Hier sit ons paar Suid-Afrikaners in die noorde van Kanada, in die klein dorp Lac La Biche met sy ongeveer 10 000 inwoners. In die winter is dit hier maklik tot minus 40/45 ºC en in die somer plus 30 ºC.

Soos dit algemeen hier in die land is, word die dorpie ook deur die owerheid ondersteun met alle geriewe, soos ’n hospitaal, kliniek, polisiestasie en selfs ’n ambulansvliegtuig. Ons is baie gelukkig om omtrent 13 Suid-Afrikaanse dokters hier te hê.

Die uitvoerende gesag is meestal gesetel by die kantoor van die burgemeester. Die burgemeester speel in alle gevalle ’n belangrike rol. Hy het die reg om plaaslike regulasies af te kondig en in te stel, wat dan wettig is.

Op 5 Maart 2020 het ons kennis geneem van die vreemde griep wat mense afmaai. Vir ons was dit in die verte en nie naby ons nie. Toe die owerheid die restaurante, eetplekke en skole sluit, het ons begin bang word. Skielik het ons nie meer kerk gehad nie en ons wat gereeld Nagmaal gebruik, het afgesluit gevoel; om elke dag saam met vriende koffie te drink, is summier gestaak. Politiek en geloof word baie min tydens dié kuiers gepraat – dit is taboe. Soms was ons tot 14 vriende bymekaar vir so ’n uur of wat. Nou was alles skielik nie meer toelaatbaar nie.

Ons dorpie was skoon! Die mense het geleidelik almal maskers begin dra en nou was daar genoeg parkeerplek by enige winkel. Die strate het stil geword. Kuier was uit. Ons het almal in afsondering by die huis gebly. Van die mense het nie meer werk gehad nie en dit was moeilik, maar die owerheid het vir hulle gesorg.

Waar ons elke oggend en selfs na kerk op Sondae bymekaar was, is daar toe skielik ’n stilte. Hierdie stilte was soos afwagting op wie eerste daardie “doodsvonnis” gaan kry. Gelukkig het ons kerk, die Lutherse Kerk, onmiddellik die tegnologie gebruik, en ons is derhalwe weer so bymekaar gebring. Toe die eerste gevalle hier aangemeld is, het ons soos bang mense begin leef: Bly net by die huis!

Nou is dit maskers, hande was en afstand hou. Hierdie mense is baie wetsgehoorsaam en die virus het die dorpie eers laat bereik. Die grootste getal aangetastes was omtrent 95 mense, waarvan seker nie meer as tien gesterf het nie.

Kuier was daar geheel en al nie meer nie. Mense het dit heeltemal gestaak en by die reëls gehou. Die afsondering het elkeen op sy eie manier geraak. Kinders en kleinkinders het by die deur gestaan en kuier. Hulle kom glad nie in die huis in nie.

Maar God het vir elkeen ’n uitkoms. Hier kom my skoonseun van Nylstroom, Piet Schoeman, en hy stuur vir ons boodskappies van ds Willem Sauer en dr Barry van Wyk! Watter uitkoms! Nou hoop en bid ons dat hierdie boodskappies sal voortgaan al is Covid-19 weg en vergete. Ons is nou permanent lede van Gemeente Waterberg, al woon ons duisende kilometers weg.

Ons weet, met die hulp van God, sal Covid-19 oorwin word.

(Nico en Nellie Joubert is oud-Suid-Afrikaners wat nou in Kanada woon)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap