Die NHKA se Gemeente Krugersdorp-Wes dra ’n skat van kultuur en geloof in sy mure, en die hart daarvan is die pragtige Walcker-orrel wat sentraal in die kerk op die galery pronk. Hierdie orrel is nie net ’n musikale juweel nie, maar ook ’n monument van geskiedenis, gebou met die kundigheid van W van Loon, stigter van SA Orrelbouers.
Die orrel, vervaardig deur Suid-Afrikaanse Orrelbouers (Edms) Beperk in samewerking met EF Walcker & Kie van Orgelbau Ludwigsburg, Württ, Duitsland, is ’n bewys van die gemeenskap se toewyding aan musiek en godsdiens.
Die orrel is gedurende 1955-1956 opgerig en is die eerste orrel in Suid-Afrika wat ’n rugwerkpositief gehad het. Dit wil sê, daar is ’n hele reeks pype agter die orrelis geplaas wat afsonderlik van die hooforrel staan. Die orrel bestaan uit ’n ryke verskeidenheid van pypreekse, waaronder die 16-voet-basuin wat die gebou behoorlik laat bulder en die helder fluite die atmosfeer sommer laat skitter.
Die Walcker-orrel het ’n ryk geskiedenis van musikale aanbidding in Gemeente Krugersdorp-Wes. Dit is bespeel deur ’n reeks bekwame orreliste wat die klanke van die orrel tot lewe gebring het. Onder hulle is Stephanus Hofmeyr van der Merwe, algemeen bekend as Oom Hoffie, wat die orrel bespeel het van 1 November 1956 tot 19 Maart 2000. Na sy afsterwe is hy ter ruste gelê op die kerkgronde. Hy het in sy testament ’n bedrag aan die gemeente nagelaat vir die instandhouding van die orrel. Tannie Sophie het die orrel van Maart 2000 totdat Covid Suid Afrika getref het bespeel, en haar opvolgers sluit in David Marsden (Januarie 2022 tot Januarie 2023) en Pierre Smit (Januarie 2023 tot op tot hede).
Die orrel is weens gebrek aan fondse en Covid in 2016 laas gestem en is tot in Junie 2023 so gelaat as gevolg daarvan. Pierre Smit het in sy tyd as orrelis van die pypwerk wat stil geraak het, weer tot lewe gebring, die algemene stemwerk op die orrel gehandhaaf waar kennis dit toegelaat het, en die orrel weer tot amper 100% in werking gebring.
’n Belangrike geleentheid wag op die horison vir die Walcker-orrel en Gemeente Krugersdorp-Wes. ’n Inisiatief is geloods om ’n fondsinsamelingskonsert op 26 Oktober vanjaar te hou, waarvan alle opbrengste sal gaan vir die instandhouding en herstel van die orrel. Vir meer inligting oor die konsert en kaartjieverkope, kontak nhkwes.bookings@gmail.com of stuur ’n WhatsApp na Pierre by 066 288 8631 of Hayley by 082 898 5184. Hierdie konsert bied ’n uitstekende geleentheid vir die gemeenskap om saam te kom en die rykdom van musiek en geloof te vier. Die uitvoerende orreliste vir die konsert sluit in prof Theo van Wyk, prof Gideon Els en Pierre Smit.
(Ds Yolandé de Lange is leraar in Gemeente El-Flora)



