Maandag 29 September – ’n Muis in die koekieboks

Efesiërs 2: 1-10

Arthur Pink noem dat daar drie tipes Christene bestaan.

Ons dink baie kere dat wanneer ons gedoop is of selfs aangeneem is in die kerk, dan is dit genoeg dat die grond vrugbaar is en dan sal geloofsgroei vanselfsprekend wees. Dit is ongelukkig nie waar nie, tog help dit baie. Iemand het eenkeer spottenderwys gesê dat as ’n muis in ’n koekieboks gebore is, dit dan nie beteken dat daardie muis ’n koekie is nie. Dieselfde met ’n Christen. Wanneer ons ons lewe lank in die kerk is, beteken dit nie noodwendig dat ons onsself as geestelik volwasse kan beskou nie. Daarom is gedurige introspeksie en selfondersoek so belangrik. Wanneer geestelike dissiplines gaan oor die kerk of die dominee, dan is geestelike groei nie altyd noodwendig nie.

Dieselfde is waar vir die tweede groep gelowiges, oftewel Christene. Pink beskryf mense as selfgemaakte Christene wanneer God alleen met hulle praat en net vir hulle die antwoorde gee en die spirituele weg aanwys. Ook hier is daar nie noodwendig geestelike groei nie.

Godgemaakte Christene is ’n wonder van genade. Ons is inderdaad uit genade gered. Dit is nie iets wat ons self gedoen het nie, dit kom van God af. Dit is ’n produk van Goddelike vakmanskap: Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Ef 2: 10).

Dr Hein Delport, Swartkop / Hervormde Teologiese Kollege