Daar is hierdie oomblik in die boek Haggai (2:3), waar Haggai vir Serubbabel die goewerneur, die hoëpriester Jesua en vir almal van die volk wat oorgebly het vra: Hoe lyk die nuwe tempel wat julle gebou het in vergelyking met die vorige een…?

Waarop die antwoord is: …dit steek eintlik so ’n bietjie af. Die volk wat oorgebly het van die ballingskap af en wat nou die tempel probeer herbou, het nie meer die arbeid, kundiges of hulpbronne tot hul beskikking om die tempel te herbou soos wat Salomo hom in sy glorieryke vorm laat bou het nie. Hulle probeer hul bes. Maar dit is net nie dieselfde nie…

Ek kan my indink dat diegene wat onthou hoe die tempel gelyk het, nou mismoedig en teleurgesteld is as hulle die nuwe gebou aanskou. Dit was tog soveel beter vroeër. Kyk hoe het dinge agteruit gegaan. Niks is meer soos wat dit was nie. Kyk waarmee sit ons nou.

Dadelik dink ek my in dat dit nie net hierdie verslete volk van duisende jare terug is wat teleurgesteld is met hoe dinge nou is nie. Ek hoor ook gereeld hierdie woorde wanneer ek mense hoor praat. Alles gaan agteruit. Niks is meer soos dit was nie. Alles was beter vroeër, kyk waarmee sit ons nou.

Ons misnoeë met die hede word al hoe verder aangevuur en uitgebuit deur die vermaak-industrie se fokus op media wat ons nostalgies laat voel. Dit is hoekom al hierdie nuwe weergawes van ou flieks so volop is deesdae. In 2019 alleen het daar flieks uitgekom soos Toy Story 4, Aladdin, The Lion King, The Addams Family en Mary Poppins Returns. Die kind in my juig, en Hollywood maak staat daarop.

Ons hou daarvan om terug te kyk. In die verlede voel ons veilig. Dit is bekend. Alles is eenvoudiger. En met die rooskleurige bril van nostalgie was alles net beter in die verlede. Maar as ons so vashou aan die verlede, beweeg ons nie vorentoe nie. Probeer ons nie nuwe goed nie. Het ons nie hoop nie.

Haggai gaan dan verder en sê vir die mense: Skep moed. Gaan aan met die werk. Moenie bang wees nie. God is in beheer oor alles. Aan Hom behoort alles. Kyk vorentoe na die toekoms.

Dit is Haggai se boodskap. Die verlede is weg en ons sal dit nooit weer terugkry nie. Maar hou aan werk, vertrou op God. God is besig en aan die werk in hierdie wêreld, daarom kan ons vorentoe kyk en glo dat God vir ons ’n goeie toekoms sal gee.

af
af
Deel met behulp van
Copy link