Daar het ’n hele tyd terug ’n redelike groot swerm bye in ons kerk se dak ingetrek. Hulle het nooit enigiemand gepla nie, tot ons nuwe sekuriteitsligte aan ons kerk wou aanbring. Die struktuur van die dak maak dit baie moeilik om by die bye uit te kom om hulle veilig te verwyder sonder om hulle dood te maak. 

Soos ons na die dak staan en kyk en probeer om aan ’n plan te dink, maak iemand die opmerking: Ag Dominee, doop en katkiseer hulle net, dan sal jy hulle nooit weer sien nie. Die persoon verwys natuurlik na die storie van die voëls wat in die kloktoring ingetrek het en net nie wou trek nie. Daar word toe die opmerking gemaak dat hulle net gedoop en gekatkiseer moet word, dan sal hulle nooit weer gesien word nie. Ek het vir ’n oomblik gestaan en so half saam gelag, tot ek mooi die ironie agter daardie opmerking besef het.

Keer op keer gebeur dit dat mense redelik getrou kerk toe kom voordat daardie kindjie gedoop word, en ná die doopgeleentheid verdwyn hulle soos mis voor die son. Dit is iets waarvan elkeen van ons al gehoor het of dit self beleef het. Dit is een van die verskynsels in die kerk wat ek nog nooit kon verklaar nie en sekerlik ook een van die hartseerstes.

Hierdie opmerking oor die doop van die bye word gemaak tussen twee uiteenlopende doopgeleenthede. Net ’n week of wat voor die tyd is daar ’n babaseuntjie gedoop. Daardie Sondag het ons ’n nuwe lidmaat in ons gemeente verwelkom, en die Woensdagaand klim daardie selfde seuntjie saam met sy gesin op ’n vliegtuig na Nieu-Seeland op soek na ’n nuwe begin. Dan word die opmerking gemaak in die week voor ek twee dogtertjies moet doop, en dit pla my die res van die week.

So betree ek Sondagoggend die kerkterrein amper met ’n swaarmoedige hart in plaas van ’n hart vol vreugde vir die enkelma wat haar doopbeloftes kan aflê en die kinders wat die voorreg het om gedoop te kan word. Ek is bekommerd. Gaan hierdie gesin dieselfde pad loop as van die ander voor hulle? Is hierdie doop ook maar net ’n gewoonte? Gaan ons  hulle weer ná die tyd sien?

En ek klim nog met van daardie bekommernisse op die preekstoel. Maar toe kom die formulier en daar staan ’n jong enkelma voor die preekstoel en luister. En die ma luister soos ek nog niemand voor haar sien luister het nie. En sy antwoord met ’n kragtige ja op daardie doopbelofte. Net daarna, terwyl die gemeente sing Jesus roep die kindertjies; moet hul nie verhinder nie (Gesang 294), stap die twee mooiste laerskooldogtertjies in die mooiste rokkies vorentoe met glimlagte van oor tot oor. Ek het daar voor in die kerk mooi aan hulle verduidelik wat ek gaan doen en hulle was net te gretig om gedoop te word. Na die doop staan die trotse twee langs my soos ek hulle aan die gemeente voorstel, en ek kan amper ’n opwinding voel wat uit hulle straal. 

Ek het so na die gemeente gekyk, na al die mense wat trane van hul wange gevee het.  Daar was trane van verlange na kinders wat oorsee bly en amper nooit gesien word nie, trane van bekommernis omdat hul eie kinders deur moeilike tye gaan, en trane van blydskap oor hul eie doop en die wete dat daardie verbond ook met hulle gesluit is. En soos ek na die mense kyk, het daar sommer ’n knop in my keel gevorm.

Dit het my so ’n bietjie hoop gegee. Ja, daar is steeds die bekommernis oor die feit dat mense uit die kerk verdwyn nadat hul kinders gedoop word, maar daar is tog ook so ’n bietjie hoop. Hoop dat mense se enigste troos in lewe en dood nog is dat hulle aan Jesus Christus behoort. Hoop dat die doop nog iets beteken en dat die doop lewens kan verander. 

So twee Sondae na die twee meisiekinders se doop vra ek vir hulle hoe hulle daaroor voel dat hulle nou gedoop is, en weer eens word my vraag beantwoord met die twee mooiste glimlagte – en dit was vir my antwoord genoeg.

Neels Jackson het die verandering wat die doop vir die mens kan inhou baie mooi verwoord in sy gedig Martin vat aan sy voorkop:

Martin vat aan sy voorkop
as dit blitse in sy borskas slaan
en die klipkerk se mure te dun is
om die kommer na buite te ban.

Martin vat aan sy voorkop
asof hy die doopwater nog kan voel,
die koel lafenis van God se genade
wat oor sy babagesiggie spoel.

Martin vat aan sy voorkop
asof sy oumansvingers wil vat
aan die oeroue beloftes van God
wat met die water oor hom spat.

Martin Luther vat aan sy voorkop
en hy voel hoe sy hart bedaar.

As elkeen van ons leef soos gedooptes, soos hulle wie se sondes deur die bloed van Christus afgewas is, sal die wêreld ’n beter plek wees. Sal ons die wêreld kan verander. As ons ook so nou en dan aan ons voorkoppe vat, weer die koel lafenis van God se genade ervaar en onthou, sal ook ons harte bedaar en glimlagte ons gesigte verhelder.

My enigste troos in lewe en dood
is dat ek aan Jesus Christus behoort.
Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop –
dis my anker, my vaste hoop.
(Gesang 292)

af
af
Deel met behulp van
Copy link