Dr Wim Dreyer

By die emeritaat van ’n gewaardeerde kollega soos Natie van Wyk, is dit gepas om ’n paar kantaantekeninge (marginalia) ten opsigte van sy teologiese bydrae te maak.

Ignatius William Charles van Wyk is op 28 September 1953 in Johannesburg gebore. Hy is getroud met prof Neltjie van Wyk, verbonde aan die Mediese Fakulteit (Universiteit van Pretoria). Van 1981 tot 1984 studeer hy onder Gerhard Sauter in Bonn, Eberhard Jüngel in Tübingen en Berthold Klappert in Wuppertal. In 1987 promoveer hy met’n proefskrif met die titel Das Theodizeeproblem als Orienterungspunkt der kirchenpolitischen und theologische Streitfragen: Eine Auseinandersetzung mit Jürgen Moltmann.

Van Wyk is op 13 Januarie 1980 in Gemeente Edenvale as predikant van die NHKA georden. Daarna was hy ook in Bloemfontein-Wes predikant. Hy het in talle rade en komitees van die NHKA gedien. Dit was veral met sy betrokkenheid by die Raad vir Apostolaat en die Raad vir Kerkregtelike Advies dat hy ’n enorme bydrae gelewer het, onder andere met die opstel van die Kerkorde van 1997.

Van 1996 tot 2004 dien hy eers as hoof van die Hervormde Teologiese Opleiding (HTO) te Hammanskraal en vanaf 2005 tot 2015 as direkteur van die Afrika Instituut vir Missiologie (AIM). Hy was verantwoordelik vir die teologiese opleiding van meer as 100 predikante van die MRCC. Sy bydrae tot die Kerk se sendingwerk is onberekenbaar. Deur die loop van 2016 en 2017 het hy as Koördineerder van Ekumeniese Sake gedien, met die fokus op Reformasie 500.

Van Wyk was redakteur van twee teologiese tydskrifte, te wete Theology and the Church in South Africa (ThaciSA) asook die Tydskrif vir Hervormde Teologie (THT). Die eerste was om kerklike teologie in die MRCC te bevorder, die tweede om kerklike teologie in die NHKA te bevorder. Hy het deur die inrigting van die tydskrifte talle jonger akademici aangemoedig en geïnspireer om te publiseer, veral op die terrein van reformatoriese teologie. Die jaarlikse konferensies wat hy onder die vaandel van die Hervormde Teologiese Kollege aangebied het, het jong akademici die geleentheid gebied om lesings oor Ebeling, Moltmann, Pannenberg en vele ander aktuele temas te lewer.

Natie van Wyk se teologie kan beskryf word as Bybels-reformatories, en meer spesifiek kerklik-evangelies. Dit is opsigtelik dat hy homself nie beperk tot Lutherse óf Calvinistiese teologie nie. Sy teologie is eerder “reformatories” van aard, dus inklusief en genuanseerd. In daardie opsig staan hy in die tradisie van Hervormde teologie in Suid-Afrika, wat getipeer word as “Bybels-reformatoriese teologie” in teenstelling met óf Gereformeerde óf Lutherse teologie. Van Wyk praat self van Bybels-reformatoriese teologie, maar omskryf dit as ’n “evangeliese teologie”. Sy teologie oriënteer aan vier uitgangspunte, te wete die Woord van God, die breë reformatoriese tradisie, die kerk, maar veral die evangeliese aard van die Christelike teologie.

’n Verdere aspek van sy teologiese bydrae is dat dit diensbaar moet wees aan die Afrikaanse kerke en teologie. Met die 500-jarige herdenking van die Kerkhervorming het hy op versoek van die redaksie van die HTS Teologiese Studies as redakteur van ’n supplementum opgetree onder die titel Nadenke oor 500 jaar Reformatoriese teologie. In die inleidende artikel skryf hy: Die 500-jarige jubileum is die ideale geleentheid om ’n bydrae te lewer tot ’n Afrikaanse Luther-resepsie. Hy is een van baie min Afrikaanse teoloë wat homself deurlopend met Lutherse teologie besig hou. Sy artikels oor Luther, Melanchthon, Bultmann, Ebeling en Pannenberg is omvangryk.

In sy skryfwerk is Van Wyk doelbewus ingestel op die ontsluiting van oorspronklike tekste (veral Latyn en Duits) vir die Afrikaanse lesers. Hy het ’n hekel aan teoloë wat nie die moeite doen om oorspronklike tekste te lees nie en net staatmaak op sekondêre bronne. Die wyse waarop Van Wyk die Duitse en Latynse tekste in sy publikasies inkorporeer, is opmerklik. Dit beteken dat (Afrikaanse) lesers die oorspronklike outeur se woorde en gedagtegang kan volg. Dit is nie net Lutherse teoloë wat só ontsluit word nie, maar ook Calvyn, Barth en Moltmann. Van Wyk het deurlopend aandag gegee aan sentrale temas in reformatoriese teologie, insluitend die reformatoriese verstaan van regverdiging, eskatologie, Christelike vryheid en menslike lyding.

Wanneer Van Wyk introspektief en krities reflekteer oor “wie is die teoloog” en “teologiebeoefening in die toekoms“, is dit opmerklik dat hy nogmaals na Luther teruggryp vir opheldering. Hy vind aansluiting by Luther, wat van mening was dat elke gelowige Christenmens ’n teoloog is. Dit is só, omdat die Christelike geloof ook op die menslike rede aanspraak maak en die gelowige Christenmens uitnooi om oor die evangelie na te dink. Die teologie het as einddoel die verkondiging, maar tegelyk ook die hoor en verstaan van die prediking.

Met hierdie enkele marginalia is enkele aspekte van Natie van Wyk se teologie eksemplaries op die tafel geplaas. Sy grootste bydrae is waarskynlik sy vermoë om reformatoriese teologie relevant en kontekstueel in die 21ste eeu aan die woord te stel, nie net in die Afrikaanse kerke nie, maar ook ander kerke wat in Afrika die evangelie verkondig.

(Dr Wim Dreyer is ’n dosent aan UP)

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap