’n Paar weke gelede is die Kerk in Blitspos ingelig van ’n bosberaad wat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (AKV) en die Kuratorium gehou het oor die uitdagings met ons Kerk se teologiese opleiding. Dit was vir my nogal teleurstellend dat, ongeag die lang besprekings, die status quo grootliks eers gehandhaaf gaan word.

Verlede week het dr Rudy Denton namens die Kuratorium die “goeie nuus” van die nuwe verbintenis wat die NHKA met die Universiteit van Pretoria (UP) gesluit het, met die Kerk gedeel. Dit sluit onder andere in dat ons steeds vyf voltydse dosenteposte sal hê.

Die praktyk ten opsigte van ons opleiding lyk vandag totaal anders as jare gelede. Toe ek in 1991 afstudeer het, was ons 27 studente wat daardie jaar alleen die Kerk ingestuur is. Die Almanak van 2014 wys dat daar toe ’n totaal van 42 teologiestudente in ons Kerk was. Tans, in 2021, studeer 16 studente teologie in ons Kerk – waarvan twee mans. Daar is op die oomblik nie ’n eerste- of vierdejaarstudent nie. En volgens my inligting het geen student nog ingeskryf vir 2022 nie…

My beskeie mening is dat ons opleiding nie meer werk nie. Jongmense wil nie meer teologie studeer nie. En as daar nie iets radikaal gebeur nie, is die kanse goed is dat ons oor vyf of tien jaar dalk meer dosente as studente sal hê.

Die ring van Krokodilrivier het in 2019 ’n beskrywingspunt laat dien, waar versoek is dat die studiejare na vier, of ten minste na vyf jaar, verminder moet word. Die vergadering het dit goedgekeur.

Met die lang studiejare en die astronomiese koste daaraan verbonde (terloops, die Kerk se beurslening is ook drasties ingekort), en met min vooruitsig op ’n beroep waar ’n volle-versorging-standplaas jou beskore gaan wees, is die droewige stand van sake seker te verstane…

’n Jong student wat vandag teologie aan Tuks studeer, voel waarskynlik meestal verlore en volksvreemd tussen die massas. UP lyk anders as in 1991. Ons onafhanklikheid en seggenskap daar word ook toenemend kleiner. Boonop is dit nou die Fakulteit Teologie en Religie, wat ook boekdele spreek… Hoeveel kontrole het die Kuratorium nog oor die presiese kurrikulum en leerinhoud van ons studente? En intussen word Grieks en Hebreeus nou in Engels aangebied…

Solidariteit het in die laaste jare baanbrekerswerk gedoen vir ons Afrikaanssprekende volkie, met hul uitstekende ambagopleiding deur Soltech en ook diploma- en graadopleiding deur Akademia. By só ’n instelling sal ’n klein groepie teologiestudente beslis meer tuis voel. En jy ontvang jou opleiding in jou moedertaal.

Wil die belanghebbendes – dosente en lede van die Kuratorium – nie (weer?) saam met die bestuur van Akademia om ’n tafel gaan sit en kyk of ons nie by hulle kan affilieer nie? En ook of ons die opleiding nie kan koppel aan ’n sekondêre rigting – soos onderwys – nie? Dit bied ook aan ’n teologiestudent groter beroepsgeborgenheid. Miskien sal van die bogenoemde veranderinge help om ons getalle weer gesonder te laat lyk.

Oor jare heen koester ons die kwaliteit Bybels-wetenskaplike opleiding van ons Kerk se teologiestudente. En dis inderdaad belangrik. Maar tye verander… Ons Plan A werk nie meer nie.

Hou in gedagte: Jesus se dissipels het drie jaar saam met Hom teoretiese en praktiese opleiding gekry, en toe het Hy hulle die wêreld ingestuur… Dit was genoeg.

Ek wil die hoop uitspreek dat ons dringend aandag sal gee om die besluit van die AKV, om die teologiese studiejare te verminder, uit te voer. En dalk sal dit veral heilsaam wees om ’n verpligte en voltydse praktiese opleiding, saam met ’n gemeentedominee en van vroeg af reeds, deel te maak van die opleiding.

My apologie as ek dié komplekse saak dalk eenvoudig laat klink met die paar opmerkings… Hopelik sal daar met die AKV in 2022 ruim tyd gegee word om dié saak te bespreek. Gelukkig, waar ’n wil is, ís daar ’n weg.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap