Daar word (anekdoties) vertel van ’n keer toe Albert Einstein per trein gereis het na ’n kongres. Die kondukteur kom verby om kaartjies na te gaan. Die verstrooide Einstein soek en soek – in sy jas se sakke, in sy aktetas, oral, maar hy kry nie sy kaartjie nie. Die kondukteur stel hom gerus: Professor, moenie bekommerd wees nie, ek weet wie u is. Ek vertrou u. Maar toe die kondukteur omkyk, sien hy hoe Einstein op sy hande en knieë onder die sitplek soek. Professor, herhaal hy, u hóéf nie u kaartjie te soek nie. Ek weet mos wie u is. Einstein kyk op en antwoord: Ja, ek weet ook wie ek is, maar ek móét die kaartjie kry, want ek het geen idee waarheen ek op pad is nie…

Ek vermoed baie van ons voel soms presies só. Ons is op pad êrens heen – maar waarheen, en waarom? Waarheen neem hierdie wegholtrein ons? As jy nie weet waarheen jy op pad is nie, hoe sal jy weet wat nodig is om daar te kom – en hoe sal jy weet jy is op die regte pad? En as jy nie weet waarheen jy op pad is nie, kan jy dalk eindig op die heel laaste plek waar jy wil wees.

Ook ons geliefde Kerk is volstoom in beweging. Die afgelope Algemene Kerkvergadering het belangrike vrae gevra oor ons identiteit, toekoms en bestemming. Sommige antwoorde is voor die hand liggend; ander sal mettertyd duideliker word. Natuurlik is wié ons is nie so belangrik soos wie s’n ons is nie – en waarheen ons op pad is, is nie so belangrik soos saam met Wie ons op pad is nie.

Wanneer ons weer op ons knieë rondskarrel op soek na ’n aanduiding van ons bestemming, kom ons bly sommer net dáár – op ons knieë. Ons kan nie hierdie opwindende dog moeisame en uitdagende reis aanpak sonder gebed nie. Ons is wel aan die beweeg, maar is ons onderweg met ’n doel? Dagboeke is deesdae voller as harte, en die nuus verander vinniger as die menslike vermoë om dit te verwerk. Ook die kerk gaan soms gebuk onder die gejaag na oorlewing in plaas daarvan om te floreer op die ritme van ons roeping.

Wanneer ’n mens eerlik raak, hoor jy moontlik jouself: Ek weet wie ek is, maar ek weet nie meer waarheen ek op pad is nie. En tog bring God deur die eeue dieselfde versekering: Ék sal vir jou die pad wys. Die digter van Psalm 25 verstaan iets daarvan. Hy bid: Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. En tydens sy opregte soektog ontdek hy ’n wesenlike waarheid: Die Here is goed en regverdig; Hy wys selfs vir sondaars die pad aan.

Dit is die wonder van genade – selfs wanneer ons op verkeerde paaie afdwaal, bly God ’n gids wat nie moeg raak nie. Hy ken elke afdraaipaadjie, elke onverwagse ompad, elke stasie waar ons voortydig wil afklim. Psalm 119 herinner ons: U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. Die lig van God se Woord is nie ’n soeklig wat kilometers vooruit skyn nie – dit is ’n lamp wat genoeg lig gee vir die volgende tree, maar nooit soveel dat ons self beheer kan oorneem nie. Dít is hoe geloof werk.

Toe Jesus se dissipels onseker was oor die pad vorentoe, het Hy vir hulle gesê: Ek is die weg, die waarheid en die lewe (Joh 14: 6). Hy is nie net die gids op die pad nie – Hy ís die pad. Dít is die geloof van pelgrims – mense wat nie vasgeanker is aan ’n plek nie, maar aan ’n Persoon. En in daardie verhouding lê ons hoop, selfs wanneer die landskap om ons vinnig verander.

In die Adventstyd word ons herinner aan die Lig wat na die wêreld gekom het – nie toe alles helder en mooi was nie, maar toe dit donker en onseker was. Onder die swaar juk van Romeinse heerskappy het mense gehunker na vryheid, identiteit en hoop. En toe breek die Lig deur. Immanuel. God mét ons. Elke Kersfees herhaal daardie refrein: Ons bestemming is belangrik – ons Reisgenoot nog méér so.

En ons staan ook weer op die drumpel van ’n nuwe jaar – ’n jaar nog ongetem, met sy eie storms, uitdagings, moontlikhede en verrassings. En ons voel soms soos nomades in ’n niemandsland, verdwaal aan die wêreld se verkeerde kant (Richard van der Westhuizen, uit Dorsland).

Ongeag hoe goed ons beplan, ons kan nooit seker wees dat ons nie soms gaan verdwaal nie. Wanneer die nuwejaartrein die stasie verlaat, bid ons die woorde van Gesang 280:

Lei my, Heer, na dié bestemming – in u Woord my opgedra. Laat my leef en werk met vreugde, want dit sal volharding vra. Heer, u lyding bring bevryding – al ons skuld het U gedra.

Hierdie uitgawe is my swanesang as redakteur van Die Hervormer. Dankie vir die reis. Dit was vir my ’n groot voorreg. Ek glo en vertrou dat die nuwe redakteur en redaksie die Kerk se vlagskip-publikasie na nuwe hoogtes gaan neem.

’n Geseënde Kersfees vir elke leser – en mag 2026 alles wees wat ons gewens het, waarop ons gehoop het, en waarvoor ons gebid het.