Die uitdrukking “nuwe normaal” word nou so baie gebruik, dis geyk nog voor dit gebeur het. Dit kom, sê almal, maar baie min waag nog om te sê hoe die nuwe normaal gaan lyk. Dis dalk ’n geval van leë kraan, hou toe jou bek, nè?

Nou ja, hier kom my nek.

Hierdie is ’n skoot in die donker, tien goed wat moontlik kan gebeur, en ewe waarskynlik nie eens ter sprake gaan kom nie.

1.   Giere en grille

Al wat ons hoor, is dat ons om die dood tog net nie moet agterbly nie. Om aan te gaan presies waar ons voor die afgrendeling opgehou het, is doodsonde. Die kerk was tóé al agter!

Kom ek begin dan met waarvan ek doodseker is: Die “nuwe normaal” is geen utopie nie. Ook nog nie die hemel nie. Verwondering moenie beheptheid word nie, en beheptheid ook nie verknogtheid nie. Wat nog altyd waardevol is, moenie sommer weggegooi word nie.

Giere gaan ook weer verby, sodra nóg ’n nuutjie die opwagting maak. Omstandighede het nuwe moontlikhede vorendag laat kom, en ons het ’n handvol nuwe vaardighede aangeleer, dalk die meeste van hulle digitaal. Sommige van hierdie nuutjies is goud werd, maar digitaal is nie vir alles ’n oplossing nie. Ons sal die koring van die kaf leer skei, die beste uitwan en behou.

2.   Kontak en kommunikasie

Egte kommunikasie is geen gril nie. Digitale kommunikasie is ’n nuttige aanwins in ons gereedskapskas. Om die media wat lankal tot ons beskikking is, vir verkondiging, onderrig, kontak maak en selfs sorg in te span, was tydig en ’n lekker uitdaging. Ons het nou ook ’n koste-effektiewe oplossing vir groot en langafstand bykomende vergaderings, moontlik ’n antwoord op groter ringe, veiliger kerkraadsvergaderings, en toegang tot doodgewone dominees met ’n skatkis vol gawes wat groothartig aanlyn deel wat hulle weet, en kollegiale en amptelike binnekerklike gesprek is nou moontlik en maklik.

Nie alles wat ons “ontdek” het, is nuut nie; ’n paar ou goed is net afgestof. Ons het hernude begrip vir die waarde van kontak maak en aansluiting soek, ’n heilige ontsag vir aanraking en oog-tot-oog, ons besef weer dat predikante alleen is en steun waardeer, en ons leer algaande dat leierskap en bestuur nie uitruilbaar is nie, en dat ons leierskap verkies.

Al hierdie goed het eie getye.

3.   Aanlynerediens

Aanlynbediening het gekom om te bly, ten minste vir die afsienbare toekoms. ’n Handvol gemeentes doen dit geruime tyd al; die NHKA en talle gemeentes van die Kerk het skitterende webwerwe. GLOmedia.tv kom op net die regte tyd, en eKerk staan ook sy nis vol.

Daar heers groot opgewondenheid ook oor die meer beskeie klankopnames en videogrepe van oordenkings en eredienste wat dominees op verskillende platforms uitsaai. Dis prima. Hoekom het ons nie lankal daarmee begin nie? Die middele was dáár!

Of ons nóg so opgewonde daaroor gaan bly wanneer eredienste hervat het en dit vir mense gemakliker geraak het om Sondae tuis te bly of rond te ry, want die WhatsApp-opname is goed genoeg, moet ons nog sien. En of diegene wat dit met afstandsnagmaalviering gewaag het, weer die sakrament sal kan terugbring kerk toe, is ’n vraag. En hoe volhoubaar is gemeentes nog as lidmate van die Kerk gemeentegrense verruil vir ’n swetterjoel potgooie te kies en te keur, en die kliniese bediening van aanlynkerk verkies bo die gekompliseerde saamleef met die feilbare mense van ’n gemeente? Ons het trouens reeds ingekoop: Die “nuwe normaal” gaan afhang van hoe ons sal kan uitstyg bo die beskikbare opsies wat aanlyn leef, en of ons bemarking gaan kan kompeteer.

Ons het eredienste hervat, maar ons uitsendings duur voort, tans nog omdat talle hoërisiko-lidmate liefs nie moet kerk toe kom nie. Of ons daarmee sal aanhou? Ek weet nie.

Nee, egte kommunikasie, ook op die internet, is geen gril nie; suiwer verkondiging ook nie, nooit nie. Stephan Joubert het getwiet dat dit nie gaan om kwantiteit nie, maar om die gehalte van die inhoud. Op Patheos het iemand gewaarsku: Onthou die ou op die internet is nie jou pastor nie! En die onderrok háng uit. Ons het skielik ’n groter gehoor, ’n kritiese gehoor, ’n gehoor wat dalk uitsaaivernuf, preektegniek en taalvaardigheid voorop stel om by “mooi preek” uit te kom. Daar is in die mou gelag oor die syblomme in Barack Obama se boekrak, en wat hy te sê gehad het, weet niemand meer nie. Dominees gaan dit ook oorkom. Daar is ook al in die hande gehuil oor die volslae onbegrip vir die evangelie in ’n “hoog aangeskrewe” preek wat op WhatsApp die rondte gedoen het. Doen jou huiswerk, Dominee, want hier en daar hoor iemand met ’n ouwêreldse bedrewenheid in hervormde teologie jou preek kopskuddend en met ’n tongklik aan, al is die klankkwaliteit en -redigering uit die boonste rakke.

En helaas, lidmate maak van preekopnames ’n kompetisie tussen predikante: dié een of dáái een? Nie almal van ons preek ewe goed nie, maar preek is nie al wat ’n reggeaarde dominee doen nie, en sommige gawes van die Heilige Gees vertoon nie so goed van kansels af nie. En soms, ja selfs dikwels, kom ons teologie ook nie die mas op nie. Dis ’n geval van goeie begrip wat net ’n halwe woord verg. ’n Dominee se preke aan ’n gelowige gemeente wat met haar in ’n wedersydse vertrouensverhouding staan, was nooit bedoel om met ’n klaskamer se fynkammetjies beoordeel te word nie.

4.   Virtueel is amper werklik

Ons hef ons oë op na die kuberruim. Gretige gelowiges soek graag meer, en leen dan hul ore uit aan wolwe in skaapsklere. Nee, die ou op die internet is nie (noodwendig) jou pastor nie, en bedoel dit nie met jou (net) goed nie! Googleloer jy, duik sektes se webblaaie bo-aan jou skerm op. Google word duur daarvoor betaal. Ons het almal al gewaarsku dat die internet, en sosiale media, nie (altyd) jou pel is nie, en met meer van ons nou dáár en met geloofsinhoud in aanvraag, is die gawe van onderskeiding nodiger as ooit. Kettery is in die kuberruim so algemeen en so geloofwaardig aangebied soos die fopnuus wat net iemand met die fyn insig van ’n Donald Trump kan raaksien.

Virtueel is byna-byna evangelie, maar nie heeltemal nie…

Hier het ’n vraag ontstaan na onderskeidingsvermoë, iets wat kennis en vaardigheid verg.

5.   Huiskerk

Dalk het ons regtig geleer huisgodsdiens hou? Boekevat en huisgodsdiens is terug, want dominees saai daagliks uit. Dis nuttig, want ons almal het die vermoede dat huisgodsdiens lankal ’n stille dood gesterwe het. Waar tevore geen huisgodsdiens gehou is nie, is die uitsendings dalk welkom.

Maar is die aflewering van kort prekies ’n hulp of ’n hindernis vir self lees en bid en nadink oor toepassings in ons eie huis en lewe? Die dominee op jou foon of Facebook kan op sy beste net veralgemeen. En voorbidding is goed, maar eie gebed is beter.

Die gelowige huisgesin moet self met God kuier.

Die uitdaging is dat ons dominees met uitsendings interaktief leer wees, met suggesties van verdere leesstof, aanlynkykgoed, gespreksvrae vir die huisgesin, en dergelike maniere om die gesin tuis oor God aan’t gesels te kry.

6.   Toerusting

Die aanlynkursusse vir dominees was ’n reusesprong in die regte rigting. Nie almal van hulle was tot dusver ewe nuttig nie, maar dat hulle daar is, is uitmuntend, en die moontlikhede is oneindig. En nee, dit pla nie dat selfs aanbieders met die tegnologie stoei nie, dis eerder bemoedigend. Met aanlynleer gaan kontak ongelukkig verlore, en ideale leeromgewings is ingestel op gevoelsmatige betrokkenheid. Lyftaal, oogkontak en aanraking, ’n fyn aanvoeling vir atmosfeer, kriewelrigheid of teruggehoue vrae en toepaslike response – al dié goed werk met nabyheid. Ek vermoed alle evangeliebediening werk so, en nie alles sal dus so geleer kan word nie. Maar die moontlikhede vir aanlyntoerusting is legio.

7.   Harde werklikheid

Aanlyntegnologie bied goeie moontlikhede vir kerklike administrasie en bestuur. Dis die harde werklikheid dat gemeentes begrotings moet laat klop. Ons is aan die Kerk toeganklike boekhouding verskuldig, en aan die gelowiges wat offers bring, aanspreeklik vir die bewaring en aanwending daarvan. Dat ons inkomste ingekrimp het, is miskien ’n gevolg van hierdie virtuele revolusie, maar dalk ook nie. Dat die Raad van Finansies weekliks beskikbaar was vir vraag-en-antwoord-sessies was innoverend en het waarde toegevoeg. Trouens, al die aanlynvergaderings wat ek kon bywoon, het ek nuttig en waardevol gevind. Om met en in die Kerk te “kuier”, het wat hard was aan hierdie werklikheid effens versag. Dankie! Ek kan aan baie dinge dink wat die Kerk wil doen wat dalk deur aanlyn met gemeentes en lidmate te praat, ons kerkkarretjie se padhouvermoë op hierdie hardepad sal verbeter.

Bedagsaamheid keer terug. Dis soberend om te besef dat deur ’n masker te dra en jou afstand te hou, jy iemand teen jouself beskerm. Dit word ’n metafoor vir hoe jou sonde iemand anders aansteek, en skade berokken. Dis ewe bedagsaam om aanspreeklikheid te aanvaar vir jou eie gedrag en gesondheid. Ek het bewus geword van hoedat ek mense bedreig laat voel. Ons leer mekaar se laste dra. Maar ek leer ook hoedat afstand ons afkoel. Ek leer dat ons in die “nuwe normaal” meer moeite moet doen met die vaardighede wat juis sosiale media ons laat verleer het: die woorde wat ons gebruik, die gebare wat dit onderstreep, die oë waarmee ons kontak soek, die gesigsuitdrukkings en lyftaal waarmee ons wys wat ons sê en nie sê nie, ’n glimlag en galante goeie maniere – al hierdie goed saam bou die brûe wat afstand oorsteek. ’n Elmboog is te hard, moet ek erken. ’n Handdruk en omhelsing werk vir my. Soene, nie juis nie. ’n Aanraking wel. Maar net ’n elmboog? Nee. Ek hoop dit kry spoedig end.

Die harde realiteit se skerpste angel is dat, met die afname in erediensbywoning, lidmate vergeet om te offer, en die kerkkas staan kaal. Minder in die kerk, verg meer van wie hier oorbly, en hierdie las word by die dag swaarder.

8.   Bagasie?

Ja, ek weet dis al dikwels gesê ons kan onder ’n boom ook kerkhou, en op die markplein kerk wees. Die vraag ontstaan of duur kerkgeboue nog nodig gaan wees. Ons kerkeiendomme was reeds onderbenut, met veel minder kerkgangers as toe die kerke gebou is. Hoe belangrik is geboue nog, of het hulle ’n las geword? Geboue het in die NHKA bakens geword van die Kerk se teenwoordigheid, al is die ledetal bra yl. Kerkgeboue is ook missionaal, en sê deur blote teenwoordigheid wat lidmate nie kan nie. En: Hoe gebonde is ons wat in die Kerk leef aan die identiteit en status wat indrukwekkende eiendomme verleen?

9.   Evangeliebediening

Dalk gaan gemeentes voordat hulle daaraan geld spandeer, weer mooi moet dink oor watter infrastruktuurbeleggings die grootste rendement sal oplewer: kerkgeboue en gepaardgaande geriewe, of pastorieë?

Soos sake nou staan, hier in afgrendeling, is samekomste taboe. Skrapse eredienste is nou aanvaarbaar, en ander gemeentebyeenkomste gebeur net nie. Wat gaan van evangeliebediening in die “nuwe normaal” die swaarste weeg?

Is wat die “nuwe normaal” vra, nie dalk ’n voltydse predikantsgesin nie, ’n dominee wat vanuit ’n woning in die gemeente hom/haar met die gemeente kan vereenselwig en kan huisbesoek op huisbesoek doen? Is die plek waarheen missionaal wees ons wou stuur en waarheen die “nuwe normaal” ons nou dwing, nie dalk die huise van ons gelowige (en nie so gelowige) lidmate nie? Is huisbesoek nie dalk nou die nuwe erediens nie?

Iemand bekla teenoor my die gevaar dat die “nuwe normaal” geloof en godsdiens nou só sal moet aanbied om gelowiges wat reeds nie kerkfluks is nie, net nog luier te maak. As dominees nie gemeet word aan hul basaarwinste nie, is dit aan hul afwesigheid met huisbesoek. Min besef die offers wat sowel fondsinsamelings as huisbesoek van predikante verg. Sê die “nuwe normaal” dominees gaan nog harder moet werk, en – durf ek dit vra – vir minder versorging?

10.   Plaaslik?

Sou aanlynbediening of meer informele aanbiddingsruimtes dalk die moontlikheid skep vir geografies groter gemeentes, minder dominees, meer koste-effektiewe bediening?

Ek voorsien ’n toutrekkery tussen twee voorkeure wat in tendense hul verskyning maak: Daar is, aan die een kant, ’n gul verwelkoming van eredienste uit ander gemeentes, aangebied deur dominees van ver. Daarmee saam kom geloofsuitinge wat die nodigheid vir ’n eie gemeente vervang. En aan die ander kant is daar ’n nuwe waardering vir die plaaslike gemeente en die “eie” dominee. Die ironie is wrang: Vir sommige gemeentes is dit nou klaar te laat. Daar was voor die grendeling al ’n verslae gelatenheid oor die inkrimping van eie gemeentes. Aan inkrimping het sedertdien nog niks verander nie; die pas het net versnel. Aanlynopsies bied troos, al is dit net effentjies, of het die waardering daarvoor nou so gedy dat plaaslike gemeentes nie meer so onmisbaar is nie? Juis nou, begin die skade wat ’n bankrot ekonomie aan aftreevoorsienings aangerig het, tande wys. Werkloosheid en armoede bring ontreddering teweeg, selfs onder die jeug wat meer veerkragtig moes wees, maar deur die sosiale diskoers lamgelê is. Hoe versorg ’n kerk sulke mense van ver af? Ek vermoed: Glad nie! Daarom is daar tegelyk ook ’n nuwe verbete vasberadenheid om die eie gemeente se laat oorleef, soms ten koste van sinodale verbande en werksaamheid.

Dis my gevoel dat plaaslike ekonomieë die swaarste gaan weeg. Die toekoms is plaaslik. Dis niks nuut nie. Dis inteendeel ’n terugkeer na voorheen. Al hoe meer hoor ek dat die “nuwe normaal” plaaslik bo sentraal verkies gaan word. Gemeenskappe gaan plaaslik organiseer, plaaslike werksaamheid gaan gesentraliseerde beheer en bestuur troef, gemeenskapsgedrewe handel wat werk met lojaliteit aan kleinsakebedrywe (want ons ken mekaar) gaan prys die loef afsteek. Al is dit dan nou net vir ’n rukkie, want prys is magtig.

Sinodale dienste sal meer as ooit hul nut vir die plaaslike gemeente moet kan demonstreer om die besteding daaraan te regverdig.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link