Op Aswoensdag, 18 Februarie 2026, het dr Hein Delport die jaarlikse opening van die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) by Gemeente Philadelphia met ’n erediens getiteld Noem my Mara behartig. Die voortgesette liturgie het die tema van identiteit vanuit die verhaal van Naomi en Rut in die Ou Testament ondersoek. Hy het hierdie soektog na identiteit met dié van die Kerk verbind. Voorts het hy die vraag gestel: Wat is ons identiteit as die Hervormde Kerk? Die verhaal wat hy voorgehou het, beklemtoon hoe die naam Naomi met die tema van aanneemlikheid geassosieer word. Tog het sy later haar naam na Mara verander wat met bitterheid verbind word. Dit benadruk die intense emosies wat sy ervaar het tydens haar terugkeer na haar vaderland en hoe dit vir beide haar en Rut met hul identiteit laat worstel het.
Dr Delport het die studente en dosente van die HTK uitgedaag om na die Here terug te keer met dieselfde toewyding as wat Rut vir Naomi gevolg het. Terselfdertyd het hy die teenwoordiges herinner dat ons in hierdie soektog na identiteit ook kan kies om nie in bitterheid te verval nie. Ons kan as’t ware kies om nie te sê nie: Noem my sommer Mara – bitter. Dit is ’n bemoedigende boodskap wat gelowiges herinner dat ons eerder die volgende kan besluit: Noem my sommer Naomi – vreugde.
Dr Thinus van Staden, voorsitter van die Kuratorium, se verwelkoming aan die studente was met hierdie tema verweef. Ek is dankbaar dat die Here my nie op ’n gestolde plek gevind het nie, ek is dankbaar dat ek met ’n oop einde geskape is. Hy het verduidelik hoe daar soms ’n wesenlike verskil is tussen wat iemand glo en wat iemand doen. Daarom het hy die studente aangemoedig dat hulle in hul eie soektog na identiteit hierdie glo en doen uiteindelik saam sal laat smelt deur die loop van hul studies. Hulle sal hulself ook nie op ’n gestolde plek bevind nie.
Prof Jaco Beyers, die adjunkdekaan van die Fakulteit van Teologie en Religie by die Universiteit van Pretoria (UP), het namens die Fakulteit die studente verwelkom. Hy was vergesel deur die dekaan, prof Rantoa Letšosa. Prof Beyers het melding gemaak van ’n spesifieke balans wat hy hoop die studente sal kan handhaaf ter wille van die groei van die Kerk, naamlik onthou en vergeet. Dié balans word deur die Kerk gehandhaaf. Die Kerk onthou deurgaans haar tradisie en roeping en skep terselfdertyd innovering deur te vergeet. Hy het afgesluit deur sy dank uit te spreek dat die Kerk haarself nog in die Fakulteit huisves deur middel van die HTK en dat hy uitsien daarna dat die twee instansies om in die toekoms saam sal onthou en vergeet.
Dr Antionette Janse van Rensburg het saam met dr Robert van Niekerk ’n referaat gelewer met die tema ’n Teopoëtiese besinning oor die Woord van God. Hulle het ’n sakramentele lesing van die Woord van God voorgestel. Hierdie lesing stel ’n veelvuldige perspektief tot die Woord van God voor – nie net van teks tot tafel nie, maar ook van tafel tot teks. Hierdie navorsing fokus op die verantwoordelike en verantwoordbare omgaan met Skrifinterpretasie wat lei tot ’n lewende verhouding met God oor wie die Skrif getuig. Dit is ’n kritiese waardering en historiese bewussyn van die NHKA se Skrifbeskouing.
Na afloop van die erediens en verwelkoming het almal verversings geniet en die verskeie werkgemeenskappe van die Kerk het van die geleentheid gebruik gemaak om te vergader.
(Hooffoto: Drr Dr Hein Delport, Robert van Niekerk en Antionette Janse van Rensburg)
(Ds Iwana Kruger is leraar in Gemeente Pretoria-Oos en die NHKA se joernalis)