voer, dis mos lekker om vir mooi vroue te sit en kyk.
  • Die inleier van ’n sessie vra vir die gehoor of hulle geweet het dat Google ’n vrou is omdat sy “mens” se sinne vir jou klaarmaak.
  • Die genooide spreker oor ’n spesifieke onderwerp stel voor dat die samelewing weer gesond sal word wanneer die iesha (Hebreeus vir vrou) weer onder die iesh (Hebreeus vir man) se blad inkruip, daar waar sy vandaan gekom het; verdere genesing sal volg wanneer seuntjies weer leer om gentlemen te wees en dogtertjies hulle soos ladies Here was landeienaars in ’n feodale sisteem, verantwoordelik vir die ekonomie; dames se plig was om manlike nasate vir die here te verwek. Dames moes op en af en in en uit deure, geboue, trappe gehelp word, omdat die klere wat hulle volgens voorskrif moes dra, hulle van vrye beweging weerhou het. Dis geen toeval dat vroue op stemreg begin aandring het in dieselfde periode waarin hul klere hulle nie meer van hul asems en daarom stemme ontneem het nie. Dit is onduidelik watter waardes uit ’n feodale stelsel ’n ongesonde hedendaagse samelewing tot heil sal wees.
  • Twee mannekollegas deins terug vir die intensiteit van my weersin. Wat ek kan verstaan. As ’n mens nie agterkom dat jou taal ander mense se wêreld vir hulle voorskryf nie, is dit ondenkbaar dat iemand dit vir jou uitwys. Tog wil ek na hulle bly uitreik. My pyn probeer verduidelik. Sodat ek nie bitter word en die Kerk soos soveel ander vrouepredikante vaarwel toeroep, omdat hier doodeenvoudig nie plek is vir my om te groei nie. Sodat die Kerk nie sonder meer kan aanhou om mense uit te sluit sonder om dit te besef nie. Sodat ons, mans en vroue, straight en gay, ouers en kinders, ampte en leke, al die binêre pare waaraan ’n mens kan dink en alles tussenin ook, ons saam kan beywer vir ’n gemeenskap waarin almal pas en waar God se visie vir God se wêreld nie primêr in manlike en straight taal ingekleur word nie. En uiteindelik, sodat almal uitgedaag kan word en kan leer om stil te bly en te luister wanneer ander mense nodig het om gehoor te word. Sonder aanhalingstekens.
af
af
Deel met behulp van
Copy link