Na aanleiding van die tragedie wat hom op 1 Februarie by Hoërskool Driehoek afgespeel het, het die redaksie dr Wimpie van Schoor van Primrose-Oos gevra om te skryf oor die gevoelens van ’n ouer wat ’n kind verloor het. Hy het hierdie teks geskryf presies een jaar na die dood van sy dogter, Janika.

Ek wil nie hoor dat ek jou eendag in die volgende lewe gaan sien nie. Ek wil nie ’n leeftyd wag om jou weer te sien nie. Ek wil jou vandag sien. Nou.

Ek wil nie hoor dat ek herinneringe het om te koester nie. Ek wil nie herinneringe hê nie. Ek wil herinneringe met jou máák.

Ek wil nie hoor dat tyd genees nie. Tyd is nie ’n pleister nie. Tyd sal nooit die leë plek wat ek my hart noem, genees nie.

Ek wil nie hoor dat alles met ’n rede gebeur nie. Ek kan aan géén rede dink nie. Die brutale vernietigingstog van kanker in ’n tienerlyf is redeloos.

Ek wil nie hoor dat ek sterker anderkant sal uitkom nie. Ek gaan nie. Eenvoudig. Ek is ’n dop wat voortstrompel. ’n Dop van te veel woede, te veel hartseer, te veel verlange.

Ek wil nie hoor jy het darem ander kinders nie. Daar is nie ’n silwer randjie aan jou dood nie. Ek was nie bereid om eers één te laat gaan nie.

Ek wil nie hoor jy moet die pad loop nie. Die pad is nie een van wanhoop nie. Dit is een van leeg. ’n Donker leeg. ’n Diep leeg. ’n Warboel leeg. ’n Groot leeg. ’n Stil leeg. ’n Leeg sonder ’n aardse einde.

Ek wil nie hoor God het sy mooiste blom gepluk nie. Geplukte blomme is dood-in-wording. Ek wil jou in my tuin hê.

Ek wil nie hoor dat jy nou by God is nie… veilig in sy arms… ’n engel in die hemel. Ek gee nie om waar hulle sê jy is nie. Ek wil jou hier hê. Hier. Hier by my. Ek wil jou sien, jou aanraak, jou hoor, met jou praat en sommer net in stilte saam met jou sit. Dit maak niks beter om te hoor dat jy in die hemel is nie.

Ek wil nie hoor dat jy altyd by my is nie of dat jy afkyk na my nie. Ek kan nie die onsienbare sien nie. Ek wil jou nie hê as my beskermengel nie. Ek wil jou van aangesig tot aangesig hê. Ek wil jou asemhaling sien en jou hartklop hoor.

Ek wil nie hoor die lewe moet aangaan nie. Die lewe sonder jou… ek wil nie hoor dat ek moet sterk wees nie. Ek wil nie trane hê nie. Die pyn is ondraaglik. Soms kan ek skaars asemhaal.

Ek wil nie ’n rede hê om te treur nie. Ek wil nie worstel met die pyngedagte nie.

Pappa

Share via
Copy link
Powered by Social Snap