Dis nou maar net só – ’n nuwe jaar is opwindend! Dis ’n geleentheid om iets wat voorheen stukkend was, reg te maak. ’n Geleentheid om ’n nuwe hoofstuk aan te gryp. Of so voel dit. Iets omtrent die aarde se voltooiing van ’n omwenteling om die son maak dat ons potensiaal en geleentheid skielik beskou as ryp vrugte waarvan ons moet pluk.

Skielik het ’n mens energie en die lus om veranderinge te maak. Baie van ons maak lysies van dinge wat skeefgeloop het die vorige jaar. Ons maak beloftes en voornemens dat 2020 beslis anders gaan wees. Gewig, gesondheid, minder rook, om maar net ’n paar te noem, is gewilde kuiergaste op baie van ons lysies. Ander lysies fokus weer daarop om balans terug te bring in verhoudings – meer tyd vir jouself te maak, meer tyd vir familie en vriende te maak. Dis dinge wat ons almal ken en wat eintlik al sinoniem geword het met die begin van ’n nuwe jaar.

Ongelukkig sal baie van die dinge wat nou op ons lysies pryk, weer volgende jaar hul verskyning maak. Nie omdat ons nie probeer het nie of nie wou nie. Bloot omdat dit moeilik is om te verander. Stap in enige boekwinkel in en aanskou die rak met selfhelpboeke. Daar is ’n legio idees oor hoe om nuwe patrone, nuwe beginne en ’n nuwe jaar aan te durf.

Buiten al die opinies, is dit eintlik vreesaanjaend net om te begin. Om net die proses van verandering aan die gang te sit, kan oorweldigend wees. Die Spaanse kunstenaar Pablo Picasso was dikwels oorweldig deur die gedagte van ’n nuwe begin. Die storie lui dat hy altyd ’n merk op ’n blanko doek gemaak het. Dit het nie saak gemaak waar die merk op die doek was nie. Ook nie hoe groot of hoe klein of in watter kleur nie. Die merk was ’n noodsaaklike simbool dat hy moes begin. ’n Manier om die onbekende aan te durf. ’n Troos ook, dat maak nie saak hoe die merk lyk nie, dit later ’n nuwe vorm sal aanneem. Dat die merk verander kan word.

Ek vermoed egter ons gespartel met verandering lê geanker in wat ons dryf. Waarom die pynvolle proses van verandering begin? ’n Suksesvolle nuwe begin is direk gekoppel aan wat jou dryf om dit te doen. Johannes 2: 1-12 bied so ’n blik op ons motief vir verandering. Jesus, sy ma en die dissipels woon ’n bruilofsfees in Kana by. Ons weet nie hoe hulle daar beland het nie. Ons weet nie hoekom Jesus se ma dink die tekort aan wyn is Jesus se probleem nie. Boonop weet ons ook nie hoe ses waterkanne so vinnig vol water gemaak is nie. Tog verstaan ons intrinsiek iets van ’n nuwe begin.

Hier, by ’n bruilof in Kana, kry ons die eerste indrukke van God se plan met mense. As ons praat van ’n bruilof, is ek seker daar kom onmiddellik ’n prentjie by lesers op van ’n smoorverliefde bruid en bruidegom, ’n wit rok en ’n spoggerige onthaal. Tog is dit nie hoe huwelikseremonies in die antieke tyd gelyk het nie. Huwelike het nie gegaan oor die keuse van ’n lewensmaat nie; dit was ’n ekonomiese of politieke onderhandeling. Daar was nie ’n feesviering soos ons dit ken nie, maar ’n sewe dae lange banket. ’n Groot banket waar mense hierdie ekonomiese of in party gevalle politieke transaksie vreugdevol vier.

Natuurlik moet enige banket ook wyn hê. Die wyn kan beter beskryf word as gegiste druiwesap. Die wyn is gewoonlik met water gemeng (1 deel wyn en 3 of 4 dele water), dus was die alkoholinhoud baie laag. Dit is algemeen in die antieke tyd gebruik soos ons tee en koffie geniet. Een van die belangrikste waardes in die antieke tyd was gasvryheid. Dit het direk te make gehad met hoe ek die eer en die waardigheid van my huis beskerm. Die gedagte dat die wyn kon opraak, was dus verskriklik. Dit was die verantwoordelikheid van die man se familie om die wyn en die kos te verskaf. Die wet het selfs toegelaat dat as daar nie genoeg was nie, die bruidegom hof toe gesleep kon word. Gevolglik is dit geen verrassing nie dat bruilofte geken was aan oordadige wyn en kos. Dis ondenkbaar dat iemand wat ’n bruilof wou hou, nie vir genoeg wyn sou beplan nie.

Tog is daar nie genoeg wyn nie. Jesus neem dan ses steenpotte. Die feit dat dit steenpotte is, is nie toevallig nie. Hierdie steenpotte is gebruik vir die Joodse reinigingsrituele. Dis die sleutel vir ons om die verhaal te begin verstaan, want om deel te neem aan hierdie reinigingsrituele bevestig dat ’n persoon voldoen aan die Joodse gebruike, voldoen aan wat verwag word. Jesus hervorm die norm van dit wat verwag word. Ses is ’n simboliese getal wat perfektheid illustreer. Die verandering van water in wyn versinnebeeld dat Jesus ’n nuwe begin vestig wat beter is as die ou lewe. Jesus vervang mense se gedagtes oor wie hulle moet wees en hoe hulle moet optree met nuwe gedagtes, naamlik met dit wat God wil hê. Gedagtes waar God se standaarde anders is as mense se standaarde. Gedagtes waar God se verstaan van wat moontlik is in jou lewe, anders is as wat jy verstaan. Gedagtes waar God se opinie oor jou die enigste opinie is waarna jy eintlik moet streef. Sy opinie dat jy reeds goed en mooi en perfek geskape is. Sy opinie dat Hy deur jou mense wil bereik. Sy opinie dat Hy jou voortdurend sal lei om dit wat seer en stukkend is, om te draai in stories van hoop.

Die water wat wyn word, wys op ’n belangrike saak wat ons moet raaksien. Waar Jesus is, is daar ’n fees. Ek vermoed dis die motivering vir verandering – die oomblik wanneer ons besef dis ’n uitnodiging tot ’n nuwe begin in Jesus. Om verandering te skoei op die vreugde oor die vryheid en lewe wat Jesus vir ons bedoel het. Sodat jy diep vreugde beleef wanneer jy verstaan dat die lewe wat ons leef ’n lewe van gehalte is, omdat Jesus ons daardeur dring om mekaar raak te sien, om sin in mekaar se lewens te bring en om verandering te kan laat plaasvind. Daar is ’n fees wanneer jy besef wie God vir jou is.

(Dr Annette Potgieter is leraar in Gemeente Rustenburg-Tuine)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap