Ons avontuur in die VSA het begin op 31 Januarie 2022. Vandag kyk ons terug op een jaar en sewe maande sedert ons hier aangekom het. Daar was so baie eerstes wat ons as gesin saam kon deel.
Ons was kinderlik opgewonde om vir die eerste keer sneeu te sien. Hier in Michigan is daar definitief nie ’n tekort aan sneeu nie. Omdat ons nie gewoond is aan hierdie koue nie, het gemeentelede ons op die lughawe ingewag en ontvang met warm baadjies, handskoene, musse en serpe, maar nog meer, met hul warm harte. Met ons aankoms by die pastorie was ons verstom om in ’n ten volle gemeubileerde huis in te stap wat gemeentelede vir ons gereed gekry het. Hulle het geweet dat ons met net ’n paar tasse hier sou aankom.
Ons bly tussen Ellsworth en Central Lake in die noordelike deel van Michigan. Ons bly op die platteland, met die mooiste uitsig van bome en heuwels reg rondom ons. Ons sien gereeld white-tail deer hier voor ons huis wei. In die herfs waardeer ons al die verskillende kleure blare aan die bome hier voor ons huis.
Die wintermaande raak lank, maar die sneeu maak dit steeds die moeite werd. Mense hier maak die meeste van elke seisoen. Van slee ry tot sneeumanne bou, het ’n gunsteling-wintertydverdryf geword. Ons eerste Winterkersfees was ook ’n groot belewenis. ’n Sneeustorm het alles tot stilstand gebring – ’n sprokiesmooi wit Kersfees.
Dan, wanneer die lang wag verby is, breek somer uiteindelik aan. Michigan is die staat van mere. Daarom bestee mense hier ’n groot deel van die somer langs die water of op die water met bote, kajakke, ensovoorts.
Dit is nogal ’n groot aanpassing om gewoond te raak aan ’n ander kultuur. Party dae mis jy jou mense, jy mis jou disse, jy mis jou taal, jy mis jou land. Maar aan die ander kant is ons dankbaar vir nuwe geleenthede, om nuwe plekke te ontdek en nuwe mense te ontmoet. Party van ons nuwe Amerikaanse vriende bak selfs al beskuit en vra gereeld dat ons vir hulle weer potjiekos moet maak. Intussen het ons ook mede-Suid-Afrikaners in Michigan ontmoet, wat ons vriende geword het. As jy iemand van Suid-Afrika ontmoet, word hulle onmiddellik jou vriende. So, wanneer die verlange groot raak, is dit altyd goed om met jou mense te kan praat en kuier.
Ons dogters, Annemae en Carme, het goed aangepas by hul skool in Ellsworth. Die skooljaar begin in September en eindig aan die begin van Junie. Dit was nogal iets om aan gewoond te raak, asook om in Engels skool te gaan. Gelukkig is kinders baie meer aanpasbaar, daarom klink hulle reeds soos regte Amerikaners, terwyl Ma en Pa steeds mense tot stilstand bring met hul “vreemde aksent”. Ons word gereeld gevra vanwaar ons kom.
Die kinders het begin vlugbal, basketbal en sagtebal speel. Annemae is deel van die Dorothy Gerber Youth Orchestra en speel viool. Carme speel tjello. Ons kry ook perdrylesse by ’n perdeplaas net hier naby ons, af in die straat.
Ons geniet dit om nuwe dinge te gaan verken. Ons het ’n paar weke gelede vakansie gehou in die Boonste Skiereiland (Upper Peninsula) van Michigan. Ons was by Oswald’s Bear Ranch waar swart bere wat as babas gered is, grootgemaak en gerehabiliteer word. Ons was ook by Pictured Rocks National Lakeshore en het ’n bootrit geneem om na die rotsformasies te kyk. Ons was ook vir ’n daguitstappie na Sleeping Bear Dunes waar ’n mens die duine kan klim. Laasjaar het ons Mackinac-eiland gaan besoek, waar geen motors toegelaat word nie. Daar is perde en perdekarre oral waar jy kyk. Selfs Amazon-pakkies word daar per perdekar afgelewer.
Ons was ook bevoorreg om die noorderlig (northern lights of aurora borealis) te kon sien. Dit is prentjiemooi en ’n wonderlike ervaring om dit te kan aanskou en te beleef.
Cobus is predikant van Belltower Reformed Church. Dit is ’n familiegrootte gemeente waar almal vir mekaar omgee. Ons het een erediens per week om 10:00, met Sondagskool vir volwassenes en kinders voor die erediens. ’n Kinderboodskap is ook gewoonlik deel van die erediens, en daar is ’n kinderkerkgeleentheid een keer per maand. Ons het ook gereeld geleenthede waar ons net lekker saam eet en kuier, Vrouebedieningsgeleenthede waar ons kreatiewe goedjies doen of op uitstappies gaan. In Julie het ons VBS (Vacation Bible School) gehad. Jaarliks op 4 Julie neem die gemeente deel aan ’n parade waarmee Amerika se onafhanklikheidswording gevier word.
Ons geniet elke oomblik van die nuwe avontuur, vol vertroue dat God saam met ons op hierdie reis is.
(Ds Cobus Manders is predikant van Belltower Reformed Church in die VSA,
en ds Mari du Plessis-Manders is ’n nie-diensdoende predikant van die NHKA, met ampsvoorreg)

Die kerkgebou van Belltower

Mari by Charlevoix-vuurtoring

Die pastorie tydens 2022 se sneeustorm

Carme spring!

Binnekant van Belltower se kerkgebou

Aurora 23 Maart 2023

Cobus maak potjiekos in die VSA

Annemae en haar sneeuman

Herfskleure 2022

4th of July Parade
