Sedert Januarie 2022 bevind ek my in die Verenigde Koninkryk (VK). Daar is baie verskille en ooreenkomste tussen die VK en Suid-Afrika, en deel van die avontuur sover is om agter te kom waar oorvleuel ons en wat – groot of klein – is anders en nuut.

Iets wat ek nou al raakgesien het, is dat daar in die meeste dorpe in die hoofstraat of in die kerkhof ’n monument staan wat die Eerste Wêreldoorlog herdenk. Ek praat nie van ’n eensame monument met graffiti en vullis nie. Inteendeel, dit word mooi in stand gehou en daar word gereeld blomkranse neergesit. Selfs die motors spog met groot plastiek papawerblomme op die enjinkap ter herinnering aan die oorlog. Met Remembrance Day word daar jaarliks onderneem om nie te vergeet nie. Die opoffering, die verlies, die verskrikking van ’n wêreldoorlog moet onthou word, omdat die wêreld, die mensdom, nie kan bekostig om dit te vergeet nie. Rusland se inname van Oekraïne maak dus, met goeie rede, heelwat mense onrustig…

Die dag toe ek gehoor het dat Russiese troepe Kiëf in besit neem, het ek na die kaart gaan kyk. Ewe skielik het Europa nie baie groot gevoel nie. Ek ken mense in Oekraïne se buurland Pole. Ek ken mense in Nederland, Duitsland en België. Hoe lank voordat ander Europese lande, die Verenigde Koninkryk en Amerika ook meer aktief betrokke raak? Die heeltyd wonder ek hoe ek en my gesin geraak sal word deur hierdie geo-politiese krygsoefeninge. Daar is die gesegde dat wanneer olifante baklei, dit die gras is wat seerkry. Dit is waar van die situasie nou in die Oosblok. Politieke leiers se magsgreep verwoes nou tallose gewone mense se lewens. Ons sien reeds hoe derduisende vlugtelinge Oekraïne se buurlande instroom, en intussen begin die res van die wêreld die knyp van stygende pryse voel.

As teoloog kan ek ook nie anders nie as om dieper te dink. Net soos ’n pandemie, onderbreek iets soos ’n oorlog ook ’n mens se alledaagse bestaan en lewe. Dit is ’n onwelkome versteuring wat jou uitdaag en dinge laat bevraagteken.

Te midde van ’n huidige krisis, is dit egter dikwels moeilik om perspektief te kry. Maar as ons terugkyk, en onthou (soos die Engelse so hard probeer doen), kan ons iets uit ander mense se ervarings leer. Want krisisse, in watter vorm ook al – vloede, vure, siektes, oorloë – was daar nog altyd.

As ons nou wil praat oor ’n samelewing in krisis, kan ons eintlik nie anders nie as om terug te gaan na die Ou Testament en die volk in ballingskap.

Toe die weermag van Babilonië Jerusalem finaal in 587 vC verwoes het, val Juda en het die Dawidskoningshuis na 400 jaar tot ’n einde gekom. Terselfdertyd is Salomo se tempel, wat vir meer as 350 jaar die sentrum van Israel se godsdiens was, verwoes. Sodoende het die priesterdiens tot ’n einde gekom, die instrument waardeur tot God genader is en God se teenwoordigheid by die volk sigbaar was. Deur hierdie verskriklike gebeure het die volk hul land, tempel, koning en priesters verloor – die vier hoekstene van Israel se geskiedenis, hul identiteit en hul verhouding met God.

Die ervaring van die ballingskap, sy aanloop, die proses van wegvoering en die uiteindelike nuwe bestaan in ’n vreemde land, was ’n massiewe lewensontwrigting en krisis in die lewe van die antieke Joodse gemeenskap. Alhoewel die omvang van die Judese ballingskap in alle waarskynlikheid nie so groot was in terme van getalle nie – sommige geleerdes skat dat omtrent net 3 000 tot 4 000 mense weggevoer is – was die simboliese betekenis van die verlies veel groter. Die ballingskap het mense se vertroue en geloof in ’n betekenisvolle en ordelike wêreld omvergewerp, wat gelei het tot allerlei teologiese vrae:

  • Wat het van die verbond geword?
  • Het die God van Israel verloor?
  • Kan die God van Israel aanbid word in ’n vreemde land?
  • Kan God aanbid word sonder die tempel?
  • Hoe kan hulle, die volk, oorleef so ver van God se teenwoordigheid af?
  • Wie is hulle, as hulle nie meer ’n tempel of land het nie?
  • Sal God hulle kan red?
  • Hoekom het dit gebeur?

Die ballingskap was ’n betekenismakende (meaning making) gebeurtenis wat byna elke faset van die lewe, vir die primêre slagoffers én vir die daaropvolgende gemeenskappe wat nie eerstehands die ballingskap ervaar het nie, beïnvloed het.

Skriftuurlike profesieë – dit is nou geskrewe profetiese tekste soos wat ons in die Ou Testament vind – was ’n doelbewuste literêre besinning oor die trauma, ontwrigting en verwoesting van die ballingskap. Hierdie betekenismakende literatuur was bedoel om vir diegene wat persoonlike of samelewingskrisisse beleef, hoop en insig te gee. Dit bied ’n alternatief vir die dood en verwoesting wat hulle ervaar, en skep eerder ’n taal van hoop wat ’n nuwe toekoms vir die oorlewendes bedink.

’n Paar dekades later het die Persiese Ryk die Babiloniërs verslaan en die Judeërs weer laat terugkeer Jerusalem toe. Die mense wat teruggekom het, het nooit weer die Dawidskoningshuis teruggekry of ’n selfstandigheid as staat ontvang nie. Eerder het hulle ’n tempelgesentreerde gemeenskap gevorm, wat diep beïnvloed is deur hul ervaring en die lesse van die ballingskap.

Die worsteling met diep geloofsvrae en hul ervaring van die ballingskap het die Joodse godsdiens tot in sy wese verander, en ons sit vandag nog met die erfenis daarvan. Die ballingskap was een van die hoofdryfvere vir die skepping en bewaring van vele van die Bybelse tekste – tekste wat ons vandag nog lees en wat ons lewens betekenis, sin en rigting gee.

Dit is beduidend, dink ek, om te sien dat daar uit die moeilike tye dikwels groei en verandering plaasvind. Dit is ’n moeilike en pynlike proses, maar tog sien ons dat samelewings, mense, teologie en godsdiens na sulke krisistye groei en ontwikkel op dikwels onvoorsiene maniere. En soos veral met die ervaring van die ballingskap, was mense kreatief besig om hoop en uitkoms te soek in hul verlede, hede en toekoms.

Die angstige, ontwrigtende en onsekere tyd waarin mense hulle bevind, is ’n tyd wat ook geleenthede bied om nuut en kreatief oor die verkondiging van die evangelie van Jesus Christus na te dink. Veral ook wanneer ons dink aan Jesus Christus se lyding aan die kruis, bied dit vir ons ’n geleentheid om ook te groei in ons geloof. Jesus ken swaarkry. Hy weet hoe dit voel om bang en magteloos te wees. Net soos wat ons, en soveel ander, veral daar in Oos-Europa, ook bang en magteloos voel. Dit maak weer eens die inkarnasie van Jesus Christus op ’n ander manier vir ons werklik en aangrypend.

Die aard van ons menswees is nou ongelukkig so: Ons sal heel waarskynlik eers as ons oor jare terugkyk, kan sien hoe huidige krisisse mense, samelewings, die kerk en teologie gevorm en verander het. Tog is die wonderlike dat ons as gelowiges hierdie skatkis het van vorige mense se ervaring, wat opgesluit is die Bybel. Net so kan ons ook onthou, kan ons ook leer uit die verlede, en gereedskap en hulpbronne kry om die hede en die onbekende toekoms met hoop en vertroue te navigeer.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)