Wat bedoel ons presies met die woord sending en al die aanverwante begrippe soos evangelisasie, apostolaat, missiologie, missionaal en missionêr? Na watter aktiwiteite in die kerk verwys dié terme?
Die Protestantse teoloog Gijsbert Voet het in die 17de eeu die teologiese redes vir sending op so ’n wyse geformuleer dat dit vandag steeds relevant is. Voet sê ons verkondig die evangelie sodat onbekeerdes hulle kan bekeer en nuwe bekeerlinge ’n geloofstuiste in kerke kan vind; en dit alles gebeur sodat God verheerlik kan word.
Dit is in die aard van die kerk om missionêr te wees, maar dit is tegelykertyd ’n opdrag om missionêr te wees. Oor die eeue het daar verskillende modelle ontstaan oor hoe gelowiges oor die missionêre aard en opdrag van die kerk dink.
Die plantingsmodel en die bekeringsmodel
Vir die sendingteoloog Gustav Warneck kan sending nie sonder die kerk nie. Vir Warneck, soos vir Voet, is die doel van sending om die kerk onder nie-Christene te plant. As daar in ’n nie-Christelike omgewing ’n kerk geplant is, het sending die doel bereik.
Warneck sien egter dat kerkplanting afhanklik is van die bekering van individue. Wanneer individue bekeer word, word ’n totale gemeenskap omvorm en ontvang dit ’n Christelike karakter. Die kerk en die grense van die koninkryk van God stem ooreen. God heers net en spesifiek waar Christene bestaan en uitdrukking gee aan hul geloof. Die bekering van individue het dus sosiale en kulturele gevolge.
Vir sommige teoloë is die planting van die kerk nie belangrik vir sending nie. Die klem val dan op die bekering van die individu. Die redding van mense se siele is belangrik. Voet het die bekering van nie-Christene as ’n belangrike doel van sending aangedui. Die bekeringsmodel beklemtoon die red van siele tot elke prys. Dit word die enigste doel van sending. Die plantingsmodel stem saam dat siele gered word, maar bekering is dan net ’n middel tot ’n doel. Die einddoel van sending volgens die plantingsmodel is die uitbreiding van die sigbare kerk.
Die dilemma met die plantingsmodel en die bekeringsmodel is dat albei mense slegs as objekte van sending wat bekering benodig, beskou. Die kerk is dan slegs in mense geïnteresseerd sover mense as objekte bedien kan word. Mense, selfs bekeerdes, word nooit handelende subjekte in die kerk nie, maar skuif ná hul bekering na ’n nuwe kwantitatiewe kategorie; nou nie meer onbekeerdes nie, maar bekeerdes.
Die verskil tussen die plantingsmodel en die bekeringsmodel is dat, alhoewel albei modelle klem plaas op bekering, die plantingsmodel verwag dat bekeerdes weer as gestuurdes in die wêreld die evangelie moet verkondig om weer en meer kerke te plant. Die bekeringsmodel het egter bekering as uitsluitlike doel. Sou ’n kerk tot stand kom, is dit ’n neweproduk van sending.
In ons tyd kan die klem op missionale ekklesiologie weer die voortbestaan van die kerk so voorop stel dat die bekering van individue as sekondêr beskou word. Daar behoort ’n balans te wees tussen bekering en kerkplanting.
Die heilshistoriese model
Wêreldgebeure en die tydgees beïnvloed denke oor sending. In die tyd na afloop van die Tweede Wêreldoorlog, met die begin van die einde van kolonialisme en ’n nuwe verstaan van die verhouding tussen kerke wat stuur en kerke wat ontstaan as gevolg van sendingaktiwiteite, het die eskatologie ’n belangrike teologiese rol begin speel. Die geskiedenis van die kerk is al meer binne die breër verband van die verloop van die totale geskiedenis van die wêreld verstaan. Die heilshistoriese sendingmodel kom tot stand en beïnvloed tot vandag toe denke oor sending.
Volgens die heilshistoriese model is God nog altyd sedert die sondeval van Adam besig om mense te roep om sy opdragte in die wêreld uit te voer. God kies mense uit en die manier hoe God hulle behandel, dien as voorbeeld vir die wêreld van hoe God met die verlorenheid van mense wil maak. Die hoogtepunt van God se handeling met mense is in Jesus aan die kruis te sien. Hierdeur bewerk God verlossing vir alle verlorenes. Die tyd tussen die eerste en tweede koms van Christus (die eskatologiese moment) dien as tyd van sending. Hoe langer die tyd duur totdat Christus weer kom, hoe meer mense kan met die evangelie bereik word. Die doel van sending is om mense uit die sondige wêreld te roep en in die liggaam van Christus (die kerk) in te plant.
Volgens hierdie model is barmhartigheidswerk deel van die missionêre aktiwiteit van die kerk. Barmhartigheid is vrug van geloof, maar dien ook as voorbereidingswerk om die evangelie te ontvang. Barmhartigheid dien die verkondiging van die evangelie.
Met hierdie model is die plant van die kerk nie die hoofdoel nie. Die hoofdoel is die verheerliking van God in sy koninkryk. Voet het hierdie element van sending beklemtoon. Die doel van sending is nie om bastions van geloof in die kerk op te rig nie, maar om eerder toegangsweë tot stand te bring waardeur meer mense God kan vind. Die kerk stem nie ooreen met die grense van die koninkryk van God nie. Die kerk moet eerder as ’n kolonie van die ryk van God beskou word. Hierdie “kolonies (die kerke)” verskil in kulturele karakter, maar besit ’n gemeenskaplike identiteit in Christus.
Met hierdie model kom die konsep van missio Dei tot stand. Die oorsprong van sending is nie by die mens nie en ook nie by die kerk nie, maar slegs by God. God stuur sy Seun, en sy sending word deur die Gees in die kerk voortgesit. Die volgorde van die heilsaksie in hierdie model is: God; kerk; wêreld. Die kerk sit God se gestuur-wees voort om die wêreld te bereik.
Ons Kerk knoop veral sterk aan by hierdie sendingmodel. Tog moet ons ons eerlik afvra of die teologiese onderbou van die heilshistoriese model steeds vandag die onderbou van ons denke oor missiologie in die kerk is. Dalk fundeer ons die missio Dei vandag te veel op die plantingsmodel.
Die belofte-historiese model
Die belofte-historiese model word gebaseer op ’n verstaan dat God Hom aan die wêreld openbaar deur die beloftes wat Hy aan die wêreld maak. God bestaan in verhouding, verbonde aan die mens deur die geskiedenis. Waar die heilshistoriese model klem plaas op geskiedenis ten dienste van sending, word by die belofte-historiese model die klem geplaas op sending (en daarom ook kerk) wat in diens van die geskiedenis staan. Die kerk dien die bevryding van die mens vanuit onderdrukking en armoede. Sending gaan dus in hierdie model oor die skep van hoop en vrede vir die ganse wêreld.
Alhoewel die missio Dei ook die onderbou van hierdie model vorm, word die kerk nie as die eindpunt beskou nie. Die model eindig met God wat stuur. Sending is ’n taak van God. God lei mense tot bekering. Dit is nie die taak van die kerk om God aan mense bekend te maak nie. God doen dit self. Verlossing is vir die wêreld bedoel en nie ’n gawe net aan die kerk nie. Die belofte-historiese model wil die grense van sending verbreed om die hele wêreld in te sluit. Die heilshistoriese model vereng God se handeling met mense net tot dié wat uitverkies en geroep is. Die volgorde van die belofte-historiese model is: God; wêreld; kerk. Sending is nie ’n funksie van die kerk nie, die kerk is ’n funksie van sending. Die kerk is daar ter wille van ander en almal. Die manier hoe die kerk in die wêreld bestaan, is belangrik nie ter wille van die aansien van die kerk nie, maar ten dienste van die wêreld. Die bediening van die evangelie moet die ganse wêreld in fokus hê, nie net die geroepenes nie.
Die taak van sending is om die wêreld tot vrede te begelei en hoop te skep. Die taak van sending is nie om die kerk weer vol te kry en op so ’n manier die oorlewing van die kerk te verseker nie. Die taak van verkondiging volgens hierdie model berus nie by die ampte in die kerk nie – elke gelowige deel in die verantwoordelikheid.
Kommunikasiemodel
Om gelowige te wees, is om die evangelie te hoor en dit aan ander oor te dra. Die evangelieboodskap moet in elke konteks so vertaal word dat dit aanknoop by die gedagtes en kennis van die gemeenskap waarbinne die evangelie gebring word. Dit moet plaasvind sonder dat die inhoud van die boodskap prysgegee word. Die kommunikasiemodel het nie net met die vertaling van die evangelie in ander tale te maak nie, maar juis ook met die oordrag van die boodskap van die evangelie in ’n nuwe konteks.
Kennis van die konteks is nodig om die evangelie binne ’n kultuur relevant en verstaanbaar te maak. Die evangelie moet deur ’n proses van inkulturasie wortelskiet en gedy binne ’n nuwe kultuur. Kultuur is egter vloeibaar en veranderlik. Die evangelie moet dus voortdurend relevant verkondig word om ’n verskil aan mense se lewens te maak.
Slot
Wat wil ons Kerk vandag met die verkondiging van die evangelie bereik? Gaan dit oor die instandhouding van die Kerk of die uitbreiding en vermeerdering van die koninkryk op aarde? Of is die Kerk in die bekering van siele geïnteresseer? Soms kan die Kerk so gerig wees op die verligting van die nood van die wêreld, dat die evangelie geen ander rol speel as motivering vir barmhartigheid nie.
Hoe dit ook al sy, die kerk sal ’n balans tussen bekering en kerkuitbreiding moet vind. Die belangrikste is egter dat die verkondiging altyd tot eer en verheerliking van God moet strek. Dit is die enigste doel wat die kerk nastreef.