Ons ken almal die grappie dat ’n mens tieners in diens moet neem terwyl hulle nog als van alles af weet? Twieters is “tieners”. Wie twiet, weet klaar als en daar is geen ander uitweg nie.

Alles is deesdae swart of wit is, álles; grys en gekleurd bestaan glad nie. Grade is gif, nuanse is nonsens, skakering is swak, effentjies en nóg hier nóg daar. Jy is nie meer links of regs nie, jy is óf verregs óf oorhoeks links. Ons is weer by “verlig” en “verkramp” nou net nóg verder van mekaar vervreem: veerliggies (snowflakes, woke, sê die Engelse, asof jy halfslaap, halfdroom en gans te lig in die broek is) aan die een kant, en reddeloos bekrompe aan die ander. Ons leef in die oortreffende trap: Hierdie is die tyd van ergstes, slegstes, boosstes, sondigstes! Daardie verwronge uiterstes is natuurlik altyd aan die kant waar jy self nie is nie. Is jy regs, is die verrotting links; is jy links, is die drek regs. Ons bodder nie meer met tussenins nie.

Hierdie is ’n oorlog. Die weermag is met pantserkarre gewapen losgelaat, en is lekker magsdronk al drink niemand nie. Trouens, so lyk die nasionale diskoers. Hier word nie meer gepraat nie. Ons maak net geraas. Ons skreeu almal net harder. Gesprek het onmoontlik geword.

Dis toe ook glad nie so gesond om jou iewers in ’n hoekie te gaan afgrendel om te kyk hoe ekstreem jy daar kan word nie. Teen dié tyd wil jy óf vuur spoeg, óf jy wil die kombers oor jou kop trek en kyk of jy langer as Rip van Winkel kan slaap.

Ons staan voor Israel se Jordaan, Rome se Rubicon, Afrikaners se verskroeide aarde van 1902. Ons is die kerk by die kruis met Jesus wat skreeu God is weg. Ons is die gemeente langs die graf. Alles is dood. Tevergeefs! sê selfs die beste prediker.

Of is dit?

Is daar hoegenaamd nog lewe na afgrendeling en Covid-19? Lewe of dood? Swart of wit? Is dit al?

Aikôna! Die tyd toe jy ’n Ford van enige kleur kon koop solank dit swart was, is verby. En sedert Paassondag is daar so ’n veelkleurige verskeidenheid van nuwe opsies wat ons voorheen nooit voorsien het nie, ons het geen idee wat om te kies nie! Jesus, ’n mens, is God se regterhand. Hy hét gelewe, is dóód, én lewe weer. Nee, lewe en dood is by verre nie die enigste twee opsies waarvan jy net een mag kies nie. God klink vir my mos meer na die reënboog se skakerings van kleure, ’n volkleur kaleidoskoop.

Die standpunte wat ons het, al die beginsels en oortuigings waarvoor ons pa staan, is nie net maar ons eie kosbare gevoelens nie. Dit vertel ook wie ons dink God is: Ons woorde en ons dade onthul ons teologie, die aard van ons geloof. En as jy vir God verkeerd het, bedreig dit jou hele lewe, jou dood en alles tussenin.

As elke woord en daad eers hierdie toets moes slaag – Wie sê jy is God? Gee wat jy doen en sê lewe, of maak dit dood? – wat dan gaan jy ophou sê, en wat gaan jou laat práát?

Ek wil twee woorde aan die hand doen: een wat jy moet ophou gebruik (onmoontlik); en een wat jy maar kwistig kan rondgooi (Immanuel).

Onmoontlik is moord. Moet niemand met jou woorde doodmaak nie, jouself ook nie. Dis buitendien nie waar nie. Praat die waarheid oor God. Praat met die opstanding in gedagte. Jy kan: Immanuel.

Ek weet jy staan op ’n afgrond. Ek besef die gat voor jou maak jou duiselig, suig jou in. Ek gee nie voor ek weet wat jy gaan moet doen om weer lewe in te blaas in wat ineengestort het nie. Ag, hoe wens ek ek kon vir jou ’n klip uit die pad rol. Ek kan nie.

Wat kán ek doen?

  • Ek kan weer vir jou die klip wat voor die graf was, wys; hy lê nie meer daar nie.
  • Ek kan julle help onthou dat die kerk Sondag graf toe is om die koninkryk van God te gaan begrawe. Toe nou nie.
  • Ek kan jou herinner aan wat God vir Israel gesê het toe hulle op die Jordaanwal gestaan en vir die Beloofde Land bang was;
  • wat God vir Israel en Juda ook gesê het toe hulle in Babilonië in ballingskap was, sonder hoop dat daar in die bouvalle van Jerusalem ooit weer lewe kon kom.
  • Stel jou voor hoe dit was toe krygerpa’s sonder kind of kraai by afgebrande opstalle aangekom het. Die oorlog verby, hul lyding maar pas begin.

Hier is wat God in Deuteronomium 30 sê.

Doen niks.

6
Die Here jou God sal jou lewe en die lewe van jou nageslag aan Hom wy, sodat jy Hom sal liefhê met hart en siel. Dan sal jy lewe…

Laat jou lewe ’n slag aan God oor. Laat God ’n slag met jou regkry wat God wil. God wy jou lewe aan God.

En dan, wat dan?

8
Dan sal jy terugkom na die Here en Hom gehoorsaam en volgens al sy gebooie lewe wat ek jou vandag beveel.

9-10
…wanneer jy met hart en siel terugkom na die Here jou God, sal Hy Hom weer oor jou verbly soos Hy Hom oor jou voorvaders verbly het en sal dit met jou goed gaan.

As jy vandag oor die verskroeide aarde van jou lewe uitkyk, en jy weet nie waar om te begin nie, doen wat maklik is, eerste.

11
“Die gebod wat ek jou vandag beveel, is nie te moeilik vir jou nie. Dit is ook nie buite jou bereik nie.

12
Dit is nie in die hemel nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons opklim hemel toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie.

Wat daarvan dalk nog in die hemel was, het ’n paar Sondae gelede uit die hemel uit hier by ons opgedaag: Jesus, die opgestane Christus.

14
Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe.

Ek glo dat, so betekenisvol as wat dit was dat ons wêreld met Lydenstyd in duie gestort het, net so betekenisvol is dit dat ons die eerste treë buitentoe in Opstandingstyd gee. Jy kan nou al die krag van die opstanding van Jesus Christus gebruik en beleef.

15
“Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teenspoed aan jou voorgehou.

19
Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.

Dis wat opstanding nou al beteken: ’n hele wêreld naas net lewe en dood staan vir ons oopgedek.

Hóór vir God.

Staan op. Maak jou bed op. Gaan werk. 

En as jy praat, maak seker opstanding is op jou lippe.

 

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link