Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) gee geleentheid vir mense om woorde te borg of te koop. Laurika Rauch, beskermvrou van dié inisiatief, het die woord deernis gekoop. Ander woorde wat onlangs geborg en gekoop is, sluit in dankie, inspirasie, koester en naasteliefde.

Ekself hou ’n klompie nuutskeppings waarmee my dogters kleintyd spontaan vorendag gekom het, naby my hart, en oorweeg nog of ek dié woorde wil koop. Ek noem hulle nie hier nie, want netnou kaap iemand dit!

Maar die afgelope jaar het ek ontdek dat my kosbaarste woord in Afrikaans ouma is.

Volgens ’n Walliese spreekwoord arriveer volmaakte liefde nie voor die eerste kleinkind nie. Ek sal nou nie so ver gaan nie, maar ek moet met Laurika Rauch saamstem: Daar maak ’n nuwe kamer in jou hart oop as jy eers kleinkinders het.

Die digter van Psalm 128 se pelgrimslied spreek hierdie mooi wens uit: Mag die Here jou seën uit Sion, dat jy die voorspoed van Jerusalem kan aanskou al die dae van jou lewe, en dat jy jou kindskinders mag sien.

Aan die vooraand van Valentynsdag word ons in winkelsentrums en die media gebombardeer met geskenkidees en liefdesboodskappies. Dis net rooi harte en duur rose en eksotiese sjokolade waar jy kyk. Maar as dié gekommersialiseerde dag verby is, slaan “geliefdes” weer mekaar; jak hulle mekaar weer af; skei hulle tog maar liewer…

Ai, die liefde! Soveel soorte, soveel verskillende emosies. Die gevoel vir ’n spesifieke mens wat jou êrens in jou lewe uitboul, ’n gevoel wat groei en verdiep, eb en vloei, en uiteindelik stil soos ’n glashelder oseaan én stuwend soos die see op ’n onstuimige oggend deel van jou uitsig bly.

Die liefde vir jou ouers, vir broers en susters, vir ander nabye familielede: liefde wat so dikwels deurweef is met hartseer. Te vroeg weg, te ver verwyder, te broos, te siek. Om geliefdes se laaste jare of dae met hulle deur te bring en te sien en te voel hoe hulle wegkwyn. En dan langs ’n bed te staan en die koue hand vas te hou, te weet sy is weg…

Die liefde vir jou eie kinders – daardie allesoorheersende beskermingsdrang en leeuwyfie-ingesteldheid teenoor enigeen wat durf waag om hulle te bedreig. Die magtelose angs as jy hulle vir ’n oomblik in ’n winkel verloor. Die woede as ’n onderwyser hulle afjak, as ’n ander kind hulle afknou. Die besef dat jy moet terugstaan, hulle hul eie pad moet laat loop, nie inmeng in hul skool- of universiteits- of werklewe nie. Ook nie in hul volwasse verhoudings nie. Tru-staan, afstand kry, hulle toelaat om te groei en weerbaar te word.

Dan kom die eerste kleinkind, en daar is niks om dit mee te vergelyk nie. Nina Smit som die allesoorheersende oumaliefde goed op: ’n Ouma word op dieselfde dag as haar eerste kleinkind gebore. En dit maak nie saak hoeveel sy na hierdie spesiale dag uitgesien het of hoeveel sy in die verlede ánder oumas beny het nie (of selfs nie dat sy halfopgesien het teen hierdie ouma-wordery nie) oumaskap vang ’n mens áltyd onkant. Dit is altyd soveel meer besonders en baie wonderliker as wat jy jou dit in jou wildste drome kon voorstel.

Van die eerste kyk na daardie kuiltjiegesiggie, eers gillend kwaad oor sy rus versteur is en hy gebore móés word, dan die eerste krampielag, gou-gou ogies wat fokus, en op ’n dag sy armpies om jou nek. Om die liefiemensie wat teen jou aan die slaap raak te mag vashou… En sowaar, gou-gou te hoor hy sê Ouma!

Die verwoede beskermingsdrang wat jy vir jou twee dogters ervaar het, is weer daar. En weer moet jy – nou net baie vroeër – terugstaan, oorgee. Want dis nie jou kind nie, jy is net die ouma. Maar ja, jy is die ouma, en al is dit net gebede wat jy kan gee, gee jy dit in oorvloed. Praat jy met hom in oumataal en babataal, sing jy hom aan die slaap, hou jy hom vas, speel jy met hom – en die hele tyd is daar die stil gebed en die byna hoorbare geprewel: Ag, Heer, wees met hierdie mensie. Loop die pad met hom, hou hom in u hand, asseblief, asseblief…

af
af
Deel met behulp van
Copy link