Ons huis in Augestraat in Swellendam het ’n pragtige uitsig op die Langeberge. ’n Klein stukkie in die hoek van ons erf is opsygesit vir ’n bos met plaaslik-inheemse bome, so 50 vierkante meter. Voor ons intrek was daar niks, nie eens onkruid nie.

Ons het in die gewoonte gekom om elke jaar op 8 Januarie ’n foto te neem van ons bos. Dit is al die model se tweede rooi hempie. Ons het wyd gesoek vir die regte bome, want sommige bome kry ’n mens nie by kwekerye nie. Die gate is naby mekaar gemaak, in ’n bos staan die bome mos naby mekaar. Die 35 bome is geplant deur die bouer van die huis, deur ons kinders, en deur besoekers van heinde en verre. Op die erf is 51 soorte bome geplant. Met foto’s is daar ’n rekord van elke boom se plantdag.

Van die boomplanters het al teruggekom om te kom kyk hoe groot hul bome is. Die leiwatersloot loop deur die onderpunt van die erf. Die bome het elkeen vir twee jaar elke Maandag ’n verfemmer bergwater gekry en goed gegroei. Die bome veg en stoei vir sonlig en water net soos in die natuurlike bos. In die warm Februariesomer is dit koel in die bos en in die winter, wanneer daar sneeu op die berg lê, is dit nie té koud in die bos nie. Die bome staan tussen die huis en die berg, en die bome wat hoër as die berg groei, moes al twee keer gesnoei word.

Vroeër jare het mense, waar hulle ’n nuwe werf maak, die wilde bome (inheems) uitgeroei en mak bome (uitheems) geplant. Prof Kristo Pienaar het dit gelukkig verander.

Bome het hul streekname gekry na aanleiding van ’n uitstaande kenmerk van die boomsoort, soos pendoring of stinkhout, of aan watter Europese boom dit die eerste Europeërs herinner het, byvoorbeeld boekenhout se hout lyk soos beukehout. Hardepeer, rooipeer en witpeer is nie familie van mekaar of van peerbome nie, maar hul blare het aan peerbome se blare herinner. Ander boomname is ’n verbuiging van die inheemse mense se naam vir die boom, byvoorbeeld tambotie, maroela en notsung. Nog ander bome is vernoem na waarvoor dit nuttig is, soos lepelhout, kraalbos, bakbossie. By voëlsitboom en groenboom het die naamgewers se verbeelding opgeraak, of hul humor het oortyd gewerk. Sommige name het evolusie ondergaan, byvoorbeeld: regop geelhout het upwright yellowwood geword, upwright yellowwood het toe opregte geelhout geword, en toe word die Engels weer real yellowwood.

Op Droëkraal, in die koelte van ’n baie groot populierboom en met die geruis van die wind deur hoë bloekombome, het ek mens geword. Daar is geklouter en gespeel en gedroom in ’n groot karee voor die agterdeur. Sononder was daar die silhoeët van swart pierneefbome in die westerooi. In daardie omgewing is eintlik net vier inheemse bome, karee, soetdoring, deurmekaarbos en gewone haakdoring, maar hy het toe ’n ander naam gehad.

In Potchefstroom op hoërskool kondig die akkerbome en wilgerbome die lente elke jaar uitbundig aan. In Pretoria herinner die jakarandabome in Oktober, jy moes al geleer het, dit is eksamentyd. Verder mors hulle met blommetjies, sade, blare en takkies. Tydens diensplig in Walvisbaai was daar net anabome en kameeldorings in die Kuiseb en in die woestyn welwitschias, wat glo ook ’n boom is.

Die tweede gemeente waar ons kon werk, was Zwartruggens. Die Marico-bosveld het baie soorte bome, mooi bome. Ek het gereeld gevra Watse boom is dit? maar die ou inwoners ken net dié drie bome wat vir hulle nuttig is. Ek wou meer weet en het daarom by die Dendrologiese Vereniging aangesluit en geleer van die Marico-bosveld se baie soorte bome, sommer 70 spesies in een kloof. Noem maar op: Rooi-ivoor met sy harde rooi hout, uitdoppertjie of doppruim met sy jellie, en sy sade se olie is gebruik as geweerolie. Tambotie se sade wat spring en sy hout waarmee jy nie moet vleisbraai nie. Witgat, sy wortels is in swaar tye gebrand as plaasvervanger vir koffie.

Net toe ek hulle begin ken, verhuis ons na Swellendam waar heel ander soorte bome groei, en toe het die kennismaking van voor af begin. Ek kan nou al hier deur ’n kloof stap en so amper al die bome op die naam groet. Dit is lekker om in ’n bos te loop en nie net bome te sien nie, maar boomsoorte te sien. Dit is soos om deur ’n skool te stap en kinders te sien, of om elke kind se naam te ken. Dit is soos om van die preekstoel af net lidmate te sien of om elke lidmaat met sy/haar vreugdes en leed te ken.

Suidelike Afrika het ongeveer 1 200 boomspesies; Europa het ongeveer 100. Dit is lekker om op ander plekke te kom en onverwags ’n bekende boom te ontdek. In die weggesteekte Olifantsbos by Riviersonderend het ons twee jaar gelede op ’n Kaapse hardepeer afgekom. Dit is ’n boomsoort wat so onlangs as 1984 eers beskryf is.

Die oplossing vir die kweekhuis-aardverwarming is meer, baie meer bome. Bewaar bome – dan bewaar jy die swartrenoster én die miskruier en alles tussenin. Plant bome – jou wiegie was van hout en jou kis ook en baie dinge tussenin. Die gesegde is jy plant ’n boom vir jou nageslag. Ek stem nie saam nie. Jy plant ’n boom vir jouself én jou nageslagte. Ek is nog nie oud nie en ek het al in die koeltes gesit van vele bome wat ek self geplant het.

Ek meet mense se beskaafdheid aan die hoeveelheid bome wat hulle plant. Adam en Eva se opdrag was om die tuin met bome op te pas. Die boom van die lewe word in die eerste hoofstuk van Genesis genoem en in die laaste hoofstuk van Openbaring. Ons lees van ’n verskeidenheid bome dwarsdeur die Bybel, soms letterlik, soms simbolies soos in Psalm 1 en Spreuke 3: 18. In Rigters 9 praat die bome met mekaar.

’n Boom, soos ’n mens, het fases in die lewe. Die meeste bome groei die eerste 15 jaar vinnig, selfs ’n kremetart, daarna gaan dit stadiger, en uiteindelik gaan dit dood. Plant daarom betyds plaasvervangende bome. Bome onder stres kry makliker siektes, byvoorbeeld: Waar moet ’n boom met ’n yslike waterdigte teerblad of plaveisel om sy stam genoeg kos en water kry?

Baie mense vra na ’n boom wat vinnig groei, lekker koelte gee, mooi veelkleurig is, nie mors nie, nie plaveisel oplig nie, min versorging vra en nie baie water gebruik nie – as jy so ’n boom wil hê, plant vir jou ’n Skadunetticus haastigus. ’n Mens moet wag vir ’n boom, jy moet hom sien en versorg en snoei, en skielik op ’n dag dan het jy ’n boom, soos met ’n kind.

Van ons stoep af kyk ons onder andere op Doktorsbos. In 1772 en 1773 was doktor Carl Thunberg saam met die hooftuinier aan die Kaap, Johan Andreas Auge, op besoek om nuwe plante te versamel. (Swellendam is in 1745 as distrik geproklameer.) Thunberg was ’n leerling van Linnaeus. Linnaeus was vader van die stelsel om lewende organismes elkeen met ’n genusnaam en ’n spesienaam te benoem. Die plaaslike mense het Thunberg in die omgewing rondgewys. Op ’n dag sien hulle in ’n bos ’n groot boom met mooi pienk blomme. Die blomme is te hoog, niemand kan opklim om dit te pluk nie. Thunberg vat toe sy geweer en skiet ’n tak af sodat hy die blomme van naderby kon bestudeer. ’n Bos is daar en dan vernoem na die snaakse doktor wat na die boomtakke skiet. Die boom was Calodendron capense – Kaapse kastaiing.

*** Hooffoto: Uitsig op die Langeberge vanaf die Jouberts se stoep en vanuit ds Thomas se studeerkamer

(Ds Thomas Joubert is leraar in Swellendam)

Die begin…

8 Januarie 2010

8 Januarie 2017

8 Januarie 2022

Dr Kobus Labuschagne plant ’n boom

My vriend, ds Etienne Fourie

Share via
Copy link
Powered by Social Snap