Met groot oë het ek destyds as jong predikant my eerste Algemene Kerkvergadering gaan bywoon. Omdat ek die jong dominee in die gemeente was, moes ek nog die Sondagaand preek en het ek eers die Maandag daar aangesluit.

’n Klompie gryskopdominees, saam met wie ons gaan middagete eet het, het sommer by daardie eerste AKV vir my die belangrikste dinge geleer wat ’n jong dominee moet weet. Maak seker oor jou sitplek, jy moet vinnig kan in en uit, want jy sit lank. Wag eers voor jy hand opsteek en praat, want dalk gaan iemand anders jou saak beter stel. En, half skertsend, wanneer jy niks praat nie, dink die mense jy is nie baie slim nie, maar as jy wel praat, weet hulle dit soms wel.

En so is ek intussen baie AKV’s deur. In dié tyd het sommige dinge van die dinamika van die AKV verander, maar baie het dieselfde gebly. Ek het die vergaderings in die Goddefroysaal misgeloop, ons het reeds in die Aula by die Universiteit van Pretoria vergader met my eerste AKV. In daardie dae was die stemmery byvoorbeeld nog met stembriefies en weer stem en weer stem, sodat jy Maandagmiddag eers ’n voorsitter en skriba kon verkies. Die elektroniese toestelle wat tans gebruik word, het dit vergemaklik.

So was daar baie goed wat ten goede verander het, en wel, ander dalk nie. Wat egter nie verander het nie, was die erns waarmee ons Kerk sake op die AKV hanteer. Soms was ek, as jong dominee, gefrustreerd omdat sake terugverwys is vir verdere studie, net om later te sien dit was die regte ding om te doen. En dan die sang: Nêrens anders nie as by die AKV was ek al deel van so ’n hoendervleiservaring waar mense gesing het.

En nou is dit 2022 en tyd vir die 73ste AKV. En weer met iets nuuts: ’n vergadering wat van ’n Vrydag tot ’n Dinsdag beplan word. Ek verstaan die denkrigting. Van my eerste vergadering af het ek besef baie gemeentes vaardig ’n pensioenaris af wat beskikbaar is, wonderlike mense met wie ek ure en ure se teetyd- en etenstydgesprekke gevoer het en by wie ek baie van die Kerk geleer het. Hier teen Woensdag kon ’n mens egter sien hoe die lang ure van ongemaklik sit sy tol begin eis. Hoe ou lywe moeg raak en begin sukkel. Die vergadering oor ’n naweek gaan dit moontlik maak om ook ander ouderlinge die geleentheid te gee om afgevaardig te word. My bede is dat hulle met dieselfde wysheid en liefde vir ons Kerk aan die vergadering sal deelneem.

Die artikel van ds Hannes van der Merwe op die voorblad maak my opgewonde: nog 40 nuwe VONKK-liedere wat ons in die eredienste kan gebruik. Ek droom saam met hom van die dag wanneer ons die maskers kan afhaal en weer uit volle bors kan sing. Hoe lekker is dit nie op die oomblik nie dat ons ten minste weer meer mense in die kerk kan wees.

In hierdie uitgawe sluit ons met die kort reeks oor die 1922 Randse mynstaking af. Die artikels het my baie geïnteresseer omdat my oupa Willie de Vries ook deel van die staking was en uiteindelik sonder werk gesit het. My ouma wou nooit met my oor daardie tyd in hul lewens praat nie, die seer was te diep omdat hulle en vriende deur die gebeure negatief geraak is. Juis daarom het ek die twee artikels geniet. Wat my in die besonder getref het, was die rol van die kerk tydens en na die staking. Oor my 31 jaar as predikant in hierdie Kerk het ek die Hervormde Kerk leer ken as ’n kerk wat daar is waar die nood is, net soos die Kerk in die aanloop tot en nadraai van die 1922 Randse mynstaking. Ons Kerk haal dalk nie die seweuurnuus nie, want dit is nie hoe ons barmhartigheid doen nie, maar ons was en is daar waar duisende mense hul werk verloor met mynsluitings, brande, droogtes, oorstromings, die Covid-19-pandemie… Noem maar op.

Ek bid dat ons nooit blind sal raak vir die nood van mense nie. Trouens, ons kan nie, want die Bybel laat ons nie toe om weg te kyk nie. Ons lees immers in Matteus 25: 35-46 dat wanneer ons barmhartigheid bewys aan die geringstes van God se kinders, ons ook aan Hom barmhartigheid bewys. En die bekende woorde in Jakobus 2: 15-16: Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan?

Dan wil ek ook namens Die Hervormer en sy redaksie vir prof Yolanda Dreyer sterkte toewens vir die volgende deel van haar reis. Ons wil van ons kant dankie sê vir al die goeie bydraes deur die jare. Mooi reis verder!

Share via
Copy link
Powered by Social Snap