Ek sit op die terras voor die gastehuis hoog teen die berg in Waverley, Pretoria. Ek sit daar na ’n lang dag se werk tydens ’n kursus en kyk uit oor die stad se liggies, terwyl ek oor die dag reflekteer.
Ek kyk eers na die mooiheid, en die romantikus in my ervaar die oomblik. Maar dan, wanneer ek ’n rukkie lank na die liggies sit en kyk, word die pastor in my wakker, en ek besef elke liggie verteenwoordig ’n persoon of gesin met hul eie lewens en uitdagings en vrese. En dan word die mens wat besorg is oor die natuur in my wakker, en besef ek elke liggie beteken dat daar op die een of ander manier elektrisiteit opgewek moet word. Dat daar tonne uitlaatgasse en rook en roet van kragsentrales die lug ingestuur word.
Op daardie oomblik kom ek te staan voor ’n konfliksituasie. Aan die een kant verstaan ek basiese behoeftes en vooruitgang, en weet ek wat mense van dag tot dag nodig het. Hoe dan anders, ek is tog in die eerste plek ’n pastor. Maar ek besef ook wat ons vooruitgang, ons basiese behoeftes, aan God se skepping doen, die skepping waarvan God gesê het dat ons dit moet bewoon en bewerk, maar ook moet bewaar. Kyk ek na die liggies voor my, wonder ek hoe Pretoria se Mootgebied gelyk het voor die strate, die huise, die liggies… Trouens, so ver ek van hierdie terras af kan kyk, sien ek net liggies. En so besef ek, ja-nee, ons het die bewoon ernstig opgeneem, so ook die bewerk… My probleem kom egter by die bewaar, want ek is nie seker of ons die skepping wat God aan ons toevertrou het, enigsins bewaar soos wat Hy van ons verwag nie.
’n Week of twee gelede het iemand van my vorige gemeente, Groot Marico, my genader om ’n petisie te onderteken teen die soveelste poging om mynregte in die opvanggebied van die Marico-oog en Marico-rivier te kry. Die wins vir die nikkel en diamante wat hulle hoop om te ontgin, sal seker groot wees. Dit is jammer die koste vir die mynhuis se wins is dat die lewensaar van duisende gesinne afgesny sal word. Om by die nikkel en diamante uit te kom, sal deur die sensitiewe dolomietformasies gemyn moet word, wat gevaarlike swaarmetale in die uiters sensitiewe ekosisteem sal stort en die water van een van die laaste skoon riviere in die land onbruikbaar sal maak vir menslike gebruik en landbou.
Dieselfde kommer beleef ek oor die beplande ontginning van aardgas in die Karoo en die soeke na olie in die Okavangodelta.
Ontwikkelaars en besighede skree vooruitgang, vooruitgang! Die hartseer is egter dat die prys wat die natuur, God se skepping, moet betaal vir ons sogenaamde vooruitgang en wins en ’n beter lewe, baie hoog is.
Dis weens hierdie kommer wat ek het oor die blou planeet waarop God ons geplaas het as rentmeesters wat mag bewoon en bewerk, maar wat ook en veral moet bewaar, dat ek prof Andries Breytenbach gevra het om vir ons ’n voorbladartikel oor rentmeesterskap te skryf. Prof Breytenbach wys in sy laaste paragrawe daarop dat ons as Kerk en predikante van die Kerk die verantwoordelikheid het om die evangelie suiwer te preek, maar dat ons ook nie langer kan stilbly oor die impak en gevolge van ons ingryping in God se skepping nie. Die Kerk mag eenvoudig nie langer stilbly nie.
Ek is van mening dat ons as Christene nie langer na ander mense kan kyk om ons bewaringsopdrag uit te voer nie, maar dat ons aktief by die bewaring van God se skepping betrokke moet raak. Begin net, al is dit klein; al begin ons net met herwinning van plastiek, glas en papier, doen ons al baie.
Ons het dr Barry van Wyk gevra om vir ons vir bladsy 3 ’n artikel te skryf oor die besluit van die laaste Algemene Kerkvergadering dat ringe in die Kerk moet saamsmelt om meer effektiewe werk in ringsverband te verseker. Hy verduidelik die proses en wys op ’n praktiese manier hoe ’n vergadering om die nuwe ring te konstitueer, gehou kan word. Soos altyd, is sy artikel leersaam en prakties. Mnr Nándor Sarkady, argivaris van ons Kerk, vertel ook die interessante verhaal van die vorming van ringe in ons Kerk sedert 1909.
Op die middelblad deel ds Thomas Joubert sy ervarings en ’n paar foto’s van hul staptog in die Visriviercanyon. September is die maand wanneer die skepping weer ontwaak na die winterkoue, en dis die tyd wanneer ’n mens veral bewus is van die skepping wat God aan ons toevertrou het. Ds Joubert se artikel laat ons iets van hierdie grootsheid beleef.
Maar ons, ons aan wie God sy skepping toevertrou het, kom ons maak erns met sy skeppingsopdrag. Kom ons skuif die klem weg van die bewoon en bewerk, en gee meer aandag aan die bewaar.