Daar is ’n ou gesegde wat lui: Moenie alles glo wat jy hoor nie. Dit is ’n waarheid wat oor en oor bevestig word in ’n wêreld vol van skelms, bedrieërs en swendelaars. Die waarskuwing wil mense leer om onderskeidend te luister, want die waarheid is nie altyd voor die hand liggend nie. Selfs nie in godsdiens nie. Miskien juis nie in godsdiens nie, omdat geloofsfeite ’n getuieniskarakter het eerder as objektiewe verifieerbaarheid.
Die Griekse skrywer en filosoof Plutargus is gebore in 46 nC. Sy bekendste werk is ’n versameling van 48 lewensverhale oor beroemde Grieke en Romeine en staan bekend as Parallelle Lewens (Bíoi Parállēloi in Grieks). Die verhale is in pare gerangskik, byvoorbeeld Alexander die Grote saam met Julius Caesar, om hul karakter, bydrae in die geskiedenis en prestasies te vergelyk. Hy skryf ook ’n stuk of 78 lesings, essays en ander werke wat handel oor sedes en gebruike van die tyd, en wat versamel is onder die titel Moralia.
Een van hierdie werke was ’n formele lesing wat hy later verwerk in ’n brief aan sy jong vriend Nikander, wat besig was om te studeer in filosofie. In die brief praat Plutargus oor die kuns van luister. Die kern van die brief is dat ’n student die plig en verantwoordelikheid het om met gefokusde aandag te luister na ’n voordrag, sodat hy kan bepaal of die beredenering waar of vals is en sodoende sy eie denke kan vorm en slyp.
Plutargus onderskei verskillende kategorieë van luister waaronder die meeste mense ingedeel kan word. Ons noem die volgende vier:
Die selektiewe luisteraar. Dit is iemand wat fyn luister, veral na dit wat hy of sy graag wil hoor. Dit verwys na die geneigdheid van mense om ingestel te wees op onderwerpe wat vir hulle interessant en opwindend is. Mense kan met volgehoue aandag luister na iemand wat hulle bewonder of wat onderhoudend praat, selfs al is dit ’n lang toespraak. Plutargus waarsku egter dat dit onbedoelde gevolge kan hê om net te luister na advies en menings wat goed op die oor val en met ons eie opinies ooreenkom, want sodoende mis ons ander belangrike en nuttige inligting en wyer perspektiewe. Daar kan belangrike inligting bekom word uit toesprake en menings wat ons as vervelig beskou, of wat aangebied word deur persone van wie ons nie baie hou nie.
’n Tweede kategorie, in aansluiting by die vorige, is die afkeurende luisteraar. Wanneer ons menings hoor wat bots met ons eie standpunte en waardes, is ons geneig om dit onmiddellik te verwerp en te diskrediteer. Ons oorweeg nie eens die uitgangspunte daarvan nie; volg nie die logika nie; toets nie die gevolgtrekkings nie. Ons keur dit eenvoudig af en verwerp dit. Plutargus erken die reg om te verskil, maar eers nadat ’n mens met aandag en ’n oop gemoed geluister het na die hele betoog, en dan op goeie gronde ’n teenoorgestelde mening kan formuleer. Hy beskou summiere veroordeling of afkeuring as ’n onwettige kortpad van die brein waardeur die luisteraar insig verloor eerder as wen. ’n Mens wen baie wanneer jy kan nadink oor standpunte wat jou eie mening opponeer, daarom moet jy juis fyn daarna luister.
Die derde kategorie is die maklik beïnvloedbare luisteraar wat tussendeur hande klap, fluit, skree hoor-hoor of amen! of ander onkritiese vorme van ondersteuning openbaar. Die genuanseerdheid van die argument of bespreking kan sodoende heeltemal verlore gaan, tot groot frustrasie van die spreker en ander luisteraars.
Laastens beklemtoon Plutargus dat die geslaagdheid van die aanbieding nie slegs afhang van die spreker of die luisteraar nie. Dit is veel eerder ’n proses waarin die spreker en hoorder met mekaar saamwerk sodat albei baat by ’n vermeerdering van kennis en insig.
Teologie as ’n oefening in luister
Met hierdie agtergrond kan ons nou ’n bietjie nadink oor teologie as ’n voortdurende oefening in fyn luister – nie net na die geskrewe teks van die Bybel nie, maar na die stemme van skrywers en hoorders agter en in die teks. Teoloë – dit sluit predikante in – kan immers nie volstaan by ’n ontleding van die teks nie. Die woorde op papier soek na die passie waaruit hulle gebore is; na die klemtone waarmee hulle geartikuleer is; na die drif wat hulle opgewek het by die skrywer, hoorders en lesers. Aanhalings, nuutskeppings, metafore, vergelykings, vers, lirieke, fluisteringe, stiltes – daar is ’n magtige simfonie, ’n sleurstroom van klank wat swanger is van vreugde en hartseer, pyn en berusting, twyfel en onwrikbare geloof. Dit is weggesteek agter en tussen die letters van die Bybel, en dit wag vir die luisteraar met die fyn oor om die stemvurk te word wat daardie klanke weer tot lewe bring. Elkeen wat die evangelie wil verkondig, moet só kan luister.
Jesaja bevestig dit in hoofstuk 50 van sy profesie: Wat ek sê, hoor ek by die Here. Hy leer my hoe om te luister. Hy stel my ore in om sy boodskap te hoor; Hy maak my tong vaardig om te praat. Die boodskap wat ek bring, is een van redding. Van julle kry ek weerstand – julle slaan my oor die rug, pluk my baard uit, spoeg my, klap my. Maar ek sal my nie laat ontmoedig nie. My gesig is verbete, hard soos ’n vuurklip. Ek praat wat ek hoor, en die Here sal uitspraak gee dat ek reg is. Julle opponeer my boodskap van redding omdat julle julle blind staar teen jul swaarkry, maar julle sal disintegreer soos motgevrete klere wanneer ek reg bewys word. Die Here sál red.
Eksegese en hermeneutiek is afdelings wat teologiestudente moet bemeester op universiteit in hul voorbereiding om predikante te word van die kerk. Dit is die teorie en oefening van fyn luister in die moderne tyd – maar dit is in wese presies waarvan Jesaja en Plutargus praat, en waaraan Paulus uitvoering gee in sy briewe aan die gemeentes.
Die kim van hoop
Die situasie tans is moeilik, selfs haglik. Waarna luister jy? Hoe luister jy? Hoor jy die woord van redding en glo jy dit? Die uitkoms kom seker! Ons moet dit glo en verkondig. Paulus sinspeel in Romeine 8: 31-35 op Jesaja 50: 7-9 – Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Hy het gered, en Hy sal weer red. Daarvan is Jesus Christus die finale bewys. Hy wat in duisternis verkeer, wat geen lig het nie, moet op die Naam van die Here vertrou, moet op sy God steun (Jes 50: 10). Dit is die kim van hoop, en dit dra die lig van ’n immer nuwe daeraad en die ontsagwekkende geluid van ’n magtige dreuning.
Laat ons dan luister, leer en resoneer.
(Dr Piet van Staden is emerituspredikant en leraar in Stellenbosch/Worcester)