My ma, Nellie, sou op 6 Augustus 2025 100 jaar oud gewees het. Sy is in 1996, op die ouderdom van 71, oorlede. Almal wat haar geken het, sal onthou hoe mense dikwels opgemerk het hoe besonder mooi haar hare was. Dit was iets waarvoor sy bekend was, iets wat deel van haar identiteit geword het. Wat mense egter nooit kon miskyk nie, was hoe rumatoïede artritis haar liggaam – en veral haar hande – stadig maar seker misvorm het.

Die pyn en die misvorming van haar hande het uiteindelik daartoe gelei dat sy haar geliefde hare moes kortknip, omdat sy dit nie meer self kon versorg nie. Haar handwerk, soos borduur- en breiwerk – dinge waarin sy groot vreugde gevind het – moes sy noodgedwonge laat vaar. Tog het sy nooit haar waardigheid of haar liefde vir die lewe verloor nie. Hierdie persoonlike herinneringe het weer by my opgekom toe ek gedurende die Desembervakansie op die Facebook-blad Women in Art gelees het oor die kunstenaar Maud Lewis.

In die klein dorpie Marshalltown in Nova Scotia, Kanada, het ’n buitengewone vrou gewoon wie se lewe en kuns vandag nog mense diep raak. Maud Kathleen Lewis, gebore Dowley op 7 Maart 1903, het tot haar dood op 30 Julie 1970 ’n lewe van groot eenvoud, swaarkry en fisiese beperkinge gelei. Tog het hierdie omstandighede nooit haar kreatiewe gees gedemp nie. Inteendeel, haar kuns het juis uit haar beperkinge gegroei en ’n unieke visuele taal ontwikkel wat steeds aanklank vind.

Van kleins af het Maud met jeugrumatoïede artritis gesukkel – ’n siekte wat haar skouers kromgetrek en haar hande ernstig misvorm het. Hierdie toestand het haar bewegings beperk en haar daaglikse lewe bemoeilik. Op veertienjarige ouderdom moes sy die skool verlaat, deels weens die pyn wat sy daagliks verduur het, maar ook omdat sy dikwels die teiken van spot en onbegrip was. Tog het sy, ondanks hierdie terugslae, nooit toegelaat dat haar gestremdheid haar innerlike wêreld vernietig nie.

Dit is juis hierdie teenstelling – ’n gebroke liggaam en ’n skeppende, kreatiewe gees daarin – wat Maud Lewis se verhaal so aangrypend maak. Vir gelowiges is haar lewe ’n duidelike voorbeeld van hoe God se krag juis in menslike swakheid sigbaar word. Die woorde uit 2 Korintiërs 12: 9 (AFR83), My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is …, vind ’n tasbare uitdrukking in haar lewenspad en kuns.

Na die afsterwe van haar ouers in die 1930’s het Maud vir ’n tyd lank by familielede gewoon. Daar is sy egter ontmoedig om te skilder – iets wat vir haar ’n bron van vreugde en selfuitdrukking was. Haar lewe het ’n wending geneem toe sy ’n advertensie raakgesien het waarin ’n visverkoper, Everett Lewis, iemand gesoek het om huishoudelike werk te verrig. Maud het die lang pad te voet aangedurf om hom te ontmoet, en kort daarna is hulle getroud.

Die egpaar het in ’n baie klein huisie gewoon, sonder elektrisiteit of lopende water. Dit was ’n lewe van uiterste eenvoud, maar ook een waarin Maud se kreatiwiteit vrye teuels gekry het. In hierdie nederige ruimte het sy begin skilder op alles wat sy in die hande kon kry – houtplanke, karton, blikhouers en uiteindelik selfs die mure, deure en meubels van haar huis. Haar huis het ’n kunswerk op sigself geword, ’n plek waar kleur en vreugde die swaar werklikheid verlig het.

Aanvanklik het Maud klein Kerskaartjies geskilder en dit vir ’n paar sent verkoop. Haar styl was eenvoudig, sonder tegniese detail, maar dit was eerlik, opreg en deurtrek van lewensvreugde. Haar skilderye van katte, ossewaens, blomme, voëls en wintertonele getuig van ’n diep waardering vir die alledaagse skoonheid van die skepping. Dit was kuns wat nie wou beïndruk nie, maar wou bemoedig.

Maud Lewis het geen formele kunsopleiding ontvang nie. Haar talent was aangebore en haar styl spontaan. Sy het eenkeer gesê dat solank sy ’n verfkwas in haar hand het, dit goed met haar gaan. Hierdie eenvoudige woorde verklap iets van haar geloof en lewenshouding. Haar fisiese gestremdheid het haar nie verhinder om te skep nie; dit het haar inteendeel gehelp om ’n unieke visuele taal te ontwikkel wat mense se harte raak.

Haar lewe en werk is ’n kragtige bewys dat ’n fisiese gestremdheid nie die teenoorgestelde van kreatiwiteit is nie. Inteendeel, Maud Lewis wys dat beperkinge omskep kan word in ’n nuwe manier van sien – ’n visuele taal wat hoop, eenvoud en vreugde uitstraal.

Teen die middel van die 1960’s het haar werk wyer aandag begin geniet. Haar skilderye het nasionale erkenning ontvang, en mense het van heinde en verre gekom om haar werk te sien en te koop. Alhoewel sy tydens haar leeftyd nooit finansieel voorspoedig was nie, leef haar nalatenskap vandag nog voort. Werke wat sy eens vir ’n paar dollar verkoop het, word nou vir groot bedrae opgeveil, en haar beskilderde huis word bewaar as deel van Kanada se kulturele erfenis.

Vir lesers wat meer oor Maud Lewis se lewe en kuns wil lees, is daar verskeie betroubare bronne beskikbaar. Die Art Gallery of Nova Scotia beskik oor ’n omvattende versameling van haar werk en dokumentasie oor haar lewe. Die Art Canada Institute bied diepgaande biografiese en kunshistoriese insigte, terwyl die rolprent Maudie (2016) haar lewensverhaal op ’n sensitiewe en toeganklike wyse uitbeeld. Boeke soos Our Maud: The Life, Art and Legacy of Maud Lewis deur Ray Cronin bied verdere verdieping vir belangstellendes.

Maud Lewis se lewe herinner ons daaraan dat ware kreatiwiteit nie deur fisiese beperkings gestuit kan word nie. Haar kuns bly ’n stille getuienis van geloof, volharding en die vermoë om lig te bring, selfs in die kleinste en eenvoudigste ruimtes.

(Ds Mariët Robbertze is leraar in Gemeente Kempten)

Maud Lewis

Binnekant van Maud se huis

Binnekant van Maud se huis

Maud en haar man voor hul huis 

Nellie van der Merwe