Klein Michael is knieserig. Hy sit by sy tafeltjie in Ouma se kantoor, lusteloos aan die speel met sy karretjies. Dan vra hy saggies: Ouma, ek soek ’n drukkie…
Op die hoek by die verkeerslig kyk die dame met ’n moedige glimlag direk in my oë. Op haar bord is in hoofletters geskryf: SEEKING HUMAN KINDNESS.
Ons praat en bely elke dag, aaneen, dat ons ’n gemeenskap van gelowiges is; dat ons soos ’n familie is; dat ons vir mekaar omgee en na mekaar uitreik. Maar sien ons gereeld genoeg raak dat die mense om ons ’n drukkie, ’n skeppie human kindness, so dringend nodig het?
Daarmee wil ek nie propageer dat ons nou links en regs drukkies moet begin uitdeel nie – dit sou lei tot skrikwekkende nuwe probleme!
Maar waar is die warmte, die omgee-gees wat ons almal die een of ander tyd so nodig het?
Ons stuur ons kinders na ’n skool – kleuterskool, laerskool, enige skool – en ons vertrou dat hulle gekoester sal word. Maar dis ongelukkig nie altyd wat gebeur nie. Dalk wil ons dit nie weet of erken nie, maar dis nie net leerders wat mekaar boelie nie. Soms is die boelies die grootmense, die onderwysers, die skoolsisteem. En ouers se hande is afgekap. Want wanneer oordryf die kind net? Wanneer is ouers en grootouers net oorsensitief, of piep hulle nie dalk net hul jong bloedjies op nie?
In die kerk, as die kleinding woelig is en nie ’n uur lank kan stilsit nie, is jy dalk een van die lidmate wat afkeurend toekyk, en die arme ouer laat voel dalk is James Dobson reg, volgens wat hy in die 1982-uitgawe van sy boek Die koppige kind te kenne gee. ’n Mamma vra hom: Ek raak baie ontsteld omdat my tweejarige seuntjie nie in die kerk wil stilsit nie. Hy weet hy moenie raas nie, maar dan slaan hy sy speelgoed teen die bank en praat hard. Moet ek hom pakgee as hy mense op dié manier ontstig? En dr Dobson antwoord: Die ma wat dié vraag gestel het, het ’n swak kennis van klein kindertjies. Die meeste tweejariges kan net so min met gevoude arms in die kerk sit as wat hulle die Atlantiese Oseaan kan deurswem. Hulle kriewel en karring en brand elke oomblik van die dag. Nee, geen kind moet so gestraf word nie. Hy moet tuis gelaat word waar hy die fondamente kan skud sonder om kerkgangers te ontstig.
Waaragtig! By wie moet hy gelos word? Wanneer moet hy leer om in die kerk stil te sit?
Lyk my selfs die geagte dr Dobson het intussen tot ander insigte gekom. In die artikel Sharing Jesus with your children (op professionalmum.com, April 2022) skryf hy: Another way you can teach your children to love and honor Christ is by taking them to church every week. There’s a kind of ecstasy about sitting together as a family and worshipping the God you love. Your child hears your voice singing and praying and it creates a bond with Christ, His family, and with you.
Nouja, toe!
Maar dis nie net ons kinders wat deurloop nie. Dis ’n marteling om die kommentare by aanlyn nuusberigte te lees. Elke mens is geregtig op ’n eie opinie, maar die venyn waarmee sommige mense hul menings lug, is werklik ontstellend. Geen human kindness daar nie!
Byvoorbeeld: Terwyl die spraak-en-gehoor-gemeenskap die afgelope dae in vervoering is oor die gehoorgestremde Mia le Roux wat as Mej Suid-Afrika 2024 gekroon is, lewer ’n persoon die volgende onvriendelike kommentaar op die berig op Maroela Media: Sy is wel doof – oftewel, gehoor-gestremd, maar omdat sy egter reeds taalkundige blootstelling gehad het (1 jaar oud toe sy haar gehoor verloor het), het sy ’n voordeel bo doofgeborenes. Sy het reeds blootstelling aan klank en taal gehad; haar verlies aan gehoor was waarskynlik te wyte aan infeksie of hoë koors. Maar, dit is steeds ’n prestasie!
Is dit net ouer mense wat deur winkelkassiere met wrewel behandel word? Of is vriendelike dienslewering maar net nog iets wat die afgelope jare gesneuwel het? Dit is al so erg dat ’n mens stomverbaas is as ’n assistent of kassier jou met warmte en ’n professionele benadering bedien.
Dan praat ek nie eens van die nare padgebruikers wat tekens wys of voor jou injaag nie, ten spyte van die vissie op hul buffers. Of telebemarkers wat skielik ongeskik raak as jy nie hul aanbiedinge (waarvoor jy nie gevra het nie) wil aanvaar nie.
Onvriendelike, onbeskofte mense oral om ons. Ja, dalk veg hulle teen hul eie demone, hoe sal ons weet. Maar dit gee hulle steeds nie die reg om ander se gevoelens te vertrap en almal om hulle se dag te bederf nie.
Maar daar is altyd ’n ander kant. Mense wat nie net sê dat hulle omgee nie, maar werklik uitreik en in voeling is met ander.
In die mikrokosmos van ’n mens se werkomgewing kry jy met uiteenlopende persoonlikhede en benaderings te doen. Daar is altyd diegene wat die lewe vir jou moeilik maak – sommer net. Met afjakke en innuendo’s, skewe kyke, ignorering. Of bitsige kritiek op jou werk. Maar daar is ook ander…
In my meer as 20 jaar by my huidige werkplek is ek ook al met baie verskillende reaksies gekonfronteer, maar ’n mens verkies eintlik om verby die naarheid te kyk, en dit eerder te vergeet.
Dan onthou ’n mens wel die warmte en aanvaarding, die uitreik en die genade…
Soos die dominee (’n kollega) wat jul telefoongesprek onderbreek met: Maak jou oë toe, ek wil vir jou bid… Sommerso oor die foon, want hy het besef, hier is nood, ek moet (en wil) help.
Of die professor wat iets in jou korrespondensie raakgelees het, en vra: Is daar iets wat ek kan doen om te help?
Of die redakteur wat jou troos met ’n nugtere benadering nadat jy onder skerp kritiek moes deurloop: Laat dit gaan, môre is daar iets nuut om oor te fight…
Aan die einde van ’n persoon se loopbaan onthou jy die engele in mensegewaad wat oor jou pad gestuur is. Die predikant wat besef het hier is hulp nodig, en die Kerk se weeklikse nuusbrief met die vakature daarin geadverteer teen jou hek kom vasplak het. Jou studentepredikant van so lank gelede wat jou aanstelling gereël het. Die emerituspredikante wat jy die onuitspreeklike voorreg gehad het om mee saam te werk, mense wat jou weer daarna laat streef het om, soos Dylan Thomas geskryf het, te rage against the dying of the light.
Uiteindelik kan ons maar net leef soos Paulus die Romeine aangeraai het: Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur. Wees eensgesind onder mekaar. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)
Ek kry vandag eers hierdie stuk gelees, na ‘n lang siekbed. ‘n Juweel! Dankie, Tessa. Hier’s vir jou ‘n drukkie! (Ds Hennie la Grange)