Een van my gunstelingdele van die Bybel is die toespraak van Elihu in Job 32: 4-10.
Terwyl die vriende met Job aan die praat was, het Elihu stilgebly, want hulle was ouer as hy. Maar toe hy merk dat die drie manne Job nie verder antwoord nie, het hy kwaad geword. Elihu seun van Barakel die Bussiet het begin praat: “Ek is jonk, en julle is grysaards. Daarom was ek huiwerig, ek was bang om vir julle te sê wat ek weet. Ek het gedink: laat die ouderdom praat, laat die ervaring sy wysheid meedeel. Maar dit is die gees in die mens wat die mens insig gee, die gees wat van die Almagtige af kom. Dit is nie die baie jare wat verstandig maak en aan oumense insig gee in wat reg is nie. Daarom sê ek: Luister na my, ek sal ook sê wat ek weet…”
Volgens legende het Sokrates, wat van 469 vC tot 399 vC geleef het, gekla oor die jeug van die dag wat te veel van luuksheid hou, slegte maniere het, geen ontsag vir gesag het nie en nie ouer mense respekteer nie. Of Sokrates dit nou werklik sou gesê het of nie, dis min of meer hoe elke generasie volwassenes oor jongmense voel.
Ek onthou ’n Bybelstudie so ’n klompie jare gelede waar ’n man met groot selfvertroue verklaar het dat niemand jonger as 30 enige idee het wat hulle doen of waaroor die lewe gaan nie. Ek was in daardie stadium 28 en vreeslik verontwaardig oor die dude wat net drie jaar ouer as ek is se uitkyk. Intussen het ek tot my skande dieselfde uitkyk aangeleer. Dis maar min dat jongmense, tieners en kinders ernstig opgeneem word. Wysheid en insig is nie iets wat ons by jongmense, tieners en kinders verwag nie. Miskien omdat ons uit ons eie ervaring weet dat wysheid en insig juis met ervaring bekom word.
Die enigste plek in ons wêreld waar jongmense, tieners en kinders ernstig opgeneem word, is in die huidige verbruikerskultuur waar die mens se onvermoë om vergenoeg te wees, uitgebuit word.
Ek was in 2018 vir die eerste keer in my lewe by Regina Mundi in Soweto. ’n Kerk wat nie gekla het oor die mense nie meer kerk toe kom nie, maar wat, toe dit gebou is, só gebou is dat dit min of meer ewe ver vir alle mense in Soweto sou wees om kerk toe te gaan en dat dit deur al die hoofpaaie bereikbaar was. ’n Kerk wat toe die koeëls letterlik begin vlieg, die eerste plek was waarheen die jongmense, tieners en kinders van Soweto gevlug het.
Daar was volgens oorlewering op 16 Junie 1976 ongeveer 4 000 jongmense wat hul toevlug tot die kerk geneem het. Die kerk was ’n plek wat hulle ernstig opgeneem het. Wat hulle geglo het. Wat hulle nie weggewys het omdat hulle “vir moeilikheid gesoek het en dit gekry het” nie. Die kerk se mure kon nie die veiligheidspolisie of die koeëls keer nie. Die standbeeld van Jesus se een hand is afgeskiet, en die gemeente het die ander hand ook afgehaal omdat “Jesus se hande op geen ander plek as by die mense is nie”.
Ons eerste reaksie wanneer ons na jongmense se belewenisse luister, is gewoonlik om hulle te wil reghelp om die werklikheid te verstaan. Dis selde dat ons werklik luister en hulle glo oor hul belewenisse. En dan word daardie jongmense volwassenes soos ons…
Daar is nie ’n revolusie in die geskiedenis waar jongmense nie die dryfveer was nie. Die potensiaal om kritieke en blywende verandering teweeg te bring, is juis ’n reaksie teen ’n wêreld wat jou nie ernstig opneem nie.
Dis nogal ’n vraag wat die Hervormde Kerk haarself gerus kan vra: Kweek ons jongmense om volwassenes soos ons te word, of help ons jongmense om hul eie stem te vind en dit ten goede te gebruik? Is ons die plek waarheen ons jongmense kan gaan wanneer die metaforiese koeëls van die lewe begin vlieg? Neem ons jongmense, tieners en kinders ernstig op wanneer hulle die koeëls van ’n wêreld (kultuur, politiek, omstandighede) wat hulle bedreig, probeer ontvlug? Gaan ons die Kerk en die land se jongmense teenstaan en metafories begin skiet as hulle protesteer of revolusie teweegbring? Selfs as dit hul roeping is?
Was jy al by Regina Mundi? Miskien moet jy gaan kyk waar die koeëlgate nou nog in die kerk te sien is, en Sokrates en Elihu onthou voor jy weer kla oor die jeug van vandag.