Mev Marietjie Smith (65), salarisbeampte by die Sinodale Dienssentrum, het aan die einde van April vanjaar na 40 jaar diens afgetree. Ons het haar gevra om ons ’n kykie te gee in haar wedervaringe in dié pos.
“Ek het by die Kerkkantoor begin werk op 1 Julie 1981, tot 30 Mei 1984, en is aangestel om die mediese fonds te hanteer; destyds het die Kerk tot die NBC mediese fonds behoort. Ek is toe einde Mei met kraamverlof. In daardie stadium was ek die jongste in die Kantoor en het ek ook tussentyds gehelp met Salarisse. Ons was toe drie personeellede wat die hele Salarisafdeling behartig het, naamlik sinodaal, die boekwinkels, kinderhuise, tehuise vir bejaardes, asook maatskaplike dienste.
Ek het toe weer in Maart 1986 by die Kerkkantoor begin werk, tot einde April 2023 met aftrede. Met hierdie aanstelling is ek slegs vir Salarisse aangestel. Daardie jare was dit Leo Computers – alles is op papier gedoen, en het daarna oorgegaan na die Unique-stelsel, waarvandaan dit op die rekenaars van ABSA gegaan het. Met mnr Piet Beukes se aanstelling het ons oorgegaan na SAGE VIP.
Nikki van Deventer is nou in my plek aangestel; sy het by Bejaardesorg gewerk van 1 November 2014 tot 28 Februarie 2023.”
Die Sinodale Dienssentrum het Dinsdag 25 April van Marietjie afskeid geneem. Ons gun haar die welverdiende rus, en die nuwe avontuur wat sy en haar man, Johnnie, nou aanpak. Marietjie en Johnnie het twee kinders – ’n seun, Desmond, en ’n dogter, Charlene – en ’n kleinseun, Eljay.
