The conductor of an orchestra never makes a sound. He depends for his power on his ability to make other people powerful and so his job is to awaken possibility in others. (Benjamin Zander, Boston Filharmoniese Orkesdirigent)

Dat die Covid-19-virus ’n waterskeiding in ons ganse bestaan gebring het, is nie te betwyfel nie. Die gepaardgaande retoriek bly ook nie uit nie. Daar word selfs (met groot respek gesê) van ’n núwe vC en nC gepraat, bedoelende voor Corona, en ná Corona. Ons hoor, én neem daarvan kennis, dat ons toenemend gewoond moet raak aan ’n sogenaamde nuwe normaal. Wát dit ook al beteken, onheilspellend soos dit ook mag klink. Dit is duidelik: Sommige dinge kan jy kies, maar ander dinge kies jóú. Met gevolglike uitdagings vir die kerk, en onvermydelik die pastoraat.

Van opgesluit na oopgesluit…

Die ondenkbare het gebeur. Die hele wêreld word binne weke ingegrendel, toegesluit, mense opgesluit. Nie fisies as gevangenes onder bewaking nie, maar tog in so ’n mate ingeperk dat dit vrye beweging verbied. Hieraan is niemand van ons gewoond nie. Iemand maak die opmerking: Ek het iewers gelees dat daar [normaalweg] meer vliegtuie in die lug is as op die grond. Waar sou almal nou geberg word?

Die dreunsang eggo ook deur die kerk, waar kwistig gebruik gemaak word van bufferplakker-stellings: God is groter as die virus. Ook: Die kerk se deure mag gesluit wees, maar die kerk was nog nooit so oop nie. Daar is veel meer.

Die grootste smagting onder mense is dat die inperking, die opgesluit, moet verander na geen beperking, ’n oopsluit. Almal is dit eens: Na die grendeltyd sal alles verander. Hierdie ding, die Covid-19-virus, het die gang van die geskiedenis vir altyd kom verander. Dát alles gaan verander, weet ons, maar oor die hóé spekuleer ons nog. Uiteindelik kan ons nie regtig antisipeer nie. Ons sal moet wag en kyk, met die openheid van algaande leert men…

Die teorie van verandering waarsku egter dringend: Dit is moontlik dat alles kan verander, sonder dat individue noodwendig ook verander. Bloot omdat sommige (mense, gemeenskappe, kerke) verkies om opgesluit te bly.

Van watter veranderinge praat ons? Vir die doel van hierdie artikel sal die verandering waarskynlik in die hart van kerkwees moet plaasvind. Daar waar ons versorg en vertroos. Daar waar Christus weer die lewende Hoop moet word.

Pastorale sorg

Ons moet weer kennis neem van die ontwikkeling van pastorale sorg (en berading) tydens die laaste dekades. Hieruit sou dit moontlik wees om kontoere te vind vir die verskuiwing, ook binne die kerk en die pastoraat, na die nuwe normaal. Dit sou onvergeeflik wees indien die geleenthede wat die Covid-19-virus vir die pastoraat bied, nie na behore ontgin en ontsluit (sic) word nie.

Die nuwe konteks bied wêreldwyd, maar spesifiek ook in die plaaslike konteks, groot geleenthede en moontlikhede.Histories was pastorale sorg ’n bediening wat in die kerk gelewer is deur die leraar, en ander opgeleide lidmate waar daar ’n behoefte was aan versorging en die skep van hoop. Dit is meestal beskou as minder terapeuties; meer gefokus op die ondersteuning van dié in nood. Voorbeelde hiervan is sorgafhanklike kinders, siekes, bejaardes, barmhartigheid, en meer.

Uit pastorale sorg het later pastorale berading gegroei. Dit het behels die sorgende bediening aan persone in nood, maar nou meer gestruktureerd en formeel. Veral teen die einde van die vorige eeu het die kerk ’n plek van relatiewe welvarendheid geword. Spesialisopleiding het die lig gesien, en hoofsaaklik predikante kon hulle bekwaam en toegespitste bedienings behartig, soos in die geval van byvoorbeeld hospitaalpredikante, kapelane (by verskillende instansies, soos skole, inrigtings, ensovoorts) of predikante met spesiale opdrag. Na hierdie opleiding is algemeen verwys as kliniese pastoraat, met groter interdissiplinêre samewerking en opleiding. Voorbeelde hiervan is die psigiatrie, sielkunde, en ook maatskaplike werk. Klem is gelê op ’n bekwame vaardigheidskomponent in gesprekvoering. ’n Sterk psigoterapeutiese fokus het gedien as teenvoeter vir die moralistiese teologiese beoefening wat algemeen voorgekom het by baie pastors.

Die ontwikkeling van beradingsentrums vir hierdie opleiding het vinnig gevolg, internasionaal maar ook op eie bodem. Sertifisering het gevolg. Geakkrediteerde opleiding het toenemend veld gewen. Ook binne die bestaande opleiding vir predikante het die slyp van pastoraal-terapeutiese vaardighede nuwe betekenis verkry.

Die narratiewe benadering, sterk beïnvloed deur postmoderne idees, sosiale konstruksionalisme en post-foundationalisme, het ’n sosiale konstruksionistiese epistemologie tot gevolg gehad. Hieruit moet daar noodwendig ’n nuwe praxis, in diens van die koninkryk, groei.

Die nood vir nou, veral teen die agtergrond van die Covid-19-virus, is ’n herbesoek van die term liggaam van Christus. Juis omdat die kerk die ruimte is waarin lidmate, maar baie belangrik, ook (die) ánder, pastorale sorg kan ervaar, en ook kan bedien. Waarmee die Covid-19-virus waarskynlik die kerk help, is die bewussyn dat dié ruimte wat “kerk” genoem word, nie ’n eksklusiewe ruimte is nie. En as sodanig bied die virus geleentheid vir die vorming en vestiging van ’n nuwe identiteit, die oopsluit van nuwe moontlikhede. Die liggaam van Christus is immers ’n morele gemeenskap. Hierdie gemeenskap se doel moet almal bevoordeel, ook hulle (die ander) wat op die rand leef.

Wanneer die individu in die konteks van ’n netwerk van verhoudings verstaan word, bly die pastoraat getrou aan sy identiteit.

Die kerk, steeds gesluit of juis ontsluit?

Dat Covid-19 gedurende die Lydenstyd letterlik geslote kerkgeboue tot gevolg gehad het, is noemenswaardig. Die grendelstaat val saam met die dieptepunt van die kerkjaar.

Die kreatiewe en interessante maniere waarop kerkrade en predikante toegesien het, en steeds doen, dat die evangelie volgehou op Sondae verkondig (ontsluit, ontgrendel) word, verdien vermelding. Maar ook word die gewaarwording al sterker beleef dat “kerk” nie meer beperk is tot ’n erediens met gepaardgaande aksies nie, of tot een dag in die week, ’n Sondag nie. Daarmee saam die versugting dat daar nooit weer teruggekeer sal word na die “normale”, soos dit geken is nie. “Kerk” mag nie weer toegesluit word binne ’n gebou nie.

Hiermee saam het pastoraat, die sorg, onder baie gelowiges momentum verkry, ongeag kerk- en kultuurgrense. Dit wat skei, het op baie plekke reeds verdwyn.

Gedurende die Groot Lydensweek was die stilte wat die grendelstaat meegebring het opmerklik, selfs gepas. Maar lidmate se verlange na die betekenis van dit wat “normaalweg” gedurende die Paasnaweek in gemeentes gebeur het, het verdiep. Op Paassondag was die stilte en afwesigheid van kerkklokke wat oor die wêreld lui, en ontsluit, vir sommige juis dawerend. Ten spyte van die stilte was die belewenis van die gebeure van Christus se lyding, sterwe en opstanding vir baie lidmate ’n nuwe oriënteringspunt.

Die gepaardgaande deel van verhale (narratiewe) binne familie- en vriendekringe, juis in dié tyd, is verder betekenisvol. Geloofsgesprekke wat “normaalweg” nie sou plaasvind nie, is gevoer. Ruimtes vir pastorale sorg, in baie gevalle by wyse van tegnologie, is en word steeds benut.

Vir die kerk (se lidmate), ook binne geloofsgemeenskappe, gaan nuwe moontlikhede om vars betekenis te heg nou oop. Maar kanse mag nie verspeel word nie. Dit moet doelbewus verder oopgesluit word. Die geleentheid wat uit die gebrokenheid na vore kom, is enorm.

Die kruis van ons Verlosser sluit vergesigte oop!

Ons teologie, en die verstaan daarvan, sluit oop; gooi boeie af. Wat verstaan ons immers anders wanneer ons Gesang 478: 4 (LvdK) sing?

O Heer, skryf in ons harte
dat ons dit nooit vergeet,
al pynig ons die smarte
al martel ons die leed:
Die kruis van ons Verlosser
sluit vergesigte oop!
In ’n verwarde wêreld
bring dit weer vaste hoop!

Daarom bly ons glo. Daarom raak ons nie oor raad verleë nie. Daarom kan ons die Woord nooit uitput nie. Dis nie van ’n mens nie.

Toe Jesus aan sy dissipels verskyn het (Joh 20: 22), het Hy die volgende gesê: Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees!”

Deur die inwoning van die Gees word gelowiges in staat gestel om te bly volhard. Die Gees maak lewend. Die Gees herskep, en sluit oop.

(Dr Johan Nel is leraar in Gemeente Bloemfontein-Wes

en Pastorale Terapeut/Senior Lektor by die Universiteit van die Vrystaat se Fakulteit Teologie)