In ’n lekker warm debat raak ons nou die dag aan die praat oor wat die Kerk alles moet en nie moet doen nie. Gelowiges, almal van ons, raak ons toe sommer lekker warm, warm soos die Laeveld maar is, want ons liefde vir die Here en die Hervormde Kerk is vol passie.
By die “moenies” tel toe togas, kansels, vaste en herhalende liturgieë, die Ou Testament en alle dinge wat dui op formaliteit. By die “moets” is sang (ons sing baie, maar nie uit volle bors nie), en die dominee moet aarde toe kom, want die kinders verstaan nie so lekker nie (maar tog net nie elke Sondag kinderdiens nie asseblief, en om die kinders uit die erediens uit te haal vir ’n kinderdiens elders, is ook nie juis gewens nie).
Uit die dominee se hoek gesien, staan enkele uit.
Die liturgie is elke Sondag anders, met ander Skrifaanhalings as vota, seëngroete en riglyne vir gelowige lewe. Dog, die elemente van die erediens is altyd iewers in die erediens te vind, en skynbaar is dit nog nie genoeg afwisseling nie. Dis die dominee se skuld, besluit die debat; die predikant is immers ook die liturg. Ek wonder toe nou of dit sal help om die elemente van die erediens so in die erediens in te bed dat dit versmelt? Is die voorleser se tyd dan verby? Maar ek is dan so vas oortuig dat meer stemme in die erediens hoort as net dié van dominees. En ouderlinge se opsig oor ons almal se leer en lewe kom so goed tot uitdrukking as hulle ons lei in lof aan God, in hoe ons gelowig lewe, en ons begelei in ons skuld- en geloofsbelydenis!
Ek wonder of ons dalk net nie genoeg aandag skenk aan die eredienselemente wat die ouderling lei nie? Dit is waar dat nie alle voorlesers na openbare redevoerders klink nie, en soms gaan die verband tussen die ouderling se voorlesing en die res van die erediens in die proses verlore (ek skryf inleidings en oorgange tussen die elemente wat daardie verbande moet lê, maar dit slaag duidelik nie). Is dit genoeg rede om die rol van ouderlinge uit die erediens uit te haal? Of moet voorlesers net hul leeswerk beter gaan voorberei? Hulle kry dit immers minstens ’n dag vooruit.
Dog, lidmate moet ook leer om deurdag aan die erediens deel te neem. Ek het op ’n dag gevra vroue moet ook vir ’n spesifieke gebed opstaan. Hulle het. Deesdae kondig ek aan dat manne en vroue die gebedshouding moet inneem wat hulle pas, en heelparty vroue staan gereeld op, sommige mans bly soms sit.
Ons sing! Ons sing elke Sondag tot 12 liedere. Daar is oues en nuwes, Psalms, Gesange en VONKK, en – so het ek belowe om te maak – net ’n derde van die liedere is “relatief onbekendes”, of “nuwes”, die res behoort altyd maklik te wees om mee saam te sing. Hulle kla goediglik al hier hulle sing die Liedboek en VONKK-versameling te vinnig deur. Helaas, vir te lank is sang in aanbidding afgeskeep en te veel van die kerkliedere voel vir te veel lidmate “onbekend”. Maar is dit al rede vir waarom ons nog stom staan as ons moet sing, selfs die “vuil Psalms en Gesange”? Is dit dalk ons gewone inkennigheid met geloof wat keer dat ons heelhartig deelneem? Wel, weet dan dat sulke terughouding ook ander inhibeer, en eindelik laat twyfel oor ons erns met aanbidding in die erediens. Sing asseblief! Maak jy ten minste net ’n geraas, want teen die tyd dat die Here jou hoor, sing engele saam, en vermoed ek, klink dit vir God goed.
Wat hierdie dominee die meeste omkrap? Dat die kinders nie meer kan kleinkry wat in die erediens aangaan nie. Ek werk reeds daaraan, maar o wee, met kinderdienste is ek nie op my gemak nie, en daarom seker ook nie bedrewe nie, en op 62 dink ek tel my ouderdom ook al teen my. Maar wat ek wel besluit het om te doen, is ek vertel weer, van die kansel af, en van voor af, die ou Bybelstories, en ek doen my bes om die verhaal van God en mense, soos die Bybel dit wil hê, logies agtermekaar te sit. Nee, ek gaan nie ophou om uit die Ou Testament te preek nie. En ek reken daarop dat die evangelie nie te moeilik is om te snap nie, want naby ons is die woord, nie iewers ’n paar vlakke hemel toe op nie. Ek loof ook die Here dat die evangelie vir eenvoudiges soos ons, maklik te verstaan is, en nie groot geleerdheid verg nie.
Ek bly glo die Heilige Gees laat die Woord gehoor word. Maar nou dink ek mos ook ons mag maar self meer moeite doen, en ons kinders die Bybel leer. Die kinders kom nie kerk toe nie en die kategese is afgeskaf; moet ek aflei dat ouers hul kinders tuis genoegsaam in geloofsgoed onderrig? Dan is ek bevrees verstaan ek nie die tragiese gebrek by katkisante aan basiese kennis van die Bybel nie. Van die Ou Testament weet hulle byna niks (dalk lees hulle en hul ouers lankal nie meer uit die Ou Testament nie, met die idee wat nou posvat dat vir geloof in Jesus, die Ou Testament net nie meer ter sake is nie?).
Die kategeseboek waarmee ek grootgeword het, Geloofsleer, het my geleer geloof is “kennis en vertroue”, en dat die een nie sonder die ander kan nie. As ons kennis kortkom, moet daar dan mos met ons geloof ook iets skort?
Durf ek vra of gebrek aan geloof die Kerk laat kwyn? Dan gaan die kosmetiese verstellings aan formele eredienste, afskaffing van ouderlinge, preke uit die banke uit, pleks van van kansels af, nuwe gospelgenres wat geykte (selfs VONKK?) kerkmusiek vervang, en kerk- en kanseldrag nie die gety laat draai nie. (Trouens, ander kerke is al hierby verby, en beleef nou ook agteruitgang.)
Ek besef ons almal wat dit nog met die Kerk goed bedoel, wil vingers in die dyk druk om die see te probeer keer. Ek het oneindige agting daarvoor, en ek waardeer die passie wat dit ontlok as ons hieroor praat. Maar ons plak eintlik nog net pleisters op simptome. Dit gaan meer verg as ’n potjie gesigroom om die dyk te stop of die Kerk aantrekliker te maak.
Dalk verg dit eerliker selfondersoek. Want miskien, wie weet, lê die fout nog by ons; erger nog, by ons geloof?
Kom ons praat hieroor. Kom ons hoor mekaar.
Kom ons praat prontuit. Kom ons luister fyn, sonder kleinserigheid.
En kom ons maak die verstellings wat sal saakmaak.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)
Baie dankie vd insiggewende leesstof. Eks te dankbaar om nog n erediens te mag en kan bywoon. Ja ek persoonlik hou nie van veranderinge in die gang vd ere diens nie. Ek hou baie vd die sang….
Kan iemand net vir my se die VONK waar uit ons soms sing waarkom dit vandaan en waar kan ons dit kry, asb.
Ina, gaan gooi gerus ‘n draai by Bybelmedia se webwerf. Hulle het daar reeds 3 volumes VONKK-liedere op CD beskikbaar wat jy sou kon koop. Maar om meer te wete te kom van VONKK liedere se herkoms, googleloer net VONKK vir sommer baie inligting wat op die komitee van VONKK se webwerf te lese is.
Ek kan nie verstaan dat ons die Vonkk liedere moet sing nie.
Ons Liedboek van die Kerk het sulke pragtige mooi liedere wat so Lekker sing
Francois, die erediens is n gesprek met God. Liedere verwoord ons gesamentlike antwoord op wat God in die erediens vir ons sê. Ons almal weet hoe frustrerend dit is as iemand net “Ja” of “Nee” antwoord as jy ‘n gesprek aan die gang probeer hou. Ons het taal en woordeskat nodig om bevredigend met God in gesprek te kan bly. Dit is wat kerkliedere bedoel is om te wees. Daarvoor sal daar seker nooit genoeg liedere wees nie.
Daarbenewens, VONKK-liedere is veel meer gefokus op “persoonlike” response as die Gesange wat oor die algemeen meer gemik is daarop om teologiese waarheid vas te lê. In dié opsig is VONKK nader aan die Psalms, dink ek. Daar is ruimte vir aldrie.
Onthou ook maar dat die Gesange in ons Liedboek ook eens nuut was, en geliefd geword het, net soos enige popliedjie wat vir jou mooi raak eers as jy dit herhaaldemale gehoor het. Byt n bietjie vas en doen moeite met VONKK. Die erediens is immers diens aan God en nie bedoel vir gedien te word nie. Erediens is werk!
Inderdaad, uiteindelik ‘n STEM ROEPENDE in die woestyn !!!
Ds Hennie,
Dis wonderlik dat julle gepraat het, openhartig en prontuit.
Jou gedagtes tref diep en maak dit duidelik dat ‘kosmetiese’ verandering (dikwels net ter wille van verandering’) gaan nie ons eredienste “beter” maak nie. Nie as so baie van die mense t.w.v. wie die veranderinge gemaak word, nie daar is om dit te beleef nie. Dankie vir die stimulerende artikel.
Tereg, die sterkste aspek wat moet aandag kry, is ons almal se geloof – geloofskennis en geloofsvertroue. Begin by die kategese en die kleingoed.