Toe ek op skool was, het my predikant vir my ’n storie vertel wat my bygebly het. Hy het my vertel van ’n jong seun wat op ’n dag ’n vreemde gebruik in sy gemeente bevraagteken het. Hy het waargeneem dat die lidmate tydens die erediens, met ’n spesifieke lied, kant toe draai en na ’n leë wit muur staan en kyk terwyl hulle sing.

Dit het die seun laat wonder hoekom hulle so ’n ding sou doen sonder rede of doel. Hy het toe sy ouers gevra waarom hulle op hierdie wyse optree. Die ouers se antwoord was eenvoudig: Dit is hoe ons dit nog altyd gedoen het.

Hierdie antwoord het die seun vir seker nie vrede gegee nie. Inteendeel, hy het met meer ywer na die antwoord gesoek. Hy gaan toe na sy predikant en vra vir hom dieselfde vraag. Die predikant antwoord: Vandat ek by hierdie gemeente is, doen ons dit so. Dit was baie frustrerend. Die seun, in sy moedeloosheid, besluit toe om na die oudste lidmaat toe te gaan om vir haar te vra waarom hulle hierdie vreemde gebruik uitoefen. Haar antwoord het hom totaal en al verstom. Sy het gesê: Jare terug was die woorde van die lied teen daardie muur geverf, maar na al hierdie jare het dit afgedop.

Dié storie het my laat besef dat hierdie een van die Kerk se grootste hindernisse en tekortkominge is. Ons het jare lank probeer om onsself te oortuig al wat ons moet doen, is om mét die tye te wees; ons moet net die Kerk vir die kinders relevant maak, lekker maak, of selfs cool maak. Daarom het ons verskeie dinge gedoen en selfs ons eie tradisie verwaarloos om die kinders in die Kerk te hou. Maar as ons eerlik is met mekaar, wat beteken dit werklik om relevant te wees?

Dit wil voorkom of dit nie soseer gaan oor die musiek wat ons speel of die jong dominee wat op die kansel preek nie. Dit gaan oor soveel meer as dit. Om relevant te wees vir die jeug vandag, gaan meer oor die bewustheid van die jeug in die Kerk as wat dit gaan oor die gebruike van die Kerk.

Ek dink aan myself toe ek nog as ’n hoërskoolkind vir die eerste keer die waarde van die Kerk se gebruike besef het. Dit het nie gekom met vernuwing van liturgieë of musiekinstrumente nie. Dit het eerder gekom met my bewustheid oor wat in die erediens plaasvind. Dit het gekom met ’n bewustheid rondom wat in die Kerk aan die gebeur is. Dit is nie dat die Gesange van die Kerk vervelig is nie, dit is bloot dat die jeug nie die waarde daarvan besef nie. Daar is vir seker ’n tekort aan bewustheid.

Richard Rohr skryf: During Paul’s lifetime, the Christian church was not yet an institution or a centrally organized set of common practices and beliefs. It was a living organism that communicated the Gospel primarily through relationships. This fits with Paul’s understanding of Christ as what we might call an energy field, a set of relationships inside of which we can live with integrity. Today’s support or recovery groups are good examples of these relationships.

 In hierdie stelling lê die waarde van ons Kerk en die wyse waarop ons relevant vir ons jeug gaan wees. Die jeug is nie die toekoms van die Kerk nie, hulle is die Kerk van nou. Dit beteken dat die tipe verhouding wat die jeug met die Kerk uitoefen, moontlik die sleutel kan wees tot hul betrokkenheid. Ons behoort hulle te bemagtig en ’n stem vir hulle te gee wat baie meer waarde dra. Sodat die Kerk ’n lewende organisme, ’n ware liggaam vir hulle kan wees. Om relevant te wees, gaan nie oor wat ons as gemeenteleiers of predikante met die Kerk maak nie, maar oor wat hierdie generasie (die jeug) daarmee maak. Dit gaan oor hoe hulle in die ruimte van die Kerk funksioneer. Al wat ons behoort te doen, is om vir hulle daardie ruimte moontlik te maak.

Dit wil lyk of die Kerk in baie opsigte meganies funksioneer. Meganiese, stap-vir-stap-liturgieë en -ordes, sonder dat enige persoon (net soos in die verhaal van die seun en die betekenislose muur) weet waarom hulle sekere dinge doen. Die Kerk is soms soos daardie gemeente wat na ’n muur staar sonder om te weet waarom hulle dit doen. Die vraag is of ons vir die jeug ook net sê: Dit is hoe ons nog altyd dinge doen. Of gaan ons eerder uitgaan en by die jeug ’n bewustheid van die Kerk kweek wat waarde en substansie dra? Om eerder ’n kerk te wees wat die woorde van Filippense 1: 9-11 sal eggo:

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.

af
af
Deel met behulp van
Copy link