Wanneer ’n mens aan ’n kamp dink, kom verskillende gedagtes na vore – avontuur, saamwees, leer, groei en natuurlik hope pret. Die NHKA-hoërskoolkamp 2025 van 14-16 Februarie het nie net aan hierdie verwagtinge voldoen nie, maar het dit by verre oortref. Dit was ’n naweek gevul met betekenisvolle oomblikke, geestelike verdieping en nuwe vriendskappe wat gesmee is. Ons tema vir die naweek, Ankers, het ’n konstante herinnering geword aan die stabiliteit wat God in ons lewens bring.
Vanaf die oomblik wat die eerste mentors en predikante Vrydagmiddag op die terrein aangekom het, was daar ’n gevoel van opgewondenheid in die lug. Teen 16:00 het die kinders begin arriveer en ’n gevoel van samehorigheid het vinnig posgevat. Die verwelkoming tussen die 110 kampeerders van oraloor was warm en vriendelik, en kort daarna is die reëls van die kamp verduidelik. Almal het vinnig hul slaapplek by die pragtige Adventure Peaks in Zwavelpoort, net buite Pretoria, gekry en die ysbrekers het gehelp om enige aanvanklike bedeesdheid of huiwering uit die weg te ruim.
Die aand se lofprysing, die eerste van vele die naweek, is aangebied deur ons Predikant-Bybelnaam-orkes wat bestaan het uit di Jimmy Manders (Witfontein), Stephen de Beer (Noordwestelike Pretoria) en Paul van Jaarsveld (Wapadrant). Dit was ’n diepgaande ervaring. Die saamsing van bekende liedere en die opregte aanbidding het ’n atmosfeer van dankbaarheid geskep. Daarna het Rolandi McGeer, ’n teologiestudent verbonde aan Gemeente Rustenburg-Tuine, en die mentors die eerste aanbieding oor die SOAP-Bybelstudiemetode gedoen – ’n maklike en toeganklike manier om God se Woord te lees en te verstaan. Dit was insiggewend vir baie en die groepsgesprekke wat gevolg het, het gewys hoe waardevol hierdie metode vir ons geloofslewe kan wees.
Die aand is afgesluit rondom ’n knetterende kampvuur met warm sjokolade en koekies in die hand. Lag en geselsies het voortgeduur totdat die ligte om 23:30 afgeskakel is – hoewel sommige nog lank daarna in hul slaapplekke stories vertel het.
Nog voor sonsopkoms die Saterdagmôre was daar reeds beweging. Teen 06:30 het almal opgestaan, en om 07:30 het die eerste stiltetydsessie plaasgevind. Hier het ons die SOAP-metode geoefen en die mentors het gehelp om vrae te fasiliteer oor hoe hierdie manier van Bybellees ons nader aan God kan bring.
Ná ontbyt was dit tyd vir die tweede aanbieding van die naweek: Die Bybel as padkaart. Rolandi McGeer het verduidelik hoe God se Woord ons lei en rig in die lewe – net soos ’n padkaart vir ’n reisiger. Deur interaktiewe oefeninge en persoonlike nadenke het die tieners geleer hoe om spesifieke Skrifgedeeltes toe te pas op hul eie struikelblokke en vrese. Dit was wonderlik om te sien hoe almal met oorgawe deelgeneem het en hul eie geestelike padkaarte begin skryf het.
Die middag was propvol aktiwiteite – swem, speletjies en geselskap. Dit was duidelik dat die kamp ’n tyd van balans was – ’n mengsel van geestelike verdieping en suiwer, ongekunstelde pret en plesier. Daarna was dit tyd vir ds Elmien Shaw (Swartkop) se aanbieding oor Gebed as anker. Die ysbreker waar ons ons lewens met bote vergelyk het en met Lego-blokkies gespeel het, was treffend. Dit het gelei tot diep besprekings oor hoe gebed nie net ’n godsdienstige ritueel is nie, maar ’n lewenslyn tot God is. Die praktiese oefening, waar elke tiener ’n kort gebed op ’n papiertjie geskryf het en dit aan ’n ankertou vasgemaak het om later in die kleingroep te lees, het ’n besondere oomblik van verbondenheid geskep.
Die aand het ons almal saam ’n Bybel-quiz gehou – ’n welkome kans om te ontspan ná ’n intense dag. Die afsluiting van die dag was gevul met dankbaarheid en terugskouing oor wat elkeen uit die sessies gehaal het. ’n Mens kon duidelik sien hoe die kamp reeds ’n invloed op almal begin uitoefen het.
Die laaste dag het vinnig aangebreek en ná stiltetyd en ontbyt was dit tyd om op te pak en die kampterrein skoon te maak. Daarna was dit tyd om afskeid te neem. Die uitdeel van kamppryse en laaste dankies het gesorg vir ’n gepaste afsluiting. Byna 60 ouers het op daardie stadium by ons aangesluit en hoewel die kampeerders moeg was, was daar ’n opgewondenheid vir die oggenddiens, waar ds Paul van Jaarsveld die laaste anker met ons gedeel het: Ons Identiteit in Christus.
Die boodskap was kragtig: As ons weet wie ons in Christus is, dan kan storms ons nie van koers af gooi nie. Dit was ’n wonderlike manier om die kamp af te sluit en die interaktiewe gesprekke voor die diens het gehelp om die tema prakties tuis te bring.
Ná die diens het ons ’n laaste keer gegroet, trane is afgevee, drukkies is uitgedeel en die algemene gevoel was een van dankbaarheid. Die kamp het nie net nuwe herinneringe geskep nie, maar ook ’n hernude fokus op God en sy ankers in ons lewens geskep.
Die NHKA-hoërskoolkamp 2025 was meer as net ’n paar dae weg van die huis af. Dit was ’n tyd van groei, ontdekking, vernuwing en pret. Die tieners het nuwe insigte gekry oor hoe om hul geloof uit te leef, die mentors het diep spore in die jong lewens getrap en elkeen het ’n anker ontdek wat hulle verder in hul geestelike reis sal help. Met ongeveer 80 hoërskoolkinders, 20 jong volwassenes as mentors en 10 predikante en volwassenes vanuit 13 verskillende Hervormde gemeentes was dit ’n reuse samekoms om op trots te wees.
Mag die lesse van hierdie kamp ons verder in ons lewens dra en mag ons altyd onthou dat al raak die lewe hoe stormagtig sal God altyd ons anker bly – veilig en stewig.
Volgende jaar maak ons weer so!
(Ds Rue Hopley is predikant in Gemeente Pretoria-Oos)















