Ek het nog nooit van die Munga gehoor voordat my vriend, Alphonso Theron, my van dié verskriklike uithouwedren vertel het nie – om binne vyf dae met ’n bergfiets van Bloemfontein tot Wellington te ry! Om dit reg te kry, moet die deelnemers letterlik dag en nag, opdraand en afdraand, oor grondpaaie met klippe, sand of sinkplaat, en in die Karoo se ongenaakbare somerson te midde van wind, sandstorms, reën en hael en koue ry. Hierdie uithouwedren oor ’n afstand van ongeveer 1 150 km word nie sonder rede die taaiste uithouren ter wêreld genoem nie.
Alphonso het die wedren vir die eerste keer in 2023 aangedurf, en aangebied om dit ten bate van Rata Maatskaplike Dienste te ry. In 2024 het Annatjie van Wyk die wedren ten bate van Rata gery, en in November 2025 was daar sewe van ons wat die Munga ten bate van Rata aangedurf het. Riaan Loots en Annatjie van Wyk het die volle wedren solo aangepak – dit beteken dat hulle die ganse ent pad self moes aflê (en alles wat hulle oor vyf dae mag nodig kry moes saamdra). Ek en Alphonso, Chris Reyneke en di Martin Meyer en Schalk Zastron het die spanwedren (Équipe) gedoen – die wedren word dan in ses skofte verdeel sodat elke spanlid een skof alleen ry en die hele span moet die laaste skof saam voltooi. Ons vriendin, Sylvia du Raan, was nie deel van die Rata-span nie, maar het saam met ons gereis en ná die wedren in Wellington oorgebly.
Uiteindelik het Sylvia die laaste deelnemer geword wat die moordende uitdaging binne die vereiste tyd van vyf dae (stiptelik 120 uur!) voltooi het. Enkele sekondes voor die skoot geklap het vir die einde van die Munga 2025, het Sylvia met haar bergfiets oor die eindstreep by die Doolhof-wynlandgoed in Wellington gery. Om die waarheid te sê, twintig treë voor die einde is sy inderhaas deur toeskouers opgehelp toe sy weens uitputting omgeval het!
Riaan Loots (Gemeente Pierneef) het die laaste dag of wat saam met Sylvia gery en so twintig minute voor haar die eindstreep oorgesteek. Ons span van vyf het die wedren reeds die Sondag voltooi, meer as 24 uur voor die spertyd. Maar die wedren dra om goeie rede die leuse: Jou reis, jou verhaal. Elkeen van die deelnemers het sy of haar eie verhaal, eie uitdagings en eie motivering. Elkeen van ons spanlede moes op sy skof een of ander uitdaging te bowe kom – dehidrasie, probleme met navigasie wat ons verkeerde paaie laat ry het, verskriklike hitte (52°C!) en wind, ’n sandstorm, ’n reënstorm en hael, modder en ’n ysige koue nag by Sutherland.
Sylvia het die Munga gery ter herdenking aan ’n man met die naam Craig Schonegevel. Hy is in 2009 op die ouderdom van 28 jaar aan neurofibromatose (’n uiters pynlike aangebore senuweesiekte) oorlede (lees gerus die bekroonde joernalis, Marianne Thamm, se boek oor sy stryd om waardig te sterf, The last right, 2013).
Ons ander het die wedren gery om fondse vir Rata Maatskaplike Dienste in te samel. Rata tree in vir kinders wat daagliks aan wanvoeding, fisiese en emosionele geweld blootgestel word. Waar so ’n geval aangemeld word, stuur Rata ’n opgeleide en geregistreerde maatskaplike werker om ondersoek in te stel en ’n volledige verslag op te stel. Hierdie professionele verslag word dan aan ’n hof voorgelê wat beslis of die betrokke kind(ers) weggeneem en onder veilige toesig geplaas moet word. Maar dan moet Rata natuurlik geskikte en gekeurde pleegouers vind, gespesialiseerde berading vir die kind en pleegouers gee, en help om te voorsien in die fisiese en geestelike nood van die kinders. Dit is ’n proses wat jare se toewyding verg – alles om vir ’n kind uit desperate omstandighede ’n hoopvolle toekoms te gee. En dit kos, helaas, baie geld.
Ons span het die Munga gery om Rata se werk ten bate van weerlose kinders te ondersteun. Die Here het ons geseën: óns het grootgeword in liefdevolle ouerhuise, en ons is gesond. Ons wou egter deur ons deelname ’n bewustheid skep van die groot nood en fondse insamel om Rata in staat te stel om kinders in nood te help.
Rata doen uitstekende werk, maar Rata se werk word ernstig bedreig deur onbestendige subsidies van die staat en provinsiale departemente van maatskaplike ontwikkeling. Vir ons was die vraag dus of ons anderkant toe kyk as die staat sy plig versuim.
Ons span is baie dankbaar vir die ondersteuning van ons Kerk, ons familie en vriende. Ons versoek om donasies het nie op dowe ore geval nie. Ons het weliswaar nie daarin geslaag om ’n duisend mense te vind wat elkeen R1 000 vir Rata skenk nie (dan sou ons R1 miljoen kon insamel), maar die simpatieke harte, oop hande en welwillendheid van gemeentes, familie, vriende en besighede het ons in staat gestel om ’n hele klomp kwesbare kinders te help.
Wil jy nou nog ’n bydrae lewer om so ’n kind te help? Jy kan op die volgende webblad met ’n verskeidenheid betaalmiddels ’n bydrae maak: https://plesion.org.za/rideforachild/.
Daar is meer inligting oor Rata by https://rata.org.za/, en jy kan meer inligting oor die Munga by https://themunga.com/ kry.
Daar is ’n hele video oor 2025 se Munga by https://www.youtube.com/watch?v=JlhfUcLtNEI.