Karl Barth se denke het waarskynlik die grootste invloed gehad op ons Skrifbeskouing, hoewel ons dit krities verruim het tot ’n eiesoortige Hervormde weergawe.

Woord van God

Barth meen die drie gestaltes van die Woord – Openbaring, Skrif en verkondiging – is onlosmaaklik verbonde. Die Openbaring is Jesus Christus as God se eie, onbemiddelde spreke in die geskiedenis as eenmalige, beslissende gebeure. Bybelse tekste is menslike pogings om in verskillende historiese kontekste hieroor te getuig. Die Bybel is daarom nie openbaring self nie – net die getuienis daarvan.

Die Kerk verklaar die Bybel as Heilige Skrif, met die verwagting dat dit opnuut vir ons Woord van God kan word. Die Skrif se menslike woorde word vir ons Woord van God wanneer ons dit hoor as God se aanspraak op ons lewens. Die mensewoorde van die Skrif getuig van die Andere, nie oor mense se verhouding met die Andere of hul Godservaring nie. Die Woord van God kan volgens Barth nie van die geskrewe teks van die Bybel losgemaak word nie. Teen hierdie analogie het daar later reaksie gekom, veral omdat die ontstaansproses van die onderskeie Bybelse dokumente nie verreken word nie en dit dus vra na die verhouding tussen God se werk en menslike handelinge in die wêreld.

God self is die handelende subjek in sy Woord, die auctor primarius. God is vrye subjek, nie aan die Woord gebonde nie, maar die Woord aan God. God kan sy Woord gebruik of nie; dit so gebruik of anders, ook met die verkondiging as spreke van God. Dit is die vryheid van die Woord en tegelyk die trou van God aan die kerk, waardeur God self voortdurend na ons toe kom. Die Skrif self het geen intrinsieke metafisiese kwaliteit nie. Die primum principium is alleen God wat genadig na ons uitreik en sodanig deur gelowiges beleef word. Dit is geen ontologiese gegewe nie, maar ’n ontmoeting in die geloof. Christus as Spreker van God se spreke realiseer sy teenwoordigheid, en dit word Woord van God.

Hierdie aspekte word by ons verruim. Hoewel die Bybel beskou word as die Woord van God en dit as vooronderstelling geld, is die menslike aspek daarvan nie mis te kyk nie. Die menslike getuienis in die Bybel is die neerslag van menslike geloofsverstaan, wat die gelowiges in Bybelse tye geglo het die selfbetuiging van God aan hulle was. Dit het oor ’n lang periode plaasgevind en onder verskillende omstandighede, sodat dit ook as histories bepaald beskou kan word.

Die Bybel verteenwoordig ook verskillende voorbeelde van geloofsverstaan, wat ook verband hou met herinterpretasie met die oog op toepassing in andersoortige kontekste. Die Bybel verteenwoordig soms verskillende interpretasies van dieselfde gebeure of handelinge van God, waarvan die verskeidenheid dikwels nie harmonieerbaar is nie en selfs teenoorstaande of teenstrydig is. Die partydigheid en polemiese gerigtheid van een teologiese standpunt in die Bybel grens homself soms duidelik af teen ’n ander standpunt in die Bybel, soms binne dieselfde sosiohistoriese konteks. Voorbeelde van wat beskou kon word as teologiese ontwikkeling van ’n bepaalde tradisie is nie noodwendig ’n legitieme uitbouing daarvan nie, maar dikwels eerder ’n verarming of afwyking.

Die Bybel blyk inhoudelik dikwels nie enig in sy soort te wees  nie, omdat daar in die Bybel elemente van ander tekste opgeneem is. Die redaksie van Bybelse dokumente en gepaardgaande vrae oor eenheid en integriteit van bepaalde geskrifte, sowel as invoegings en kantaantekeninge, problematiseer die saak verder. Daarmee saam akkommodeer die Bybel ’n verskeidenheid van teologieë.

Dit alles in ag genome, is Barth se siening van God as auctor primarius teologies ontoereikend. Hierdie gevolgtrekking word verder bevestig deur die insig dat betekenis nie eensydig deur die teks gegenereer word nie, maar in ’n hermeneutiese sirkelproses, in die wisselwerking tussen teks en eksegeet. In hierdie proses is vooronderstellings onontkenbaar en belangrik, ten spyte daarvan dat die teks as subjek van kommunikasie voorrang het. Die gevolglike inherente meerduidigheid van tekste bring mee dat daar nie iets is soos die betekenis van ’n teks nie, asof dit eens en vir altyd vasgestel kan word nie. Die geskiedenis van die resepsie van tekste bevestig dit. Tyd, omstandighede en lesers het telkens ’n ander verstaan van tekste tot gevolg gehad. Elke verstaan word streng gesproke ’n nuwe teks.

Openbaring

Barth meen die Bybel spreek net een Woord: Jesus Christus. In daardie sin getuig die Bybel van die Openbaring. Daarom is die Bybel niks anders nie as die Selfopenbaring van God. Hierdie Woord is altyd tegelyk openbaring en verhulling. Openbaring is vir Barth altyd indirek, want dit is ’n teken of sakrament van God. Die Bybel is derhalwe ’n teken van ’n teken, die profetiese en apostoliese getuienis van die primêre teken Jesus Christus. God openbaar nie iets van God nie, maar God sélf; nie iets van sy wese soos net ’n segment nie, maar eerder soos ’n sektor wat tot by die kern strek. Dit is asof ons God in die hart kyk.

Die openbaring is altyd God se Selfbekendmaking en nie ’n verskyningsvorm of ’n geopenbaardheid nie. Die waarheid wat openbaar word, is daarom ’n Persoon. Dit wil egter oor die geheel van Barth se openbaringsverstaan lyk of sy openbaringsbegrip ’n persoonlike credo was wat hy verabsoluteer en ontwikkel het tot ’n indrukwekkende dogmatiese paradigma. So het Barth ten prooi geval van die sielkundige subjektivisme wat hy juis wou vermy. Openbaring as begrip is meerwaardig en kan daarom nie sonder meer semanties ingeperk word nie. Die meerwaardigheid van die begrip openbaring maak dit ’n problematiese raam vir Skrifverstaan en dui die eensydige aard van Barth se gebruik daarvan aan. Die begrip openbaring dien nie meer die debat nie en is hoogstens in hibriede vorm teologies bruikbaar.

Geloof

Die Bybel word vir Barth net in die geloof Woord van God vir ons, nie so dat geloof die Woord vasstel en besit nie, maar omdat dit ons aangryp as God se spreke tot ons en geloof skep. Geloof is die gevolg van die kerugma. Geloof is nie eiemagtig nie, maar deur God gemagtigde erkenning, wete, aanhoor, spreke, denke en dade. Die voorhande wees van die Bybel is nog geen bewys dat dit Woord van God is nie. Dit kan alleen as wonder gebeur. Die Bybel is daarom geen orakelboek nie, geen orgaan van onmiddellike mededeling nie. Die menslike aard van die Bybel verhul die Goddelike aard daarvan, wat slegs onthul word met ’n wonder van God. Die Woord van God bly dus sy geheimenis. God kom tot spreke in Christus. Dit bly die ononderhandelbare metanarratief van die kerk. Geloof is die sine qua non om die Skrif in hierdie lig te lees.

Ten slotte

Barth se Skrifbeskouing word saamgevat met drie woorde: God, genade, geloof. Deur genade alleen kan ons glo en God in die Bybel leer ken. God bly egter vir ons grotendeels onbekend. Die genade is dat, hoewel ons God nie werklik ken nie, God óns ken. Vir Barth is die Bybel daarom nie menslike gedagtes oor God nie, maar God se gedagtes oor mense. Die inhoud van die Bybel is dus God, maar oor hierdie inhoud kan ons mense maar net stamel. God is groter en meer omvangryk as wat mense kan dink of droom. Die Bybel praat oor hierdie God en is daarom die lewenskrag van die kerk. Die kerk se trou aan God is dus geleë in ons trou aan die Bybel.

Oor die menslike en Goddelike spreke het daar verruiming gekom, veral oor die voorlopige en analogiese aard van menslike spreke oor God. Ten spyte van God se bekendmaking in die Bybel, kan ons God nie sodanig ken dat ons dit kan verwoord in ’n reeks proposisies of dogmas nie. Dit is so omdat alle spreke oor God analogiese spreke is, kontekstueel en partydig. Mense praat oor die gans-andere God na aanleiding van hul eie bekende menslike begrippe en kontekste. Die Bybel bly die “klassieke en gesagvolle getuienis van die saligheid”, maar is tegelyk getuienis van metaforiese en kontekstuele spreke van gelowiges oor God. Tog is dit ook spreke uit God, Woordgebeure en dinamiese openbaring as gebeure, maar nie ’n “geopenbaardheid” nie.

(Dr Gert Malan is leraar in Gemeente Mosselbaai)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap