Ek onthou nog my skok en ontsteltenis toe ek byna ’n jaar gelede in die koerant gelees het wat die Britse premier, Boris Johnson, gesê het toe Brittanje in hul eerste staat van inperking ingegaan het. Hy het gesê die gevolg van hierdie virus is dat baie mense gaan sterf. Hy het bygevoeg dat almal iemand in hul familie of vriendekring sou verloor. Dit het my toe verskriklik getref. Kan dit moontlik wees in die tyd waarin ons leef?
En hier is ons nou, nog nie eens ’n jaar later nie, en met die tweede vlaag van Covid-19 in ons land nou amper verby, beleef ’n mens hierdie woorde van Johnson in jou eie lewe. Ek is seker dat daar niemand is wat hier lees wat nie iemand ken wat as gevolg van Covid-19 oorlede is nie. En hierdie sombere feit is iets waarmee ons moet saamleef, wat ons moet verwerk te midde van al die ander hartseer en euwels wat nou al sinoniem met Covid-19 in ons land is.
Ek wil glo dat ons alles baie makliker sou kon verwerk as dit nie was dat daar soveel twyfel was in die vermoë van die regering om die virus, die ekonomie, die sosiale impak van die virus, en die gepaardgaande korrupsie te bestuur nie. Verder is daar groot kommer oor die feit dat ons regering klaarblyklik traag was met die aankoop van entstof en oor die president wat nou almal beskuldig, amper soos ’n kind wat met sy hand in die koekieblik gevang is.
Dan is daar ook die feit dat ons nie tans eredienste mag hou nie, terwyl jy in ’n restaurant sonder ’n masker kan sit en kuier, winkel toe kan gaan en selfs casino toe kan gaan.
Ook begrafnisse is ’n kopseer. Hoe neem ’n mens afskeid met al die reëls en regulasies? Die saamwees, die drukkies, die teedrink is alles deel van ons kultuur, maniere om die dood van ’n geliefde te verwerk. Nou is dit so klinies, so ’n antiklimaks. Ons het selfs in die laaste paar weke beleef hoe iemand wat ’n kerkmens was, ’n gereelde kerkganger, ouderling tot mooi verby 80, gegroet is deur in jou motor in die straat voor die oorledene se woonhuis verby te ry en ’n blaadjie ter herinnering aan haar lewe en dood te kry. Geen erediens, geen drukkies, geen tee. Koud, klinies, vreemd. En die rede, hierdie virus wat hom in ons wêreld en in ons lewens ingewurm het. Die ergste is dat ek die familie se besluit verstaan, want hierdie virus maak mense beangs, en dit het ons mense se normale sosiale gebruike kom verander.
Om alles te kroon, lees ons van al die samesweringsteorieë oor inentings wat ons DNS gaan verander en sosialemediaplatforms wat ons inligting aan die wêreld gaan uitbasuin.
Hoe gemaak, ten spyte van alles? Hoe behou ons perspektief? Hoe behou ons hoop?
In hierdie uitgawe skryf dr Tanya van Wyk ’n treffende artikel oor die nuwe werklikheid van jaarwisselings. Dr Deon du Toit gee ons ’n objektiewe mening oor die gesprek wat tans aan die gang is oor WhatsApp of nie. (Ek het in elk geval net weer gesien hoe maklik ons deur die sosiale media meegesleur kan word, sonder dat ons enigsins feite verifieer.)
Dan, wanneer ’n mens al hierdie dinge terugskouend oordink, moet jy jouself afvra waar ons hulp in hierdie tyd vandaan sal kom. En terwyl ek hier tik, word ek met skaamte gevul. Skaamte omdat ons as gelowige kinders van God so maklik toelaat dat ons deur die wêreld saamgeneem word na plekke waar ons as gelowiges nie hoort nie. Hoe maklik ons iets kan glo omdat ons dit op Google, Facebook of WhatsApp gelees het. Tog sukkel ons so om te glo wat ons in die Bybel lees. Toe Paulus deur baie terugslae gaan, skryf hy aan die gemeente in Filippi wat ons in Filippense 4: 13 lees: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Ek wonder net: Glo ons dit nog?
By die jaarwisseling was my boodskap aan mense dat ons nie weet wat 2021 vir ons gaan inhou nie, maar wat ons weet is waar ons krag vandaan kom. Mag ons ons krag en moed en hoop by God gaan soek. Selfs al laat die politici ons in die steek. Selfs al kan ons nie in ons kerke eredienste bywoon nie. Selfs al kan ons nie ordentlik afskeid neem van ons geliefdes nie. God bly die Een van wie ons krag kom.
Mag die Here – maak nie saak wat hierdie jaar ook al gebeur nie – die heeltyd jou krag wees.