Per aspera ad astra – deur uitdagings of ontberings na die sterre. Vanuit die perspektief van ’n vlieënier, sou ’n mens miskien kon sê: “deur wolke na die sterre”. Hierdie leuse van die Suid-Afrikaanse Lugmag het my verbeelding op ’n vroeë ouderdom aangegryp, lank voordat ek deur middel van Asterix en Obelix met Latyn kennis gemaak het.
My liewe ma, wat weens die genderbeperkings van haar tyd nie ’n vlieënier kon word nie, het die Latyn dikwels aangehaal. Die leuse was ’n uitdrukking van ’n bird’s-eye view en miskien haar persoonlike herinnering dat sy die grense van haar tyd kon oorskry – want uiteindelik word sy ’n lugwaardin van die destydse Suid-Afrikaanse Lugdiens en sy beleef keer op keer dat die wêreld geografies eintlik klein en beperk is, maar dat die hemelruim onmeetbaar groot is.
Deur wolke na die sterre. Toe God vir Abram beloof dat sy nageslag so groot (baie) sal wees soos die sterre in die hemel (Gen 15), en toe die dissipels beleef dat Jesus in ’n wolk verdwyn (Hand 1) en na die hemel opvaar (Luk 24), het ons modern-wetenskaplike verwysingsraamwerk van die heelal nog nie bestaan nie. Antieke volke het toe reeds vir ’n geruime tyd die hemelruim bestudeer en ’n bepaalde kennis van die sterre se bewegings gehad, maar die tegnologie tot hul beskikking het beteken dat hierdie studie beperk was. Daarom was die hemelruim ’n verwysingsraamwerk vir verwondering en ’n metafoor vir ervaring wat verstand te bowe gaan. Iets van die beperking van hul omstandighede en tydruimtelike bestaan is verwoord deur na die hemel te staar, en dit het waarskynlik ’n wesenlike invloed gehad op hul formulering van ’n geloof (en hoop) in ’n na-aardse bestaan. Dit is iets wat vandag nog, ten spyte van ons modern-wetenskaplike verwysingsraamwerk, in die een of ander vorm voortbestaan, al weet ons daar is nie ’n “bo” en ’n “onder” ten opsigte van die aarde nie. Dit is ’n kwessie van perspektief.
’n Bekende oefening in perspektief is om mense te vra om met hul neuse teenaan ’n muur te staan. As hulle by die muur staan, sien hulle nie veel nie – miskien ’n vae kleur. Namate mense verder van die muur af beweeg, kan hulle miskien ’n kleur herken, en ’n vormlose massa kry buitelyne. Nog later kan hulle sien dat daardie vorm die een of ander posisie of plek of betekenis het ten opsigte van die omgewing wat rondom daardie vorm is. Nog later (en verder) is die groter prentjie duidelik, en interpretasie en betekenistoekenning kan volg.
Deur uitdagings of inspanning heen na ’n groter perspektief. Wanneer die teoloog Gerhard Sauter oor hoop praat, verwys hy na Abram. Ontelbare sterre verteenwoordig Abram se toekomsperspektief. Dit gaan nie oor die onmoontlikheid om die sterre te probeer tel nie, dit gaan oor die grootsheid van die onmeetbaarheid van die sterre. Die werklikheid van hierdie groter perspektief, soos die Lugmag se leuse uitbeeld, is nie verwyderd van metaforiese wolke of uitdagings of inspanning nie. Abram ervaar nie die verwesenliking van die hoop wat gegrond is op die groter perspektief in sy leeftyd nie. Tog beteken die perspektief dat hy betekenis kan toeken aan sy daaglikse bestaan en die een voet voor die ander een kan bly sit.
So is dit met Jesus se hemelvaart. Die wolk en “beweging na bo” verteenwoordig nie ’n afskeid van die aardse, realistiese werklikheid nie – maar dit verteenwoordig wel ’n ingrypende perspektiefverandering. Jesus is nie meer net “hier” en “nou” nie, maar “oral” en “altyd”. Die versoening wat Jesus se menswording meebring, is nie net ’n individuele mens-tot-mens-versoening nie, maar is nou ’n kosmiese versoening, waarin ons die moontlikheid vind om nuwe perspektief te kry ten opsigte van ons verhouding met die natuur ook.
Te midde van ’n harde aardse werklikheid waarin ons met ons neuse teen die muur staan en só min kan sien, nie die buitelyne van die prentjie kan sien nie, en ook sukkel om sin te maak van die groter konteks van ons onmiddellike omstandighede wat so bitter hartseer, traumaties en gefragmenteer is, is ’n kosmiese perspektief ’n welkome herinnering – en kan dit selfs ’n viering word! Anders as Paasfees, is Hemelvaart in sommige kontekste ’n meer gedempte fees. Die Amerikaanse Nuwe Testamentikus Marcus Borg het vertel dat Hemelvaart in sy konteks nie gevier is nie, en dat hy eintlik eers in Europa die grootskaalse herdenking daarvan op die Christelike liturgiese kalender beleef het.
Op ons liturgiese kalender is die viering van Hemelvaart te midde van ons Covid-konteks ’n besondere herinnering en ’n lafenis. Per aspera ad astra: Daar is ’n kosmiese realiteit wat ons Covid-grense oorstyg en ons herinner om in verwondering en hoop die groter wordende perspektief van hemelse lig te omhels.
(Dr Tanya van Wyk is senior lector in Sistematiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, UP)
