Op uitnodiging van ds Bouwer Serfontein is ’n groep tieners vanaf 25 November 2019 op ’n ontdekkingsreis na ’n “geheimsinnige planeet” geneem. Die doel van die vier dae was om die 12 jongmense bewus te maak van hul unieke leierskapgawes en hulle te help om dit te ontwikkel.
In my 24 jaar in die Kerk was ek nog nie op só ’n besonderse kamp nie. Dit was leersaam, goed beplan en soveel pret. Die kennisinsette, wat gebring is deur Bouwer en sy seun Lody, het getuig van jare se ervaring en goed deurdagte beplanning. Elke kennisinset is gekombineer met ’n spesifieke aktiwiteit – ervaringsleer om die kennis tuis te bring.
Ek wens ek kon meer vertel oor die spesifieke aktiwiteite, maar dis ’n te groot geheim, wat self ontdek moet word! Elke aktiwiteit het my verwonderd gelaat oor hoe treffend dit by die inhoud pas en hoe die jongmense dit wat hulle nou net gehoor het, prakties beleef of inoefen.
Die grootste getuienis is sekerlik die terugvoer van die jongmense self. Tieners wat die Maandag as vreemdelinge vir mekaar by die kamp opgedaag het, het die Donderdag uitmekaar gegaan as boesemvriende.
Van die dinge wat die jongmense oor hulself geleer het, was die volgende:
- Dat ek sowaar ’n leier kan word, deur die hulp van die Here.
- Dat ek baie potensiaal het, om die mense om my te verander met my dade.
Vertroue was ’n belangrike tema. Een van die tieners wat ’n krisis met vertroue gehad het, het die volgende geskryf by die vraag: Watter sessie het vir jou die meeste beteken? Vertroue, want vertroue is vir my moeilik, want ek het vas geglo dat mense net seermaak, maar ek het beleef dat vertroue wel kan gebeur.
Dit was ’n voorreg om die deurbrake in die jongmense se lewens te aanskou. Ek vertrou dat ons ’n klompie opgewonde, entoesiastiese en goed toegeruste tieners na hul gemeentes toe teruggestuur het. Hulle is voorwaar ’n aanwins vir enige gemeente. Ons doen ’n beroep op ons predikante en jeugwerkers om hierdie jongmense die geleentheid te gee om hul leierskapgawes uit te leef. Moedig hulle aan. Luister na hul idees en gee hulle die ruimte om ’n verskil te maak!
Ons het reeds ’n datum en terrein vir 2020 se ontdekkingsreis: 23 tot 26 November 2020 by Rocky Valley-kampterrein by Krugersdorp. Dis ’n lekker week, want dis net voor die skool amptelik sluit, en die jongmense is dan reeds klaar met eksamen. Maak sommer nou al jul graad 10’s tot graad 12’s opgewonde oor die kamp. Dis ’n inspuiting vir ons gemeentes om sulke goed toegeruste jongmense te hê, en dis lewensverrykend vir die tieners self.