Die NHKA se vier nuwe predikante wat op 7 November 2024 gelegitimeer is, kry in hierdie uitgawe die geleentheid om hulself aan ons lesers bekend te stel. Hulle is prop Drian Cockeran, prop Annia van Deventer, ds Tanya Maartens en ons nuwe joernalis, prop Iwana Hartmann. Ds Tanya Maartens is reeds by Gemeente Klerksdorp-Wilkoppies georden, maar die ander drie is beroepafwagtend. Kom ons ontmoet hulle. 

Drian Cockeran

Ek is familie-georiënteerd en glo dat gesonde gesinne die grondslag van ’n sterk gemeenskap vorm. My besluit om teologie te studeer, het ontstaan na die verlies van my ouma. Ons dominee het in daardie tyd eenvoudig langs my kom sit, sonder woorde, net teenwoordig. In haar stilte het ek God se liefde en troos diep beleef. Dit het my laat besef dat ek ook ’n instrument in God se hand wil wees om mense in hul moeilikste tye te ondersteun en sy liefde ook so uit te dra.

Ek is passievol oor die natuur en voel die naaste aan God wanneer ek tyd in die buitelug spandeer, veral in die Krugerwildtuin – my hemel op aarde. Voordat ek besluit het om teologie te studeer, wou ek ’n veldgids word. Buiten my liefde vir die natuur, is ek ook ’n groot soeker na adrenalien en hou daarvan om nuwe avonture en uitdagings aan te pak. Ek geniet dit om die lewe voluit te leef en altyd iets nuuts te leer.

In my bediening wil ek gesinne help om God die middelpunt van hul lewens te maak. My droom is dat geloofsgesprekke natuurlik en spontaan in huishoudings sal wees sodat gesinne ’n bron van liefde en hoop in hul gemeenskap kan word.

Tanya Maartens

As ’n 13-jarige meisie het ek op die trappies voor die kerk na ’n gesprek met my dominee besluit ek gaan ’n predikant word. Hierdie besluit is net nog verder versterk na die afsterwe van my beste vriend toe ek 14 jaar oud was. Ek wou daar wees vir ander en hulle leer van God se troos en liefde, net soos my dominee vir my daar was.

Vandag, 12 jaar later, het hierdie roeping en droom ’n realiteit geword. Ek is op 12 Januarie 2025 as predikant georden in Gemeente Wilkoppies in Klerksdorp, en ek geniet elke liewe oomblik waar ek hierdie pad saam met God stap. Ek is so opgewonde om my bediening te volg in hierdie spesiale gemeente.

Ek het ’n baie sagte plekkie vir kinders en bejaardes. Ek is betrokke by die DPS-huise en gaan in Maart weer saam met die kinders kamp. Ek is tans ook betrokke by ‘n versorgingsoord vir bejaardes met demensie en alzheimers asook die Daphne Lee-sentrum. Ek voel dat die kerk ’n tuiste vir almal moet wees en dat almal welkom moet voel, daarom probeer ek God se liefde met almal deel.

Ek is lief vir musiek en het onlangs ook deel geword van ’n koor hier in Klerksdorp. Ek is dankbaar vir al die mense wat God oor my pad gestuur het: my familie, lidmate, kollegas en my vriende. Ek hoop dat ek hierdie roeping van my kan uitleef vir jare en jare wat nog voorlê en dat ek elke tree wat God saam met my loop sal onthou van sy oneindige liefde en genade.

Annia van Deventer

Ek is lief vir God en ek is lief vir sy skepping – die natuur en die mense. Ons bly op ’n plaas in die platteland en dit het baie van my denkwyse gevorm. Dit het my geleer om in alle seisoene totaal en al afhanklik van die Here te wees.

’n Aanhaling wat my altyd bybly, is: “Ter gelyke tyd sondaar en ter gelyke tyd geregverdig”, want dit herinner my daaraan dat ons elkeen die genade, vergifnis en liefde van Jesus nodig het. Familie is vir my belangrik en die fondasie waarop ons gesinne gebou is kan ons maak of breek. Ek hou daarvan om aktief te wees, ek speel graag gholf, jaag allerlei kreatiewe strewes na en leef outentiek my lewe saam met my man en seuntjie.

Ek wil graag my gemeenskap versterk en ondersteun deur my bediening en die erns van die impak van geloof daardeur onderskryf. Deur die verkondiging van die Woord en die samevatting van die erediens bid ek dat ek deur die vaardighede wat ek opgedoen het, getrou sal bly aan dit wat die Here deur my wil spreek. Mag dit verstaanbaar wees vir elkeen wat dit aanhoor en mag dit inslag vind en mag die Gees van God met dié se harte sal werk.

Iwana Hartmann

My aanloop na teologie was kort en onverwags. As kind het my ouers my getrou elke Sondag na kategese geneem. Ons dominee het tydens die aflê van my geloofsbelydenis my beskryf as iemand wat baie vrae oor die Bybel gehad het. Die skrif was toe al aan die muur! In my eerste jaar na skool het een van my vriendinne se ma versoek dat ons saam met haar ’n erediens moes bywoon. Ek was oorspoel met die genade, aanvaarding en vertroostende hand van die Here soos nog nooit tevore. Ek het na afloop van die erediens die volgende onskuldige stelling gemaak: “Ek gaan vir ’n pastoor studeer.” Ek het nie eens die vaagste idee gehad van die term teologie of wat dit vir my sou inhou nie. Ek kan tot vandag toe nie uitklaar hoe ek op daardie oomblik só ’n lewensveranderende besluit geneem het nie, maar ek was koersvas en opgewonde vir die avontuur wat voorlê. Ek het geweet dat dit in die Huis van die Here is waarbinne ek al my gawes en dae wil uitleef, al was ek nog nie seker hoe dit sou lyk nie.

Vandag kyk ek terug na hoe die Here my op hierdie avontuur gekoester het, gelei het, en aanhou verras het om elke hoek en draai. Ek glo my roeping as ’n volgeling van Jesus is die volgende: Om vir dié wat ongeliefd en verwerp voel die aanvaarding, genade, en liefde wat ek vanaf God ervaar, mee te omvou. Dit is ’n voorreg, ’n vreugde, en ook ’n verantwoordelikheid om in die liggaam van Christus te kan werk en samesyn daarin te vind. Maar bo dit alles is my roeping ’n avontuur saam met God en ek kan nie wag om te sien wat wag vir ons om die volgende draai nie!

Share via
Copy link
Powered by Social Snap