Die fundamentele veronderstelling is dat die kerk van Jesus Christus een moet wees. Volgens die Nuwe Testament kan daar net een liggaam van Christus wees, een bruid, een huishouding van die Vader, een tempel van die Heilige Gees.

Hierdie is slegs enkele van vele metafore om eenheid te beskryf. Dit is nie die bedoeling dat Christus verskeie liggame, verskeie bruide, verskeie tempels moet wees en dat die Vader verskeie huishoudings sal hê nie. Jesus bid dat daar een kudde en een herder sal wees (Joh 10: 16). Paulus vra of Christus dan in stukke verdeel is (1 Kor 1: 13). Hy moedig Jesus se volgelinge aan om die eenheid wat die Gees bewerk met die band van vrede te bewaar – een liggaam en een Gees … een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal (Ef 4: 3-6). In Johannes 17: 21 bid Jesus: …dat almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, en dat hulle ook in Ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

Hierdie norm wat die Nuwe Testament stel, is ’n absolute ideaal. Wat ons daarteenoor waarneem, is die verskeurdheid wat in die kerk heers. Daar heers dikwels soveel spanning en vyandskap tussen denominasies. Die teoloog Adrio König stel dit sterk: Ons probeer mekaar vlieë afvang, en bewys dat ons die suiwerste is. Dit wil nie sê dat ons almal eenders moet wees nie. Die liggaamsmodel maak dit moontlik om ’n verskeidenheid te akkommodeer, maar as die sondige natuur oorweldig, geld Paulus se verwyt: Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie (Gal 5: 15).

Die kerkskeuring, na die besluit oor apartheid waar die NHKA sy teologiese regverdiging van apartheid bely het, het sedert die Buitengewone Algemene Kerkvergadering van 2011 begin voltrek, en ’n verskeurdheid en versplintering tot gevolg gehad, nie net tussen die NHKA en die wegbreekgemeentes nie, maar ook in sommige families wat verskeurd gelaat is. Die eertydse (brose) eenheid was aan flarde. Die litigasieproses, soos elders in hierdie uitgawe bespreek, het meer as tien jaar geduur. Die proses is telkemale op regsgronde vertraag, maar uiteindelik het die hofverrigtinge in Januarie vanjaar ’n aanvang geneem.

Die uitspraak van 7 Maart 2022 was nie in die NHKA se guns nie. Die dekade lange litigasiestryd het tot stilstand geknars en die teleurstelling was groot. Pas na die nuus gebreek het, het die Kommissie van die AKV hul gewone vergadering van 9 tot 11 Maart gehou en besluit om eerder ’n buitengewone vergadering vir 25 Maart 2022 te belê waartydens ’n besluit oor ’n moontlike appèl al dan nie geneem sal word. Tydens hierdie vergadering het die Kommissie skrywes vanuit die Kerk onder oë gehad en het die Litigasiekomitee ons van advies bedien.

Een van die ouderlinglede het met die aanvang van die buitengewone vergadering opgemerk dat hierdie vergadering een van die moeilikste vergaderings in sy termyn is. Dit was inderdaad ’n beslissende moment waarin soveel dinge oorweeg moes word. Een van die primêre vrae het gewentel rondom hoekom die NHKA sou wou appelleer. Gaan dit oor die terugwen van bates? Is dit omdat daar ’n gevoel in die Kerk is dat geregtigheid nie geskied het nie? Moet ons nie alles net los en aangaan nie? Soos wat die vergadering gevorder het, het die hoekomvraag eie antwoorde begin genereer. Uiteindelik het die Kommissie tot die slotsom gekom dat ’n appèl wat geslaagd is, verdere skeuring kan bekamp.

Daar is onbevestigde gerugte dat enkele gemeentes dit oorweeg om hulle ook van die NHKA los te maak aan die hand van die voorbeeld van die wegbreekgemeentes waarna elders in hierdie uitgawe verwys word. Kommer heers dat ’n gees van eiewilligheid en independentisme verdere versplintering tot gevolg kan hê, wat uiteraard nadelige gevolge vir die eenheid in die NHKA kan inhou. Omsendskrywe 17/2022 verwoord die uitwerking van sulke handelinge soos volg:

As die NHKA nié appèl sou aanteken nie, is die gevolge daarvan vir die NHKA geweldig groot: Dit hou nie net implikasies in vir die eiendomme wat tans in die geding is nie, maar ook vir talle ander kerklike eiendomme. Meer nog, dit hou implikasies in vir die sinodale funksionering van die Hervormde Kerk – vir die opbou van die onderlinge gemeentebande en ons ekumeniese verhoudinge, gemeentebegeleiding, diakonale werk en teologiese opleiding. Prakties gestel beteken dit dat die onderlinge band tussen die gemeentes opgehef sou word en dat ons gemeenskaplike binding aan die Kerkorde van individue se willekeurige instemming afhanklik word.

Die Kommissie oordeel ook dat die hofuitspraak ontevrede gemeentes in ander denominasies kan aanspoor om dieselfde modus operandi as die wegbrekers te volg. Die sogenaamde Kairosnetwerk wat in reaksie is teen sekere besluite in die NG Kerk, sou dalk die moontlikheid kon oorweeg.

Die Kommissie het nog in elke omsendskrywe ná die uitspraak baie sterk beklemtoon dat ons fokus eerder op ons opdrag as Kerk is. Omsendskrywe 17/2022 se bewoording in dié verband lui soos volg:

Intussen gaan die Hervormde Kerk voort om kerk van Jesus Christus te wees. Die Kommissie roep elke lidmaat op om in toewyding aan die Here te leef, om in die gemeente en gemeenskap diensbaar te wees, om die gemeenskap van die gelowiges op te bou, en om onverkort te getuig van die betekenis wat die sterwe en opstanding van Jesus Christus vir ons inhou.

Die NHKA wil voluit kerk van Jesus Christus wees en tegelyk eenheid koester en bewaar. ’n Geslaagde appèl kan die ongebreidelde gees van fragmentasie en independentisme demp en enigiemand wat dalk sou oorweeg om ook van die NHKA weg te breek, noop om weer te besin.

(Dr André Ungerer is voorsitter van die Kommissie van die AKV)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap