Foto byskryf:  Die Notre Dame – Christus is die hoop… (Lees bladsy 2) (Bron: https://www.rollingstone.com)

Hierdie uitgawe is vol hoop. Ons hoop, ons toekoms, is nie by mense nie. Nee, mense is maar soos gras, een oomblik daar en die volgende oomblik weg. Christus is die hoop…

Dit is enkele dae voor Paasfees. Ek sit voor my rekenaar en staar na Philippe Woyazer se nou reeds ikoniese foto van die Notre Dame net nadat die brand wat die laaste paar dae daar gewoed het, geblus is.

Alles is swart na die brand. Roet en stof hang dik in die lug. Die vloer is besaai met meubels en rommel. En daar, aan die voorkant van die katedraal, agter die altaar, is die enigste stukkie kleur in hierdie mistroostige donkerte van ’n katedraal wat gebrand het. Die enigste stukkie kleur is die helder goud van die kruis agter die altaar.

Amper onwerklik simbolies skree ’n kruis uit dat daar, ten spyte van die hartseer, ten spyte van die roet en as en puin, steeds hoop is. Ja, Christus is die hoop.

Ons wêreld is soms ook mos maar so – so swart, so donker. Dalk is dit ’n verbrokkelde verhouding met ’n geliefde, dalk ’n skokkende diagnose deur jou dokter, dalk ’n begroting wat maar net nie wil klop nie, ’n droom wat nie waar gaan word nie. Dalk jou soeke na God en die afdraaipaaie van hierdie lewe. En dan lyk alles hopeloos, moedeloos, verby.

Dan, dan is die enigste stukkie kleur, die enigste hoop wat oorbly, die kruis van Christus wat ons daaraan herinner dat ons nie alleen is nie, dat daar ’n God is wat ons so lief het dat Hy sy Seun gegee het sodat ons nie verlore sal gaan nie. Ja, Christus is die hoop…

Hoe goed weet Gemeente Wesmoot dit nie waar hulle na die stukkende vensters, die gebreekte banke, die Kanselbybel op die grond kyk. Ons hoop, ons toekoms, is nie by mense nie. Nee, mense is mos maar soos gras, een oomblik daar en die volgende oomblik weg.

Die beloftes en ideologieë van die politici is ook maar niks anders nie as leë woorde wat net so min jou honger kan stil as wat ’n prentjie in ’n resepteboek dit kan doen.

Hoe ons ook al daaroor dink, dit bring ons terug by Christus: Christus wat mens geword het, wat vir ons gely het, wat vir ons gesterf het en die dood oorwin het. In alles, deur alles – die rook, die roet, die rommel van die lewe – skyn ’n kruis, sý kruis, helder daar voor en gee dit ons die hoop om in geloof voort te gaan…

Gesang 529 vat vir my hierdie geloof, hierdie hoop so mooi saam: Dank, dank die Heer. Ons dank die Heer, want aan sy liefde, sy troue liefde is geen einde nie, is daar geen einde nie, is daar geen einde nie. Sing vir die Heer. Sing tot sy eer, besing sy dade, vergeet ook nie die goeie wat Hy doen; die goeie wat Hy doen, die goeie wat Hy doen. Bid tot die Heer. Aanbid die Heer, met hoë agting, met volle eerbied word sy Naam genoem; sy Naam word hoog geëer, sy Naam word hoog geëer. Dank, dank die Heer. Ons dank die Heer, want Hy is liefde, sy trou en goedheid duur in ewigheid, dit duur in ewigheid, dit duur in ewigheid.

Hierdie uitgawe is vol hoop. Ons lees op die voorblad die aangrypende vertelling van ’n gemeente wat steeds die kruis op die horison sien. ’n Gemeente wat deur die rommel heen kan hoop, vorentoe kan gaan. ’n Gemeente wat wil vergewe, wil voortgaan…

Ons lees ook op bladsy 3 hoe dr Barry van Wyk, op sy mooi manier, ons iets wil laat beleef en verstaan van die diversiteit wat daar in die Kerk is. Ek haal hom graag aan: Tog is alles deesdae nie so reglynig en so eenvoudig nie. Die Kerk is nie so eenstemmig en eenders in handeling as wat van ’n kerk verwag sou word nie. Tog ís dit eenvoudig, want as Christus die Hoof van die kerk is (vgl Ef 1: 22, 23), sou verwag word dat almal sodanig handel, want die verwagting sou wees dat die Bybelse slotsom oor hoe die kerk daar moet uitsien, die ekklesiologie, in noue verhouding tot die Skrif staan. Daaruit sou volg dat om Christus wil, só gehandel word en nie anders nie. Hoekom? Dr Van Wyk verduidelik: Kerk kan nie anders as kerk van die Here wees nie, en daarom moet inderdaad ernstig gepoog word om kerklik so te leef dat buitestanders die noue relasie tussen Christus en sy kerk kan sien. Ja, Christus moet die middelpunt, die belangrikste wees.

Op die middelblad is ons saam met twee van ons professore bly oor aanstellings wat hulle gekry het. Ons is opreg saam met hulle trots. Ons gelukwense ook aan dominees van ons Kerk wat doktorsgrade verwerf het.

Marina Kok berig oor die Afrika-tak van die Wêreldgemeen-skap van Gereformeerde Kerke (WGGK) se jeugkonferensie. Een van die besprekings wat sy bygewoon het, het spesifiek oor ekologiese geregtigheid gehandel. Sy skryf: Dit was besonder interessant om te hoor watter programme in die onderskeie lande en kerke geïmplementeer is ten opsigte van klimaatsverandering. Dit laat ’n mens onwillekeurig die vraag vra wat ons Kerk, ons gemeentes doen ten opsigte van die voorkoming van klimaatsverandering.

Op die teologieblad skryf proff Ernest van Eck en Wim Dreyer twee insiggewende artikels. In prof Van Eck se teks Hoe lees ons die Bybel? help hy ons om iets van die problematiek van Bybellees te verstaan. Prof Dreyer deel weer ’n paar sketse uit die geskiedenis van ons Kerk.

En in die gees van Hemelvaartdag wat ons op 30 Mei vier, hoor ons wat prof Van Eck in 2019 se Bybelse Dagboek sê: Jesus is nou by God, en God is oral. So, al lyk dit of Jesus Christus weg is, is Hy nou hier, hier by my en by jou. Ons lewe dus elke oomblik van elke dag in Christus se teenwoordigheid. Ons behoort sy getuies te wees, te vertel van sy liefde en goedheid. En deur dit te doen, maak ons al hoe meer iets van sy koninkryk sigbaar.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap