RSG maak groter gewag as gewoonlik van komende Sondag se gesprek op Uit ’n ander hoek, ’n program waarin alternatiewe sieninge van geloof en religie verken word. Sondag se gaste is ons prof Andries van Aarde en prof Pieter Craffert, voorheen predikant van die NG Kerk, albei Nuwe Testamentici, en albei van hulle teoloë van naam.
Teologie is die wetenskap waarmee die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika van haar predikante verwag om dit wat ons mense aanspoor om te glo, krities te verantwoord. Van alle predikante van die Kerk word vereis dat ons vaardige teoloë moet wees. Daarom het alle dominees reeds wel deeglik kennis geneem van die onderwerp waaroor die verwagte gesprek sal handel: hoedat die Jesus waarin ons glo, moontlik verskil van die man wat “in die stofstrate van Nasaret geloop het” (aanhaling uit die reklameflits van RSG).
Een van die eerste verskille wat uit die flits al blyk, is dat “Jesus na alle waarskynlikheid nie in Betlehem nie, soos die geloofstradisie dit wil hê, maar eerder in Nasaret gebore sou gewees het”.
Daar is talle ander sulke verskille wat gelowiges ewe veel sou kon verontrus.
Hoor net eers weer: Jou dominee weet al lankal van hierdie Jesus-navorsing en die resultate daarvan. En tog is ek redelik seker dat julle min daarvan sou kon agtergekom het uit wat ons Sondae preek. Nie omdat hierdie inligting nie belangrik is nie, ook nie omdat ons ons daarvoor doof hou nie. Inteendeel, ons hou in ons Skrifuitleg en teologiese besinning daar deeglik mee rekening: Dis noodsaaklike wetenskap wat die kerk en haar predikers versigtig moet instel op waarheid. Ons wil immers van Jesus alles te wete kom wat daar van Hom te wete is.
Maar nee, as ons preek, lieg ons nie.
Kom dit by prediking, was die kerk van alle eeue se fokus op die Bybel se weergawe van wat die vroeë kerk oor Jesus geglo het. Dat daar in die tyd van Jesus se dood af totdat die Nuwe Testament se eerste briewe en Evangelies die lig gesien het, teologies oor Jesus besin is, is beslis. Dat ons mag, en so ver dit moontlik is, moet gaan kyk na hoe ons geloofsinhoude hul beslag gekry het, staan soos ’n paal bo water. Dat ons daardie inligting moet verreken, spreek vanself. Die “historiese Jesus”-studie het sy plek.
Wel, waarby het die kerk toe uitgekom? Die Bybel is vir ons die Woord van God, en Jesus Christus die vleesgeworde Woord. Hieroor het ons nog geen rede vir twyfel nie.
Ja, dit is so dat mense wat van sulke studies hoor, geloof verloor. Dit het byna met my ook gebeur. Ek onthou baie goed my eie ontsteltenis toe prof Jimmie Loader op ’n dag in die Hebreeus 2-klas gesê het Jona is ’n storie. (Sou hy net bygevoeg het “amper so iets soos Jesus se gelykenisse”, sou dit my baie wroeging gespaar het.) Maar ek was ’n buitengewoon brose 18 jaar oud. Ek het met hom ’n afspraak gemaak om agter die kap van die byl te probeer kom. Nou kyk, vir prof Loader was ek sommer baie bang, en die afspraak met hom het moed geverg. Maar my geloofskrisis was erg genoeg om hom van aangesig tot aangesig te trotseer. Nee, die akademie is nie ’n vriendelike plek nie. Dis beslis nie die kerk nie. Miskien was dit ook prof Loader se hele idee om my naïewe denke met geestelike harsingskudding te dokter, want met gemoedsrus is ek nie daardie dag daar van hom af weg nie.
Ek vermoed dit kan Sondagaand met jou ook gebeur. Ek wou net hê jy moet weet ons was ook al daar, en ons glo steeds.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Met ander woorde as ons preek lieg ons nie. Ons vertel net nie vir die lidmate alles nie. Verstaan ek dit reg?
Nee, Jean, ek dink dis uit die artikel duidelik dat dit juis nie die geval is nie. Die bevindinge van die Jesusstudie is belangrik, en ons hou ons nie daarvoor doof nie. Ek sou ook kon byvoeg: Ons hou ons ook nie hieroor stom nie. (‘n Onderhoud met professor Andries van Aarde oor juis hierdie onderwerp verskyn in die Septemberuitgawe van Die Hervormer.) Weereens: “Inteendeel, ons hou in ons Skrifuitleg en teologiese besinning daar deeglik mee rekening: Dis noodsaaklike wetenskap wat die kerk en haar predikers versigtig moet instel op waarheid. Ons wil immers van Jesus alles te wete kom wat daar van Hom te wete is.” Daarmeesaam, dink ek, die kerk wat bely dat die Bybel die Woord van God is, preek wat die Bybel sê, ook wat die Bybel oor Jesus sê, en ons doen dit met hoogagting vir en met inagneming van alle eerlike en ernstige navorsing oor Jesus (soos wat ons van professor Andries van Aarde gewoond is). Nee, Jean, ons lieg nie, en ons steek ook niks weg nie.
Ek is van mening dat prediking nie tred hou met die nuutste wetenskaplike navorsing en bevindings oor ons bestaanswereld nie en dit kan dalk daartoe lei dat die Bybel se skriftuur verder verwyderd kan word van die jeug en andere se insig oor ons post-moderne bestaanswereld. Omdat die Bybel nie letterlik verstaan moet word nie moet redes vir verskille in Bybelse geskrifte, en die konteks waarin dit geskryf is, uitgelig en verduidelik word sodat die Bybelse boodskap relevant bly met die nuutste wetenskaplike bevindings oor ons bestaanswereld. Daarom is ook kennis van die mensheid van Jesus van groot belang. Dit kan slegs tot geloofsverdieping lei.
Ek vermoed die Jesusnavorsing waarvan in die artikel sprake is, handel slegs by implikasie ook oor wat jy “ons (postmoderne) bestaanswêreld” noem. Hierdie wetenskaplike bevindings gaan oor die (persoon en) bestaanswêreld van Jesus van Nasaret soos bekyk vanuit die hoek van “ons (postmoderne) bestaanswêreld.”
My pa het deurentyd vir ons daarop gewys dat iemand wat beweer hy lieg nooit waarskynlik nie die volle waarheid praat nie.
As die navorsing vir die dominees so belangrik is behoort ons darem meer daarvan in die preke te sien. As dit nie benut word nie en die dominee gebruik dit net vir sy eie kennis moet ons die fakulteite toemaak. En dan elkeen wat die bybel kan lees mos maar preek, want tans preek die dominees mos net wat in die bybel staan.
Dit blyk uit sommige preke wat ons gereeld hoor dat Noag se ark ‘n werklikheid is en die vis vir Jona ‘n redelike tyd in sy buik gehuiswes het. Hoekom nie vir eens en vir altyd vir die lidmate daarop wys dat dit mites is nie en dat daar vele daarvan in die bybel voorkom nie.
Wanneer gaan die Kerk tot die besluit kom dat, alhoewel die belydenis skrifte grootliks nie tred hou met die hedendaagse kennis en verstaan van die bybel nie, volhard ons steeds met die model. Dit is immers nie die bybel nie! Het die Heidelberger destyds alles in die skrif reg en goed verstaan? Wie kan hom nog indink dat die hel bv iewer onder die aarde is en vele ander argaiese uitdrukkings kan genoem word.
Preek die dominees die waarheid en niks anders as die waarheid nie? Ek wonder.
Dit val eienaardig op dat die ‘vermaning ‘ tov van ek. sondag se uitsending nou op skrif kom. En hoekom Prof Loader ook by gesleep word kan ek miskien verstaan. Word die volk gewaarku teen Loader en van Aarde se teologie of is dit net toevallig?
Neem asseblief kennis: Ek het in die artikel hierbo geen “waarskuwing” of “vermaning” van watter aard ookal teen die teologie van of Andries van Aarde of Jimmie Loader bedoel nie. Beide Jimmie Loader en Andries van Aarde is gewaardeerde teoloë en leraars wat aan my vorming as predikant deel het. Nou ja, of ek daaroor ook dalk lieg, moet die leser maar besluit. Ek raai ook niemand af om na Sondag se uitsending te luister nie, inteendeel, ek vermoed hierdie artikel gaan juis tot n groter gehoor bydra.
As gewone lidmaat luister ek graag gereeld na RSG se program en vind dit meerendeels objektief en leersaam.
Ek het waardering vir ons Teoloë en Akademici se voortdurende navorsing en publikasies beskikbaar, alhoewel alles nie altyd vir my leke woordeskat maklik lees nie, kan ek hul soeke na waarheid verstaan.
As Christen lees mens die Bybel onder leiding van die Heilige Gees en glo ek behoort mens die taal van Liefde daaruit te leer ken wat Jesus op aarde kom leef het.
Stem saam dat daar meer in preke verwys kan word na die feite soos genoem word. Dalk sal gelowiges dan minder veroordelend en liefdeloos wees in aspekte soos die vernietigende debat re. Homoseksuele en die Huwelik meer respekteer word ens. …..
Ek het in die NH Kerk grootgeword – gedoop en aangeneem – en dit geniet, onder meer omdat hulle so skrifgetrou was en baie waarde geheg het aan die Drie Formuliere van Enigheid. Vir ons aanneming moes ons juis deur die Heidelbergse Kategismis werk. Die wyse waarop die Kategismis belangrike godsdienstige vrae beantwoord het, het my beindruk en ook stabilteit aan my geloof gegee. Na my troue het ek na my vrou se kerk oorgegaan – die NG Kerk, maar was nooit juis tuis daar nie – hulle was vir my so bietjie ”charismaties” en hulle prediking was nie so diepliggend soos die van die NHK nie – dit was in die jare van ds Willie Marais en evangelis Billy Graham. Jare later het ek besluit om teologie (aan Tuks) te gaan studeer om ‘n predikant in die NGK te word. Ek wou graag op my eie – onder leiding van vooraanstaande teoloe en Bybelwetenskaplikes – die Bybel bestudeer. Dit was vrugtevolle jare en ek het die ”wetenskaplike” studie van die Bybel geweldig geniet. Maar na die behaling van my BA met Ou en Nuwe Testamentiese studies as hoofvak het ek die plan om predikant te word laat word. Tydens my studies en daarna het ook kennis gemaak met werke / insigte van Jimmy Loader, Ferdinand Deist, Jasper Burden, JH le Roux, HL Bosman en vele meer, ook Isak Spangenberg. Ek het vir die eerste keer gehoor dat daar ‘n onderskeid gemaak word tussen die Verkondigde Jesus (Jesus van die Geloof) en die Historiese Jesus. Dit – my intense studie – was die begin van my oorgang van tradisionele gelowige na skeptiese gelowige, en dit het spontaan gebeur, bloot op grond van my akademiese studie van die Bybel. Ek het in die tydperk ook kennis geneem van die werke / boeke / standpunte van gerespekteerde Bybelwetenskaplikes soos Marcus Borg, John Dominic Crossan, John Shelby Spong, Robert W Funk en vele ander. Wat probeer ek s^e: My eie diepgaande studie van die Bybel, en die studiemateriaal / navorsing wat ek moes lees en bestudeer, het my tot die volgende slotsom gelei – die Bybel is die woorde van mense oor hulle God wat hulle self geskep het en hierdie woorde (die Bybel) en Godsbeelde het sin en betekenis aan hulle lewens gegee. Godsbeelde? Ja die God van die OT (Jode) is Een, en die God van die NT (die Christene) is ontwikkel tot ‘n Drieenige God. Tans is daar geen godsbeeld wat vir my sin maak nie ,en ek glo dat Jesus ‘n merkwaardige mens (historiese figuur) was by wie ek / mense kan leer. Ek is natuurlik oop vir oortuiging, nes ek van gelowige na ongelowige beweeg het, kan ek weer van ongelowige na gelowige beweeg. Baie van my familie en vriende glo steeds ortodoks, maar ek torring nie aan hulle nie – ek onthou baie goed wat my ortodokse / tradisionele geloof vir my beteken het. Wat ek (soms) nie verstaan nie, is dat baie slimmer mense as ek (predikante, teoloe, Bybelwetenskaplikes) steeds ortodoks glo: Hulle moes tog met dieselfde ”feite” (studiemateriaal) in aanraking gekom het waarmee ek in aanraking gekom het toe ek die Bybel intensief aan Tukkies se Telogiese fakulteit bestudeer het.