Teken jy die besoekersboek ná ’n besoek aan die SP Engelbrecht-museum kry jy iets om aan te proe. Hier kyk, hoor, ruik, vat EN PROE ons. Wanneer ons ouma Sannie se lekkergoedfles oopmaak, laat die roos-muskus geur jou onthoubrein gryp-gryp na iets uit ’n amper vergete tyd. Een pienk pilletjie op jou tong en jou brein ontplof met: “Ja, ek onthou nou!” En dis dan wanneer die oë vonkel en die vertellinge begin uitrol. Soms is die geproeëry ’n ysbreker tydens die aankoms van ons museumgaste. Onthou jy nog, liewe leser… As dominee jou groet en sy tong en tande is pienk. Ai! Hoekom wil mens altyd giggel by die kerk?
Gewoonlik begin die besoekers eers so ligweg redekawel oor die juiste naam. Soms word die debat pienk-vuurwarm. Met iemand wat stellig sê: “Ek is baie oud en ek wéét.” Ouderlingspilletjies. Diakenspilletjies. Kerkraadspilletjies.
“Apostoliepilletjies”, roep een. ’n Openbaring. So dis nie net Hervormerpilletjies nie? Ook oudstes en pastore se soet genot – maak nie saak waar ons aanbid nie. Iemand in die groep eters sal net sê: “Dis nie rêrige pille nie”. “Vrypilletjies,” mymer ’n skamerige tannie droomoog van angel kisses. Grappig word vertel dis mos die jong diakens wat dit eet, want dit gaan onder die ou ooms se valstande in! Toe los ’n kuierdominee die naamsprobleem op met ’n kompromisvoorstel – dis kerkpilletjies, want kerkmense eet dit in die kerk. Grootoog maan dominee dus: “Hou op stry. Eet dit en geniet dit”.
Sien jy nog die streng omies in swart pakke klere en wit strikkies? Ruik jy hulle? Is die wat die lekkertjies inryg dalk dié wat Saterdagaand te veel gebraai het? Maar hoekom het die orrelis en die Sondagskooljuffrou ook daarna geruik? Rookasems van pyprokers, die pruimers – al die twakgebruikers – selfs die jongetjies wat skelm gerook het. Ook dié met halitose (dis nou daai asems uit die bose). Dalk ’n meer gewone rede: suikerstimulasie. Ek het al gehoor van stemmige ouderlinge wat dit op die kerkbank se rand uitgepak het om wakker te bly. In sommige lang Nederlandse kerkdienste is daar selfs ’n lekkergoedbreek.
Een reuse-oom bulder met smaak hoe hy ’n melktand daarop uitgebyt het, daar in die kerk. ’n Tannie onthou met nostalgie hoe sy by die Jodewinkel vir haar 92-jarige ouma dikbekpilletjies moes gaan koop. Sy glimlag as sy weer ouma se stem hoor: “Sussie, dit vat mos daai suurgeit van die gesig af en laat jou wange nie bol staan nie!” Ons onthou oom Piet Pienk Pilletjie. In die kollektesakkie het dié pienk fopgeld ook opgeduik!
Hoor jy nog hoe die oumense sê: “Moet dit net nooit in jou neus opdruk nie” of “te veel gee jou hartkloppings” en “jy moet suig en nie kou soos ’n perd nie.” As ons stilsit en luister, was dit ons beloning. Stroopsoetpilletjies, want dan sit ek stroopsoet. Kerkkriewel in die keel of lyfie kon hiermee verdwyn. Vertel een tannie mos: “Sondae om in die kerk stil te sit en in die week om trane op te droog, einas minder eina te maak. Tot vir nagmerries om gaggas weg te hou.” ’n Ouma vertel nou vir haar kleinkinders dis slaappilletjies. Ook kinderkopseerpilletjies wanneer hulle apteek speel. ’n Graad R-juffrou vertel sy deel dit uit as slimpille. “Oups, dis my favourite!” Blinkoog-vertel een oupa van ’n nuwe geslag eters.
As jy dit vandag in ’n winkel wil koop, soek jy na die nuwe Romantics Angel Kisses Cachous (kasjoes of kasoesies). Een keer het ’n waardige ouderling luid in die konsistorie gevra: “Dominee, ek lees op die pakkie ’n lelike, “permissie” woord.” En bloedrooi in die gesig: “Hoe sê ’n mens dit, dominee?” Die oues was ligter van kleur en harder. Baie lekkerder as vandag se sagtes. Vanmelewe kon jy nog lank suig of “suie” soos grootoupa altoos geseg het. Goeie herinneringe aan ’n kwaai oupa met ’n roos-aroma aan sy kerkpak. Pienk lekkerte opgesluit in ’n baadjie- of onderbaadjiesak en in ’n handsak. Dit het ons almal in die kerk gekry of gehou. Pienk pilletjies – ’n lekkerte in ons volksmond!
(Ds Carel Johann de Bruin is emerituspredikant en sekretaris van die Komitee vir die Argief, Museum en Biblioteek)
