In Lukas 6: 36 (AFR2020) roep Jesus gelowiges op om barmhartig te wees soos julle Vader barmhartig is. Dit word egter al hoe moeiliker om standhoudend barmhartig te wees op terreine waar dit regtig nodig is. Op gemeentevlak werk gemeentes hard om ’n verskil in hul gemeenskappe te maak. Waar die Kerk deur Rata, die DPS-pleegsorghuise, TOIBO en Ons Tuis spesialisdienste vir bejaardes en kinders aanbied, word die uitdagings al hoe groter.
Die Algemene Diakensvergadering het Plesion in 2007 as ’n niewinsgewende organisasie in die lewe geroep om meer standhoudende ondersteuning aan bogenoemde instansies te bied. Plesion het die opdrag begin deur ’n eiendomsmaatskappy, Khesed, te stig wat geleenthede wat die verhuring van eiendomme bied, wil ontgin. Dit is deel van ons langtermynstrategie.
Onder die Light-for-a-Child-sambreel wil Plesion geleenthede wat sport bied, benut om fondse in te samel. Hierdie fondse is bedoel om hulp op die korttermyn te verleen.
Die volgende inisiatiewe val onder die die Light-for-a-Child-sambreel:
- Drive-for-a-Child
- Walk-for-a-Child
- Run-for-a-Child
- Swim-for-a-Child
- Ride-for-a-Child
- Arts-for-a-Child
Die kanse wat fietsry bring, word weer deur die Ride-for-a-Child-inisiatief ontgin. In 2025 het ’n klompie dapper mense 1135 km in die Munga-bergfietswedren aangedurf om fondse vir Rata te genereer. Met die Plesion 25/25/25 Run-for-a-Child het 12 drawwers 250 km in 25 ure kafgedraf, en R250 000 is ingesamel. In Februarie vanjaar het ’n klompie swemmers aan die Swim-for-a-Child-projek by Kroondal deelgeneem. Meer oor hierdie uitdagings elders op die bladsy.
Drive-for-a-Child
Gholf is ’n handige manier om fondse te genereer en Drive-for-a-Child-gholfdae het gegroei van ’n nederige begin tot ’n uiters suksesvolle jaarlikse projek ten bate van Rata. Die gholfdag vind hierdie jaar op 20 Augustus by die pragtige Silver Lakes Gholfbaan plaas. Hierdie gholfbaan is die tuiste van die Drive-for-a-Child.
Die Drive-for-a-Child-span wat hard werk agter die skerms
Silver Lakes Gholf Club, die tuiste van die Rata Drive for a Child
Walk-for-a Child
Walk-for-a-Child is in 2025 by twee gemeentes se feeste aangebied – die Magaliesfees by Gemeente Oos-Moot en die Kaalvoet Karnaval by Gemeente Noordwestelike Pretoria. Hoewel dit kan lyk of ons vir vyf ure onsself moeg stap op die loopband (treadmill) om nêrens heen te gaan nie, betaal stappers ’n deelnemersfooi en word hulle geborg om fondse vir kindersorg in te samel.
Ons sien uit na ’n nuwe Walk-for-a-Child-inisiatief – die Trans Kruger Trail (TKT). Hierdie unieke staproete in die Kruger Nasionale Park begin by Crooks Corner in die noorde en eindig by Malelanehek in die suide van die park. Dit word in ses bene van ses dae elk gestap wat oor drie jaar versprei is. Fred Paynter (jr) gaan die staptog tussen 2026 en 2028 aanpak om fondse vir dié projek in te samel.
Fred en Anette Paynter wat die TKT vir Walk-for-a-child stap
Dr Martin Jansen van Rensburg hou goeie toesig by die Kaalvoet Karnaval. Hy is die koördineer die Walk-for-a-Child-projekte
Run-for-a-child en Swim-for-a-child (Dr Anet Dreyer-Krüger)
Run-for-Child en Swim-for-a-Child was hierdie jaar in byna dieselfde formaat: ewe nat! Albei fondsinsamelings was swaar en lekker en baie suksesvol! Nie een van die ander wat saam met die dominees deelgeneem het, het gedink dat dominees so lekker nonsens op ’n lang pad of langs die swembad kan praat nie. Maar een ding is seker – hulle wil almal volgende jaar weer deelneem!
Die Plesion 25/25/25 Run-for-a-Child het op 17 November by die ATKV-Buffelspoort plaasgevind. Ons het die 250 km in die 25 uur-tydperk in skofte regdeur die nag in baie nat toestande en gly-gly voltooi.
Die doelwit van R250 000 is ook bereik. Maar ’n sekere dominee (ons sal nie ds Johnny Young se naam in die verband noem nie!) het die span beloof dat die pad baie plat sou wees, maar daardie belofte het stil-stil saam met die energie teen die bulte afgegly…
Die swemmers van Swim-for-a-Child se doel was om elk ’n kilometer te swem om 12 km binne ses uur te voltooi en R24 000 in te samel. Daar was egter ‘n paar ooryweriges wat geglo het in oortollige goeie werke, dus is daar gesamentlik 36,7 km binne die afgebakende tyd geswem.
Hoekom wil julle dit doen? Dis nou al ’n leuse onder die for-a-Child-deelnemers: Vir oom Stephen se kindertjies! En vir kindertjies wat swaarkry, kan ons mos ook ’n bietjie swaarkry!
Die Run-for-a-Child-span
Die Swim-for-a-Child-span
Ride-for-a-Child (Alphonso Theron)
In 2023 wou ek aan die die Munga deelneem om ’n droom op my bucket list te vervul. Maar ek wou nie net vir myself ry nie. Ek wou ry vir ’n doel.
Daarom het ek hande gevat met Rata Social Services wat na mishandelde en verwaarloosde kinders omsien.
My deelname aan die Munga het egter rampspoedig geëindig toe ek weens ’n ernstige kniebesering moes onttrek.
Aan die begin van 2025 het ek vir dr Wouter van Wyk uitgedaag om ’n span predikante van ons Kerk vir die Munga Équipe-afloswedren van 2025 in te skryf. Ons kon drie predikante motiveer, en ek en Chris Reyneke het by die span aangesluit om die vyftal vol te maak.
Die span wat aan die wedren van 26 November tot 1 Desember deelgeneem het, was dus ek, dr Wouter van Wyk, ds Schalk Zastron, Chris Reinecke en ds Martin Meyer. Riaan Loots en Annetjie van Wyk het aan die solo-wedren deelgeneem. Conrad Blything het opgetree as ons bestuurder.
Kom word deel van die Ride-for-a-Child-familie. Ek kan ongelukkig weens beserings nie aan die 2026-uitdaging deelneem nie. Ons het daarom nuwe ryers nodig wat bereid is om die uitdaging aan te pak. Kom ry saam, of skenk R1 000 vir ’n kind in nood. Ons het jou nodig!
Elke kilometer wat gery word en elke rand wat gegee word, help om ’n kind se toekoms te verander.
Die Ride-for-a-Child-span
Maklik is dit nie! Foto: Erik Vermeulen
Arts-for-a-child
Dis het einde niet!
Die Arts-for-a-Child-projek wat op 31 Augustus afskop, voltooi die sirkel van projekte onder die Light-for-a-Child-sambreel. Dit neem die vorm van ’n kunskompetisie aan waarby kinders betrek sal word. Beoordeling vind in September plaas en die wenners sal tydens ’n gala-aand in Oktober aangewys word.
Dankie!
Ons is dankbaar teenoor elke deelnemer, donateur en borg wat gehelp het om meer as R600 000 in die boekjaar geëindig Februarie 2025 met hierdie verskillende Light-For-a-Child-inisiatiewe in te samel. Julle toewyding en ondersteuning het ’n substansiële verskil gemaak aan al die kindersorgprojekte waarby ons as Kerk kollektief betrokke is.
So bou ons saam ’n brug oor die troebel waters waarin weerlose kinders hulself bevind. Of dalk nog beter – raak betrokke by een van die projekte en wees self die brug.
(Ds Stephen de Beer is leraar van Gemeente Noordwestelike Pretoria en dien op die Komitee vir Diakonaat,
dr Anet Dreyer-Krüger is ’n nie-diensdoenende predikant met ampsvoorreg en
Alphonso Theron is ‘n lidmaat van Gemeente Philadelphia en die ambassadeur van Ride-for-a-Child)
Gladde paaie tydens Run-for-a-child
Elfreida Oelofsen by die Magaliesfees
Hannelie Pretorius kaalvoet by die Kaalvoet Karnaval 2025