Vir die meeste van ons, Suid-Afrikaners of nie, is Kersfees ’n magiese tydperk van die jaar. Kinders sien uit na geskenke en vakansie, volwassenes sien uit na die samesyn en rus, en almal sien uit na die lekker sonnige weer en heerlike kos. Die sonskyn en die somerhitte is so besonders. Ons sing Somerkersfees en Stille Nag uit volle bors in die kerk, terwyl ons kla oor die hitte in die kerk en lank soek na die beste skaduplekkie om te parkeer. En ons almal het al post-Kersdag sonbrand ervaar.

Kersfees in Europa sien heeltemal anders daar uit. Die son? Wat is dit? Maande laas gesien – dis maar ’n yl herinnering wat op die horison vertoef vir enkele ure per dag, as dit nie reën of sneeu nie. Terwyl ek hier sit en tik, het die son al 16:00 gesak en dit kom eers môreoggend na 08:00 weer op. Warm weer? In Augustus het ek die laaste keer ’n sonrokkie gedra. Truie, hoodies en langmoue is die modekeuses tot om en by Mei…

Juis daarom soek die meeste Europeërs in die donker en koue maande van November tot Februarie die snoesige warmte op van hul huise. Bordspeletjies, familietyd en snoesige tee-en-warmsjokolade-drinkery is aan die orde van die dag.

Maar middel November tot einde Desember verander daar iets in die meeste Europeërs se binneste. ’n Opgewondenheid, ’n energie en ’n vreemde optimisme kom los en groei vanuit die koue en dooie omgewing. Dit begin met die Duitse viering van Sint Maarten. Kinders loop in die strate wanneer dit donker is, met lampies, en groet die bewoners van die buurt en kry miskien ’n lekkerny by die ooms en tannies van die buurt.

Aan die begin van Desember is dit die aankoms van Sinter Klaas, wat ook lig en feesviering bring. En helder oranje clementines word aan almal as geskenke gegee… Dit was die snaaksste oomblik toe ’n kind by die skool, met die mees opregte hartjie, vir my ’n nartjie kom gee as Sinter Klaas-geskenkie. ’n Nartjie…

En daarna is dit tyd vir die Kersmarkte en Kersfees. Kersmarkte begin hul stalletjies oopmaak aan die begin van Desember, tot net na Kersdag. Dit is ’n fees van lig en warmte (van die baie mense om jou en ook die sopies pons) en vrede. Dit is waarom Kersfees so besonders is wanneer jy dit in Europa deurbring. Mense van alle ouderdomme wag vir hierdie warm atmosfeer wat alles en almal rondom ons vul. Dit vul die strate, die geboue en al die winkelvensters en huisvensters. Ook my klaskamer is vol wonderlike versierings en Kersliggies. Daarom fokus ons op Kersfees, ’n fees van lig en vrede, in die hartjie van ’n donker en koue winter.

Ek is van altyd af mal oor Kersfees. Elke jaar is nog altyd vir my besonders. Ek is mal oor alles van die versiering van die boom tot die voorbereiding van die kos en die geskenkies, en die samesyn.

Toe ek my die eerste keer in 2006, vroeg in Desember, in Europa bevind het, het ek besluit ek moet net ’n Oostenrykse Kersmark beleef (of Christkindlesmarkt soos hulle in Duits sê). Dit is immers waar hulle ontstaan het. Toe ek besluit het dit is my plan, om na soveel van die Oostenrykse Kersmarkte moontlik te gaan, het ek binne ’n paar dae ’n hele reisplan opgestel, wat Wene, Innsbruck en Salzburg ingesluit het. Elke mark het my gevul met lig en my feestelik en opgewonde laat voel te midde van die koue en donkerte, wat die hele punt van die reis was. Ek het honderde foto’s geneem. Die gevolgtrekking van hierdie spaarsamige studentereisplan? Ek was so mal oor die ervaring dat ek dit absoluut weer moes doen!

In 2017 kry ek en my man toe die geleentheid om ons hier in België, in die hartjie van Europa, te kom vestig. En watter ongelooflike voorreg en fees! Nou kan ons na hartelus elke Kersmark besoek, en nou nie meer op ’n studentebegroting nie…

Brussel in België is bekend vir sy tweekilometermark genaamd Winter Wonders. Die mark is ’n droom vir kinders en volwassenes. As jy daarheen gaan, sal jy ’n getuie wees van unieke lig- en klankvertonings, heerlike ryk en romerige kos geniet, mense van verskillende kulture ontmoet en in die gees van Kersfees verdrink met liters glühwein. Brussel het ook die tradisie om op 26 Desember, 20:00 die aand, ’n agt kilometer lange hardloopwedstryd te hou deur die strate van Brussel. Dit is die Manneken Pis Corrida, en ek het dit al gedoen en gaan hierdie jaar weer… Dit is bitter-bitter koud, maar so feestelik en gesellig. ’n Ongelooflike ervaring!

Ek het die voorreg gehad om in 2019 die Europese Kersmarkte met my skoonma te kon deel. Brussel, Luik, Leuven, Antwerpen, Keulen, Aken, Brugge, Gent, en ek is seker nog ’n paar… Brugge in België vereis spesiale vermelding omdat ek en ds Elmien (Knoetze) Shaw daar kon kuier vir ’n paar uur een Desember ’n paar jaar gelede.

Wene in Oostenryk is nie net die geboorteplek van die Weense Wals nie, maar ook ’n tuiste vir verskeie bekende Kersmarkte. Een van hulle word Wene Magie van Advent genoem en vind plaas op die Stadsaalplein. Daar kan jy die wonderlikste versierings, Kersgeskenke, drankies en lekkers vind. Ook ’n warmsjokoladefontein! Die Kersmark by Schönbrunn-paleis bied geleentheid vir heerlike stap en Kersmark. Gewoonlik word die gronde ook omskep in ’n Nuwejaarsmark na Kersfees. Konserte en programme vir kinders kan elke aand daar beleef word.

Salzburg in Oostenryk is ’n Nuwejaarsfees! Watter ervaring om in snerpende koue na ’n vuurwerkvertoning te kyk…

Keulen (Cologne) in Duitsland is nog een van my gunstelinge. Keulen het verskeie markte – een groot mark by die Dom-katedraal, plus ’n kindermark, ’n slim mark, en selfs ’n mark op ‘n boot! Die Aken Kersmark is sonder twyfel die bekendste in Duitsland. Dit is in die skadu van die manjifieke Aken-katedraal opgerig. Dit lyk bedags soos ’n heerlike Kersdorpie, en verander in ’n sprokiesland van sprankelende Kersliggies in die nag. Aken is in die mees westelike deel van Duitsland geleë waar die land aan België en Holland grens. Die dorp het ’n ryk geskiedenis, aangesien dit Karel die Grote se gunstelingwoning was, sowel as die primêre plek vir die kroning van Duitsland se keisers. Dit het eers in 1973 geopen en het intussen so gegroei dat dit van die katedraalmark af in baie van die klein systraatjies in groei. Voor Covid het meer as ’n miljoen mense die Akense Kersmark besoek.

Kersfees in Europa: Heerlik om met feestelike liedere in jou binneste rond te stap en die “ligtheid” in almal rondom jou te sien, en ’n bietjie te vergeet van die rowwe jaar waardeur ons almal die afgelope tyd geworstel het.

(Marna Naudé is ’n voormalige predikant van die NHKA)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap