Elke jaar op 8 Desember was een van die eerste oproepe wat ek maak, ’n oproep na my vriend en kollega Theuns Dreyer. Dit is sy verjaardag.
Verlede jaar is hy skielik nie meer daar nie. Die hartseer is groot. Ek dink aan ons vriendskap sedert 1970. Ek dink aan ons saamwerk as predikante in die Kerk – veral 1970, die jaar toe ons saam predikante was in Newlands, Johannesburg.
Ek dink aan baie studiestukke, kursusse en memoranda waaraan ons saam gewerk het. Ek dink veral aan die jare toe ons saam Praktiese Teologie doseer het aan die Teologiese Fakulteit Afdeling A van die Hervormde Kerk, aan die Universiteit van Pretoria.
In die meeste teologiese fakulteite wêreldwyd is daar ses teologiese vakke/afdelings. In ons Kerk was daar vir baie jare net vyf afdelings. Praktiese Teologie is deur ons Kerk destyds nie gereken as ’n teologiese wetenskap nie. Sommige gedeeltes daarvan is daarom sommer deur die ander teologiese afdelings gedoseer. So, onder andere, is Homiletiek (preekkunde) deur die dosente van Ou en Nuwe Testament gedoseer. Liturgie is deur die dosent in Dogmatiek gedoseer. Sover ek onthou, was dit al. Van onderrig in Pastoraat en Kategetiek was daar nie sprake nie.
Praktiese Teologie het eers sy regmatige plek by ons Teologiese Fakulteit gekry met die aanstelling van prof JI de Wet as dosent in Praktiese Teologie in 1968. My jaargroep (afgestudeer in 1965) was die eerste groep in die Kerk wat drie jaar lank in Praktiese Teologie onderrig ontvang het. Dit het bestaan uit Homiletiek, Kategetiek, Liturgiek en Poimeniek (Pastorale Teologie).

Prof De Wet het groot klem gelê op die feit dat Praktiese Teologie teologiese wetenskap is en dat elke afdeling daarom gegrond moet wees op Bybelse vertrekpunte. Dit het onder meer meegebring dat ons jaarlikse aantekening in elke afdeling baie dun was. Dit het net gehandel oor die prinsipiële. Meer as dit is nie as nodig geag nie. Aan die praktiese inkleding is nie eintlik aandag gegee nie.
Prof De Wet is skielik in 1983 oorlede. Die Fakulteit het my en Theuns Dreyer, twee jongelinge, gevra om Praktiese Teologie se klasse waar te neem. In daardie stadium het ons albei reeds gepromoveer in Praktiese Teologie – hy in Homiletiek en ek in Kategetiek. Theuns het Homiletiek en Poimeniek gedoseer, ek Kategetiek en Liturgiek. Ons het ooreengekom dat, na die vulling van die pos in Praktiese Teologie, die ander een, vanweë die wye omvang van die vak, sou voortgaan met dit wat hy aanbied.
Prof Theuns word in 1983 aangestel as hoof van die Departement Praktiese Teologie. Ons elkeen gaan voort met ons dosering soos voor sy aanstelling. Mettertyd het hy Evangelistiek by sy opgaaf gevoeg en ek Jeugbediening en Kubernetiek (Kerkbestuur).
In 1989 word ek benoem as hoogleraar in die Departement Praktiese Teologie met die besondere opdrag praktykopleiding van die Kerk se teologiestudente. Vir die praktykopleiding het ons saam die beplanning en die implementering gedoen. Met kantore langs mekaar en koppe en harte wat dieselfde dink en voel, het hy voortgegaan om leiding te gee in die Departement Praktiese Teologie, en ek met die praktykopleiding en oriëntering van vierdejaarstudente voordat hulle met teologie begin. Kundige predikante en leiersfigure op verskillende terreine is benut om die teologiestudente so ver moontlik kundig en vaardig te maak rakende kerklike en gemeentelike praktyke. Gemeentes is ook geïdentifiseer waar die studente praktiese werk saam met die plaaslike predikant moes gaan verrig.
Gedurende hierdie tyd het ons vanuit die Departement Praktiese Teologie ’n leidende rol gespeel met die VTT (Voortgaande Teologiese Toerusting).
Teologies, veral prakties-teologies, was ek en Theuns geesgenote. Ons het vasgehou aan die reformatoriese teologie. Ons was oortuig dat Praktiese Teologie ’n teologiese wetenskap is, maar dat elke afdeling daarvan nie noodwendig op die Bybel gegrond hoef te wees nie. Ons het geglo dat die onderskeie vakke of bedieninge slegs draers, hulpmiddele is om die boodskap van die Bybel by mense uit te bring. In ’n stadium het ons tot die besef gekom dat daar baie (toe genoem) hulpwetenskappe is wat ons kon benut om die Bybelse boodskap beter tuis te bring, byvoorbeeld Sielkunde, Opvoedkunde, Didaktiek en meer. Na kwaai vermanings deur veral die Departement Opvoedkunde het ons opgehou om van vakke buite die teologie te praat as hulpwetenskappe. Ons het hulle ten volle aanvaar en benut as volwaardige wetenskappe wat die teologie kon ondersteun.
Saam was ons betrokke by die totstandkoming van die Werkgemeenskap Praktiese Teologie in Suid-Afrika. Saam met die NG Kerk, Gereformeerde Kerke en Apostoliese Geloofsending se opleiding in Praktiese Teologie en die SAUK het ons predikante toegerus vir die uitsending van eredienste oor die radio en op televisie. Saam met die destydse Randse Afrikaanse Universiteit het ons jaarliks kategetekursusse vir lidmate aangebied.
Praktiese Teologie en praktykopleiding het hand aan hand geloop tot in die jaar 2000 toe die teologiese fakulteite van die Hervormde Kerk en die NG Kerk een geword het. Vanweë rasionalisering en die vermindering van dosente was ek een van dié wat moes aftree. In daardie stadium het die Hervormde Teologiese Kollege met prof Dreyer as hoof tot stand gekom. In feite was die HTK die voortsetting van die reeds bestaande praktykopleiding. Ek het die voorreg gehad om saam met prof Dreyer in die Kollege te doseer tot my emeritering in 2006.
Daarna het ek in verskeie gemeentes in Suid-Afrika en in Zambië gewerk as brugpredikant. Hy was nog by die Fakulteit en later werksaam in Montana en Rustenburg. Ons vriendskap het egter gebly. Feitlik elke maand het ons ontmoet en steeds was ons harte en ons koppe by die Kerk en die Praktiese Teologie. Groot was ons huisgesin se smart met die afsterwe van sy vrou. Feitlik troosteloos met sy skielike heengaan. ’n Vriend, kollega, gespreksgenoot, vakgenoot was skielik nie meer daar nie…
(Prof Bieks Beukes is ’n emerituspredikant van die Kerk)