In Brittanje was ek in die beheerraad van ’n liefdadigheidsorganisasie. Dié ding het sy eie moeilikheid gehad: Dit moes alles vir almal probeer wees en was op die ou end toe nie veel vir enigeen werd nie. Maar dit is lewend gehou want dit was die politiek korrekte ding om te doen: Dit moes die industrie waaraan dit gekoppel was, goed laat lyk. Die industrie wou hê dit moes lyk of hulle regtig omgee, selfs al hang die onderrok toe uit, want daarvoor kon die kerk die skuld kry, want die kerk het goedgelowig wou help. Self het die organisasie niks vermag nie, en daardie niks het duur gekos. Baie duur, soos in vyfsterhotel-wêreldkonferensies-duur. Maar ons weet mos ook nou al in die wêreld is dit nie van belang wát ons doen nie, net hoe ons lyk.
Op ’n dag bereik dié einste organisasie toe ’n rare mylpaal, in jare van bestaan, nie in prestasie nie. Vir die viering word ’n vorige voorsitter, ’n stoere oue in die bedryf, as geleentheidspreker genooi. Foutjie. Die oom ruk toe mos daar van die podium af ’n ou agenda uit die argiewe uit, ’n regte egte sakelys vir ’n jaarvergadering van 40 jaar vroeër. Hy lees voor: Presies dieselfde sake as waarvoor die organisasie daardie einste week 40 jaar later weer byeen is. By implikasie: In die 40 jaar is daar nog nie hond haaraf gemaak nie. Hy probeer dit toe nog goedpraat, so asof dit getuig van hardnekkige aanhouer-wen-gesindheid. Maar die boodskap wat die industrie sou bereik, moes gou gespin word – wat gaan van ons in die organisasie word? – want daar ís werklik niks bereik nie en bitter min vordering gemaak; dié oefening het geen nut nie!
Ek onthou toe ek 40 jaar gelede predikant geword het, dat ons in die Kerk erg besorg was oor bediening aan die jeug. Hierdie jaar, toe ons opnuut weer grondig oor die gemeente se bediening besin, is die jeug toe weer vir party prioriteit, ten spyte daarvan dat wat ons nou al 40 jaar lank probeer regkry, nog nooit geslaag het nie: om jongmense weer van die Hervormde Kerk te laat hou. Pleks daarvan, blyk dit dat ons gemeente nou ’n versameling oumense is, van gemiddeld 60 jaar oud.
En hierdie sestigers wil almal hê die jongmense moet terugkom, maar duld nie een die ritmiese kerkmusiek en pik-pik aan Bybeltekste hier en daar wat eie is aan preke wat elders gewild is nie. Nee, ons duld nie wanorde nie, ook nie emosionele opwelling, histerie of oppervlakkige goedvoelstories nie. Ons wil ook nie gewoond raak aan aanlyn inskakel vir erediens nie. Nee, ons hou nie van te veel sang in die erediens nie, nie van praise and worship voor die preek nie, en ook nie van te veel liedere wat in die liturgie saampraat en meer as ’n uur van kosbare gesinstyd op ’n Sondag eis nie.
Jongmense sê weer hulle verstaan nie meer wat ons preek nie. Dit lyk of hulle beter sal snap as ons net almal op Engels wil kerk. En te oordeel aan hoe goed hulle die Bybel of die Kerk se kategesemateriaal by belydenis van geloof verstaan het, of hoe hulle na belydenis in gebreke bly om daarmee erns te maak, kan jy ook verstaan dat hulle die prediking wat sondaars tot bekering en geloof oproep, vermy. Oor sonde moet jy nie meer met die jonges praat nie, soos met die charismate ook maar; om hulle van sonde te beskuldig, is erg beledigend, en dat húlle vergifnis moet vra, en self meer verdraagsaam moet wees, en inskiklik, is nie van toepassing op ’n ouderdomsgroep wat net wil hoor hoe oulik hulle is, hoe goed hulle alles agtermekaar het en hoe die wêreld moet neerbuig om hulle te dien nie. Ons het die “Gees”, ja, man, ja! Hulle weet dit want hulle is sterk en bemagtig, en dring aan op aanprysing (affirmation) en die lof wat hulle verdien in ruil daarvoor dat hul geslag so buitengewoon eg is en sonder die skynheiligheid wat elke vorige geslag gelowiges, insluitend hul ouers, vergif.
En ons? Wel, ons probeer verbete verstaan wat millenniërs dink hulle beter as ons van die lewe weet, sodat ons hulle tog maar net, ten alle koste, by ons Kerk kan laat tuiskom. Hoekom? Want ons wil tog so graag hê ons kinders moet, soos ons, net darem glo.
Ons is, vir die duur van my bediening ten minste, by hierdie impasse.
So baie het in hierdie 40 jaar verander, en die jeug hou gewoon vol dit is nog nie genoeg nie, die Hervormde Kerk is nog nie lekker nie. Die druk is op die Kerk om te verander, nie meer op lidmate van die Kerk om hulle te bekeer nie.
Is daar fout mee dat die Kerk hervorm? Maar natuurlik nie! Ons moet aanhoudend hervorm, dié dat ons oor beheptheid met die afgelope 40 jaar se sakelys begin twyfel. Ons kan nie langer aan die verkeerde kant van die Jordaan sit en droom van ’n Beloofde Land nie. Toe was dit die voorgeslagte wat in die woestyn agtergelaat is, hul kinders wat die Beloofde Land in sou swem as dit moes. Nou is dit ons oues wat Jordaan toe aanstap in die wete meer as net ons voete mag dalk nat word; ons mag selfs verdrink. Maar as die Here ons nou droogvoets of spartelend hier wil laat deurkom, dit is nou die tyd om die diepwater van die Jordaan aan te durf.
Een mens, net een van ons lidmate, het in die besinning oor ons gemeente se bediening vorendag gekom met dié insig: As ons ’n gemeente van sestigers is, kom ons neem eienaarskap daarvan; kom ons wees dit met oorgawe. Kom ons gaan soek mense, oumense – of seniors as ons dan meer respekvol wil wees jeens die geslag wat die Hervormde Kerk tot hiertoe gebring het. Kom ons gaan haal dalk mense van elders wat ook al lank in die tand is, al orals gaan draai het en tot die gevolgtrekking gekom het net die suiwere evangelie, nugter verkondig en eerlik bedien, eg ontvang en eerbiedig gehoorsaam, maak sin en is wat ons nou soek.
Ons het nie meer ooghare vir foefies en truuks nie, vir die verbeelde waarde van motiveringspraatjies nie, vir wettiese sedelessies en ekstatiese belewenisse nie. Ons soek Christus wat, helaas, elders nog begrawe lê onder wat mense hier en nou tydelik laat goed voel. Ons soek na die ware Christus wat tot nou toe moes tweede viool speel. Jesus Christus kom laaste teen alles anders wat mense so lekker aanpraat om oor hul eie lewens self beheer te neem, te wen en wins te maak; Jesus Christus kom op sy beste tweede teen alles waarvan mense deesdae nou so doodseker is, wat hulle kragdadig en voorspoedig laat leef.
Nee, ons gaan nie meer by die ou agenda van 40 jaar gelede hou nie. Ons 40 jaar lange woestyntog wat getuig van mislukking en ongeluk met jeugbediening, noop ons nou om van agenda te verander. Met die wa die afgelope 40 jaar al steeks vasgeval in die drif, gaan ons nou doodgewoon kerk wees met en vir die mense wat ons reeds het, dié wat die Heilige Gees oor ons pad gestuur en aan ons sorg toevertrou het. Aan hulle gaan ons die Here Jesus Christus bedien, die een en enigste Here en evangelie. Ons gaan daar niks van afwater nie, ons gaan ook nie van God toertjies verwag om ons te vermaak nie. Ons sal ons harte insit in kerkwees soos die Here dit wil.
Dit impliseer ons sal ons alles gee om alle mense, veral ons eie kinders, by ons te laat tuiskom. Ons sal verbete dien en vier, onderrig en getuig met alles wat ons oorhet, want ons besef wat op die spel is, én hoe God verwag ons vir almal om ons aanspreeklikheid moet aanvaar. As ons kinders op die spel is, is dit tog nie moeite nie. Maar ons kan ook net so ver agteroorleun voor ons kantel.
Ons het op die harde manier geleer ons kan nie vir almal alles wees nie; buitendien, Christus is dit reeds, ons hoef nie. Maar mense maak saak. Alle mense maak saak. Want God gee vir mense om. Vir die jeug, maar ook vir ons wat die sestigs getref het.
En as dit dan die Here behaag dat ons gemeente dit nie meer lank uithou nie want die jeug is weg, en God dink regtig ons oues se tyd is uitgedien, sal ons vir die Here brand tot in die blaker.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Uitstekend geskryf Hennie
Ek wil ten volle met die skrywer saamstem. Vir te lank probeer die kerk om agteroor te buig om lidmate, of hulle nou oud of jonk is, se wense te vervul.
Die kwessie rondom TUG is maar een voorbeeld van so ‘n geval. TUG word tersyde gestel om tog nie gemeentelede aanstoot te gee, sodat hulle die kerk verlaat nie. Die verskoning dat ons in ‘n lewende gemeenskap leef wat aanhoudend “vernuwe”, word gebruik om ons gemeentelike plig af te water. As goeie voorbeeld is lidmate se volgehoue afwesigheid by eredienste. Sommige lidmate woon al vir jare nie meer eredienste by nie.
Die gemeente van Christus is beslis nie iets waaraan daar net deelgeneem kan word wanneer dit ons as mense pas nie.
In 2 Timoteus word duidelik vir ons gesê:
Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering.
Wat geskryf is en die kommentaar daarop is alles in die kol. Dankie en sterkte vir elke gemeente, predikant en Kerkraad wat hierdie probleem probeer oplos. Uiteindelik is elke individuele poging deel van die hele Kerk se werk en ons verantwoordelikheid vir elkeen aan wie ons wil sê : Alleen deur Jesus Christus word ons waardig gemaak om lid te wees van die liggaam van Christus tot in die Ewige Lewe.
Natuurlik is ds. La Grange in die kol, soos altyd. Ek sien altyd daarna uit om ‘n nuwe mening van ds. Hennie te lees.
Dit is reg, ja, die kerk kan nie aan die wêreld gelyk word nie, want die wêreld is sondig net soos ek.
Maar ek merk op dat die vorige kommentare net fokus op sekere aspekte van ds. La Grange se mening en die fyn nuanses waarmee hy so goed is, ignoreer. Die Hervormde Kerk is in die moeilikheid en daar is onder andere kommer oor toekomstige predikante, waarom? Daar is ook sekere mense in die Kerk wat bang is hulle skaduwee sal nie mooi lyk nie, as hulle maar net effens vorentoe of agteroor buig.
Nee ek dupliseer nie met my kommentaar nie, lees maar. Natuurlik is ds. La Grange in die kol soos altyd. Ek sien altyd daarna uit om ‘n nuwe mening van ds. Hennie te lees.
Dit is reg, ja, die kerk kan nie aan die wêreld gelyk word nie, want die wêreld is sondig, net soos ek.
Maar ek merk op dat die vorige kommentare net fokus op sekere aspekte van ds. La Grange se mening en die fyn nuanses waarmee hy so goed is, ignoreer. Die Hervormde Kerk is in die moeilikheid en daar is onder andere kommer oor toekomstige predikante; waarom?
Daar is ook sekere mense in die Kerk wat bang is hulle skaduwee sal nie mooi lyk nie, as hulle maar net effens vorentoe of agtertoor buig.