Prof Natie van Wyk (emeritus)

  1. Inleiding

Philipp Melanchthon (1497 – 1560) was sedert 1518 (as 21-jarige), professor in Grieks in Wittenberg. Hy was die jonger kollega van Martin Luther. Hy en Luther het lewenslank ʼn hegte kollegiale band gehandhaaf. Al het hulle hier en daar verskil oor hoe standpunte geformuleer moes word, was daar nooit werklike teologiese verskille tussen hulle nie. Oor die verstaan van die Bybel – behalwe in kleiner eksegetiese aangeleenthede – het hulle nie juis verskil nie. Een rede hoekom daar aan Melanchthon aandag gegee moet word in ons debat oor ‘Skrifbeskouing’, het met die feit te make dat hy die evangeliese teoloog[1] was wat eerste ʼn slagspreukagtige uitspraak oor die Skrif voorberei het, waarmee die verskille met die Rooms Katolieke teoloë uitgespel is. Die stellings wat hy vir sy eie teologiese eksamens, kort ná die Disputasie van Leipzig (1519), opgestel het, het gelei tot die slagspreuk sola scriptura. Nog ʼn rede is dat Melanchthon die eerste belydenisskrifte van die Evangeliese Kerk in 1530/31 opgestel het. Die Confessio Augustana en sy Apologie is daarom belangrike bronne vir ʼn besinning oor die Skrif. ʼn Mens sal verwag dat daar in die belydenisskrifte uitsprake oor die verstaan van die Skrif sal voorkom, maar soos aangetoon sal word, is daar byna geen uitsprake oor die Skrif gemaak nie. Ons wat uit die Calvinistiese tradisie kom, behoort hiervan deeglike kennis te neem. Melanchthon was ʼn eksegeet wat talle belangrike kommentare geskryf het. Sy kommentare oor die Romeinebrief het die basis gevorm van sy sistematiese besinnings. Eksegetiese metodes en teologiese standpunte loop hand aan hand by Melanchthon – iets wat weer van belang is in ons tyd. Aangesien daar min aandag aan sy Romeinebriefkommentaar gegee word in die navorsing, bied hierdie artikel ʼn geleentheid om dit te doen. Sy kommentare oor die Kolossensebrief het die besinnings oor die Christelike etiek op ʼn bepaalde koers geplaas. Juis omdat Calvyn en sy volgelinge Melanchthon verkeerd verstaan het, is dit belangrik om terug te keer na dít wat hy aanvanklik gesê het. ʼn Laaste rede vir bemoeienis met Melanchthon se verstaan en gebruik van die Skrif, is dat hy die eerste sistematiese teoloog van die Evangeliese Kerk was. Hy was dus, met ander woorde, die eerste teoloog wat boeke gepubliseer het op grond van sistematiese nadenke oor die inhoud van die Skrif. As mense wat opgegroei het binne die klimaat van die Gereformeerde ortodoksie, verwag ons minstens een hoofstuk in sy ‘dogmatiek’ oor wat ons ‘Skrifbeskouing’ noem. Aangesien daar nie só iets in sy handboeke voorkom nie, sal dit leersaam wees oor hoe hy dan wel oor die Skrif gedink het en daarmee omgegaan het.

  1. Die kollegas en bondgenote: Luther en Melanchthon

ʼn Slagspreuk (Jung 2010:7) lui: ‘Die Reformasie verdank Luther die impulse, maar Melanchthon die gestaltegewing’. Danksy sy enorme skriftelike nalatenskap en sy invloed op die ekumene[2], universiteitswese, skoolsisteem, politiek en kultuur, dra Melanchthon die eretitel leermeester van Duitsland en Europa (praeceptor Germaniae et Europae). Luther het vanaf Melanchthon se intreerede in 1518 besef dat hy in hom ʼn formidabele bondgenoot[3] gehad het. Sonder Melanchthon, sou Luther nie die kerkhervorming suksesvol kon deurvoer nie. Aangesien hulle oor min teologiese kwessies verskil het[4], is die Melanchthon-navorsing ook vir ons in die Hervormde Kerk van belang. Dit is veral hulle gelyksoortige verstaan en hantering van die Skrif wat vir ons nuwe helderheid te midde van die groeiende verwarring en onsekerheid kan bring.

  1. Die Disputasie van Leipzig (1519) en die oortuiging sola scriptura

Melanchthon (saam met Johann Agricola en ʼn aantal studente) het Luther en Andreas Bodenstein von Karlstadt na Leipzig vergesel vir ʼn disputasie[5] wat dáár met Johannes Eck tussen 27 Junie en 15 Julie 1519 plaasgevind het. Die disputasie het oor drie temas gehandel: die vrye wil (Eck teen Karlstadt 27 Junie – 3 Julie); die pouslike gesag, die vaevuur, aflate, bekering en vryspraak (Eck teen Luther 4 – 14 Julie); en die vermoë om goeie werke te doen (Eck teen Karlstadt 14 – 15 Julie).

In die disputasie tussen Johannes Eck en Martin Luther oor die pous het ʼn ingrypende skuif in teologiese denke na vore getree. Volgens die Middeleeuse teologiese tradisie was die pous iure divino (volgens Goddelike reg), wat vanuit die kerkreg, in kombinasie met die wêreldlike reg,  afgelees is, die hoof van die kerk. Hierteenoor het Luther gestel dat net Christus die hoof van die kerk kan wees. Volgens Luther kan die primaatskap van die pous nie uit die ‘wêreldlike reg’ óf die ‘kerkreg’ afgelei word nie. Dít kan slegs vanuit die Skrif afgelei en bevestig word. Die ‘Skrif alleen’ en nie die tradisionele kerklike reg nie, moet in ʼn belangrike saak soos hierdie die deurslag gee. Luther argumenteer dat die primaatskap van die pous nie op grond van Matteus 16:18-19 verdedig kan word nie, aangesien só ʼn oortuiging op ʼn verkeerde eksegese van hierdie gedeelte berus. Al het enkele kerkvaders aan die pous die Petrus-amp toegeken, het die Skrif en nie die vaders nie die laaste woord. Die Bybel kan nie vanuit die perspektief van die vaders gelees word nie, maar die vaders moet aan die Skrif getoets word. Die hermeneutiese tradisie van die kerkvaders is dus nie bo Skriftuurlike kontrole verhewe nie, maar daaraan ondergeskik. Die konflik tussen Eck en Luther was dus die stryd om die primaatskap tussen teologiese tradisie en Bybelse eksegese. Die konsekwensie van Luther se ‘Skrifverstaan’ was dat hy die hele kerklike hiërargiese ampstruktuur moes bevraagteken. Hy herinner Eck aan die Vroeë Kerk waar priesters en biskoppe gelyke status geniet het. Dít het hom egter ná aan die argumente van die veroordeelde ketter, Johannes Hus, gebring wat in 1415 tydens die Konsilie van Konstanz tereggestel is. Eck omskep verdediging in aanval en beskuldig Luther dat hy (net soos Hus), by implikasie, die gesag van konsilies ondergrawe. Luther hou egter konsekwent by sy standpunt en stel dat konsilies wel kan dwaal – en wel wanneer daar besluite geneem word wat nie met die Skrif in ooreenstemming is nie. Volgens Luther is geen kerklike instansie wat nie vanuit die Skrif begrond kan word heilsnoodwendig nie, en ʼn konsilies is só ʼn instansie. Die belangrike paradigmaverskuiwing wat hier plaasgevind het, is dat mensewoord en God se Woord onderskei is. Kerkreg is ondergeskik aan Bybelse eksegese en nie andersom nie. Sy ‘Erfurt Bybelhumanisme’ (Junghans 2019:133) het hom laat glo dat kerklike oortuigings, gewoontes, besluite en tradisies nie noodwendig Skriftuurlik goed begrond is nie, en daarom krities bevraagteken kan word en opnuut Skriftuurlik begrond moet word. Usansie en teologiese tradisie kan nooit die laaste woord in die teologie wees nie; die argumente vanuit die Skrif egter wel. By die Disputasie van Leipzig het die breuk tussen die kerkhervormers en die Roomse Kerk duidelik plaasgevind – wat ʼn bietjie later deur Melanchthon op skrif gestel sou word. Die breuk was ten diepste ʼn breuk oor teologiese metodiek, naamlik die vraag oor die plek en rol van die Skrif in teologiese debatvoering (vgl. Dingel 2019; Kohnle 2019:39-46).

Na afloop van hierdie disputasie het Melanchthon die eerste kerkhervormer geword wat hom stellenderwyse oor die Skrif uitgelaat het (juis omdat hy oortuig was dat Luther se argumente méér geldig was as dié van Eck – Kohnle 2019:41). Op 9 September 1519 het hy voldoen aan die vereistes van ʼn Baccalaureus in Teologie. Hy het 24 stellings opgestel wat hy in ʼn disputasie in Wittenberg suksesvol verdedig het. Met stellings 16 en 17 het hy die eerste evangeliese teoloog geword wat stellenderwyse, indirek, na ‘die Skrif alleen’ (‘sola scriptura’) verwys het. Hy ([1519] 2011a) stel:

16.  Vir ʼn Christen is dit nie noodwendig, om buiten die dinge wat aan hom deur die Skrif betuig word, aan nog ander dinge te glo nie.

17.  Die gesag van die konsilies moet geringer geag word as die gesag van die Skrif self. (p. 18; [vertaling deur die outeur])

Met hierdie stellings het Melanchthon bevestig wat Luther in Leipzig gedisputeer het, naamlik dat niks heilsnoodwendig kan wees wat nie in die Skrif staan nie, soos gehoorsaamheid aan die pous in Rome. Die sola scriptura-prinsiep was dus die gevolg van die differensie-hermeneutiek wat teenoor die Roomse Kerk gevolg is, en sowel Luther as Melanchthon sou later bevestig dat die slagspreuk sola scripura, ‘nie net geldig is nie, maar ook waar’ (Leppin 2019:196).

  1. Die belydenisskrifte (1530/31)

Melanchthon was die opsteller van twee van die eerste Protestantse geloofsbelydenisse[6], naamlik die Augsburgse Geloofsbelydenis / Confessio Augustana (CA) van 1530 en die Apologie op die Confessio Augustana van 1531. Die interessante is dat Melanchthon nie in die CA of die Apologie (28 artikels elk) ʼn artikel oor die Skrif het nie. Daar is dus nie sprake van iets soos ʼn ‘Skrifbeskouing’ nie. Vir hom (en die ander eerstegeslag-reformatore) het dit oor die evangelie van Jesus Christus gegaan. Hierdie evangelie kan net op één plek gevind word, en dit is in die Bybel soos wat hulle dit in daardie tyd geken het. Vrae oor die ‘gesag’ en die ‘inspirasie’ van die Skrif was in daardie stadium nie ter sake nie.

In die Apologie, wat uitgebreide kommentaar en verduidelikings oor die CA bevat, is daar wel enkele belangrike uitsprake oor hoe die Skrif gelees moet word. Hierdie uitsprake is voortdurend in die verskillende uitgawes van sy Loci verduidelik, en sal by die bespreking oor hierdie ‘dogmatiekhandboeke’ verdere aandag geniet. Die eerste belangrike uitspraak kom voor in die artikel (IV) wat oor die regverdiging handel. Die kern van die evangelie handel oor die tema van die regverdiging. Om die goeie nuus oor die regverdiging reg te verstaan, moet die twee hooftemas van die Skrif, te wete wet en beloftes oor Christus en sy werk, geïdentifiseer en onderskei word. Onder ‘wet’ word die ‘sedewet’ wat in die tien gebooie saamgevat word, bedoel. Wette oor Joodse seremonies en die staatswese is nie ter sake vir die kerk nie. Die onderskeid tussen wet en evangelie, moraal en geloof, handeling en belofte is die vertrekpunt van die Reformatoriese Skrifverstaan. Indien hierdie vertrekpunt nie aanvaar word nie, kan daar nie sprake wees van ʼn Reformatoriese omgaan met die Skrif nie (vgl. Dingel 2014:98-99. 267-397).

Reeds by die Disputasie van Leipzig (1519), was daar ʼn meningsverskil tussen Luther en Eck oor die gesaghebbendheid van die eksegese van die kerkvaders. Melanchthon raak die saak weer in die Apologie (art IV) aan waar dit handel oor die regverdigmakende geloof. Hier gebruik hy die uitsprake van Ambrosius en Augustinus ter ondersteuning van die Reformatoriese verstaan van geloof en genade. Hiermee gee Melanchthon te kenne dat Reformatoriese teologie in ooreenstemming is met die konsensus wat daar in die Vroeë Kerk bestaan het oor die regte leer. Vir Melanchthon beteken ‘ekumeniese teologie’, ʼn teologie wat instem tot die teologiese leer waaroor daar eenstemmigheid was binne die hoofstroom van die Vroeë Kerk – en daarom behoort die Roomse teoloë met hom en Luther saam te stem.

Die volgende aspek wat oor ‘Skrifbeskouing’ aandag kry, is die tema van ‘Skrifbewyse’ vir leeruitsprake – hier die tema van boetedoening of bekering (artikel XII – vgl. Dingel 2014:106-107. 434-510). Melanchthon beskou die Bybel nie as ʼn versameling leeruitsprake nie, óf anders gesê; die leeruitsprake van die kerk word nie as stellings in die Skrif gelees nie. Wanneer die kerk poog om te leer wat onder ʼn bepaalde onderwerp verstaan kan word, moet sodanige leer op Skrifgedeeltes berus. Leeroortuigings wat nie ʼn Bybelse basis het nie, kan nie aanvaar word nie. Die probleem vandag is dat etiese menings (wat dikwels op ʼn baie dun Bybelse basis berus) op ons afgedruk word as leerstellings. Ons behoort dus wakker te wees vir hierdie kullery. Die begin van die wakker-wees-proses is egter om seker te maak dat die ‘evangelies van vandag’ op behoorlike Bybelse argumente berus. Media-uitsprake mag tog nie die aard en karakter van die kerklike verkondiging bepaal nie!

Die laaste opmerking wat ek uitlig oor Melanchthon se verwagtinge oor Skrifhantering, het te make met die misbruik van die Skrif. In die afdeling oor belydenis en genoegdoening maak Melanchthon beswaar teen die misbruik van die Skrif om eie, vreemde, onaanvaarbare teologiese uitsprake te begrond. Om die Bybel te laat buikspreek, is nie aanvaarbaar nie. Om die Bybel te misbruik vir bedenklike sosiaal-politieke ideale of verwronge teologieë, pas nie by ʼn respekvolle omgaan met die Skrif nie.

  1. Melanchthon die eksegeet[7]

Melanchthon was ʼn humanis. Dit beteken dat hy met die oortuiging geleef en gewerk het dat die mense van sy tyd inspirasie en oriëntasie moet put uit die geskrifte van die klassieke antieke. Hy het daarom geglo dat die oorspronklike bronne van die Europese beskawing opgediep en nuut bestudeer moes word (ad fontes). Om dít te kon doen moes die antieke tale weer aangeleer word. Naas Latyn, moes Grieks en Hebreeus weer bestudeer word. Dít het meegebring dat die bestudering van die Bybel by die nuwe vaardigheidsvlakke gebaat het. Teologiese eksegese kon daarom danksy die humanistiese gees, nuwe vlakke van wetenskaplikheid bereik (Jung 2010:15-17; Kuropka 2010:11-23; Scheible 2016:12-33). Melanchthon ([1518] 2011b) het reeds met sy intreerede[8] as 21-jarige professor in Grieks in Wittenberg die volgende belangrike uitspraak gemaak:

Eers, aan die hand van die oorspronklike tekste, sal die woorde [van die Bybel] in hulle glans en werklike betekenis ontsluit word, en terselfdertyd, soos in die stralende lig van die middagson, sal die ware en werklike betekenis van die letters waarna ons opsoek was, aan ons geopenbaar word. (p. 62; [vertaling deur die outeur])

Die bestudering van die Bybel vanuit die oorspronklike brontale is hoofsaaklik aan Melanchthon te danke. Dit is egter nie genoeg om Melanchthon te respekteer vir sy bydrae oor die tale nie. Sy bydrae oor die eksegese moet ook waardeer word.

Een van die kenmerke van Melanchthon se eksegetiese metode was om Bybelboeke in hulle geheel te bestudeer. Om te ondek wat ʼn bepaalde outeur wou sê, is dit belangrik dat die hele Bybelboek bestudeer moet word. Uit enkele, losstaande gedeeltes of teksverse, kan die boodskap van die outeur nie reg begryp word nie. Die geheel van ʼn bepaalde Bybelboek laat deurskemer wat die sentrale boodskap is. Een hoofstuk, of enkele teksverse, laat nie hieraan reg geskied nie. In sy wydingsbrief van sy Romeinebriefkommentaar van 1529 het hy ([1529] 2000) sy oortuiging soos volg geformuleer:

Net so min as wat iemand die skoonheid en afmetings van ʼn standbeeld vanuit sy dele kan bepaal wanneer hierdie standbeeld in stukke gebreek is, net so min sal iemand die bedoeling van ʼn outeur kan vasstel wanneer hy nie die werk in sy geheel ken nie. […] Aangesien die brief van Paulus aan die Romeine van die belangrikste Christelike leerstellings bevat, en tegelyk ook ʼn metode bevat wat op die ganse Skrif aangewend kan word, is dit nie voldoende om die een of ander vers uit hierdie brief uit te lig nie. ʼn Mens moet die hele brief lees en daaroor nadink hoe die afsonderlike hoofstukke en hulle onderafdelings sinvol saam pas en ineenvleg. ʼn Mens moet na die sekere, volhoubare en eenvoudige betekenis van die leer van die apostel soek, sodat die noukeurige leser deur hierdie belangrike leer onderrig kan word. (p. 471; [vertaling deur die outeur])

Melanchthon se Kommentaar op Romeine (1529/30/32[9]) is ʼn goeie voorbeeld van sy verstaan van hierdie brief sowel as die Skrif in sy geheel. Die Romeinebrief as geheel (en nie net vers 1:17 nie), is vir Melanchthon die hart van die evangelie. Die eksegetiese metode wat aangewend word, moet dus die sentrale boodskap van die evangelie na vore bring. ʼn Metode wat dít nie kan doen nie, is nie geskik vir Bybelse eksegese nie.

Melanchthon het in sy eksegese die prinsipes van die retoriek gebruik. Volgens hom is Paulus se Romeinebrief ʼn samestelling van retoriese eenhede. Op grond hiervan werk hy met die aanname dat ons hier met ʼn groter ‘leerrede’ te make het. Paulus begin sy brief met ʼn inleiding (exordium) wat bestaan uit Romeine 1:1-15. Die inleiding berei die leser voor vir die eintlike rede wat hierna volg. Volgens ʼn ou gebruik begin Paulus sy rede met ʼn aantal stellings (propositiones) in Romeine 1:18-31. Die twee belangrikste stellings is dat (a) alle mense aan die sonde, en daarom die dood onderworpe is, en dat hulle hulself nie daarvan kan bevry nie; en (b) dat mense sondevergewing ontvang op grond van die grenslose barmhartigheid van God vanweë Christus deur die geloof, en nie vanweë hulle goeie werke nie. Romeine 4 – 5:11 is ʼn samevatting en ʼn bevestiging (confirmatio) van wat tot hier gesê is. Met Romeine 5:12 – 8:39 begin Paulus eintlik ʼn nuwe rede, alhoewel hy slegs vanuit verskillende perspektiewe die hoofargument verder verduidelik. Volgens Melanchthon volg Paulus die dialektiese tradisie en analiseer en ondersoek hy die belangrikste loci van die Christelike leer, naamlik sonde, wet en genade. Al drie temas word volgens Melanchthon saamgevat in die oorkoepelende tema van die regverdiging. Paulus kon sy brief, aldus Melanchthon, net hier afgesluit het, maar omdat hy homself teenoor die Jode moes regverdig en verduidelik wat die ware kerk is en wie daaraan deel het, moes hy voortgaan in hoofstukke 9 – 11. Ten slotte volg in hoofstukke 12 – 15 ʼn uiteensetting van Christelik-sedelike voorskrifte, met ʼn groetewoord in die laaste hoofstuk (vgl. Kuropka 2018:23-25).

Melanchthon konsentreer in sy Romeinebriefkommentaar van 1532 op twee belangrike temas, te wete die vraag na die regverdiging en die vraag na die betekenis van die werke vir die heil van die mens. Ek konsentreer slegs op sy hantering van die vraag na die werke. Hy verdeel die vraagstelling in drie groepe: (a) die betekenis wat die werke het vir die mens se regverdiging; (b) die betekenis wat dit het vir geregverdigde mense; en (c) die betekenis van die werke vir Christenwees in die wêreld. Aan hierdie drie temas gee hy aandag in die gedeelte oor die regverdiging, by Romeine 6 en Romeine 12 – 15. Oorkoepelend wil Melanchthon twee dinge sê: Geen goeie werk dra by tot iemand se regverdiging nie, maar nogtans is goeie werke ʼn bestanddeel van die gelowige se gehoorsaamheid aan God. Melanchthon probeer om hierdie dialektiek met behulp van die onderskeiding tussen persoon en werke te verduidelik. Hy (soos aangehaal deur Kuropka 2018) sê:

Die persoon en die werke moet daarom onderskei word. Die persoon word deur die vertroue op [God se] barmhartigheid versoen – sodat dit seker kan wees – dat dit nie van die voorwaardes van ons waardigheid en deugde afhang nie. Om hierdie rede ontvang ons die regverdiging alleen uit die geloof, dít is, alleen uit vertroue op die barmhartigheid, wat om Christus wil belowe word. En ʼn mens kan God nie reg dien of aanroep wanneer die persoon twyfel nie […] Daarom moet die twyfel eers uit die persoon verdryf word. Dít geskied alleen in vertroue op die barmhartigheid. Later, omdat dit ook nodig is om goed te handel, word die werke na goeie waarde geskat, omdat die persoon na waarde geskat word en van twyfel bevry is. En alhoewel die werke onwaardig is – aangesien die natuur van die mens sedelik onvolmaak en ver weg van absolute vervulling van die wet is – word dit nogtans na waarde geskat en tot ʼn mate as vervulling van die wet beskou. (p. 26; [vertaling deur die outeur])

Melanchthon (soos Luther) se argument kom nie neer op die gedagte dat goeie werke nie gedoen moet word nie. Vanselfsprekend moet mense goeie werke doen – werke wat voldoen aan die eise van die wet – maar die vraag is wat motiveer mense, en wat stel hulle in staat om dit te doen? Melanchthon, op grond van Paulus, argumenteer dat die grond vir goeie werke die wete is dat die persoon deur God se barmhartigheid aanvaar word, en dat daar nie op sy werke of sy sedelikheid staatgemaak moet word as motivering nie. Die belofte dat ek as persoon waardigheid voor God besit, bevry my van die las om waardigheid deur my doen en late af te dwing – en dít is die evangelie soos wat ons dit in die Romeinebrief lees.

Een van die belangrike bydraes wat die Melanchthon-navorsing tot ons huidige debatvoering lewer, is die herinnering dat die Christelike geloof nie tot moraliteit verlaag mag word nie. Die vloedgolf van Christelik-etiese voorskrifte wat bloot bestaande staatswetgewing ondersteun of verder wil aktualiseer, is oorbodig en beteken niks vir niemand nie. Melanchthon het in sy Romeinebriefkommentaar daarop gewys dat Paulus se etiek nie uitvoerig genoeg is om maatskaplike gestaltegewing te bevorder nie. Die filosowe en wetgewers, daarenteen, het dit uitvoerig en grondig gedoen. Om hierdie rede steur wetgewers hulle nie aan die gebrekkige etiese voorskrifte van die Skrif nie. Met hierdie argumentvoering breek Melanchthon met die Middeleeuse tradisie wat die Skrif beskou het as ʼn leerboek vir die moraal. Die Roomse teoloë het die saak van die Christendom verswak deur die Skrif met die filosowe te laat kompeteer oor ʼn saak wat nie die kern van die Skrif raak nie, naamlik die reëls en regulasies vir die openbare orde. Paulus konsentreer nie op die openbare moraal nie, maar op die eksistensiële vraag na die regverdiging en die betekenis van Christus se weldaad vir die mensdom. Hy (soos aangehaal deur Kuropka 2018) betoog soos volg:

Die verskil tussen die apostels en die filosowe is die volgende: Eerstens leer die filosowe nie die evangelie nie. Tweedens leer die filosowe niks oor die eerste tafel van die dekaloog, die ware godsdiens, die kruis, die Goddelike hulp en die gebed nie. Hulle lewer slegs die burgerlike wetgewing van die tweede tafel [van die dekaloog] oor. (p. 29; [vertaling deur die outeur])

Melanchthon se betoog is dat die kerk hom met sy eie temas moet besighou, en nie napraters van denkers oor die maatskaplike lewe moet wees nie. Die kerk doen niemand ʼn guns om bloot te herhaal wat die filosowe en regsgeleerdes (en sosioloë en sielkundiges) sê nie. Die kerk moet sy eie saak, en nét sy eie saak stel, hoe vreemd dit ook al vir ander mense mag klink. Baie oortuigingswerk moet dus deur die kerk gedoen word. Om te argumenteer (soos só dikwels in ons Kerk gehoor moet word) dat ons dit met dade en nie met woorde nie moet doen, plaas ons natuurlik terug by die oortuigings van die Roomse Kerk van die Middeleeue.

Melanchthon se laaste kommentaar, naamlik sy kommentaar op Kolossense[10] van 1559, Enarratio in Epistolam Pauli ad Colossenses, lewer ook ʼn paar eksegetiese insigte op, wat belangrik behoort te wees vir diegene wat nog belangstel in kerklike identiteit en tradisie. Dit gaan oor die eksegetiese verskille tussen Melanchthon en Calvyn – verskille wat vandag nog irritasies veroorsaak in debatte tussen Afrikaanssprekendes. Melanchthon word voorgehou as die persoon wat die derde gebruik van die wet (tertius usus legis) uitgedink en in die teologiese debat ingebring het. Hy het dit egter vir die eerste keer eers in die kommentaar van 1534 ter sprake gebring. Calvyn wat hierdie gebruik in den brede uitgewerk het, moes die gedagte in hierdie kommentaar opgetel het. Melanchthon, in teenstelling met Calvyn, het die ewige wet van God egter nie vermoraliseer nie. Hy was in kritiese debat met (a) die antinomiste wat gemeen het dat die wet nie vir Christene geld nie, en (b) die ‘Hervormingskatolieke’ wat gemeen het dat die evangelie deels uit wette bestaan. Hierteenoor het Melanchthon geargumenteer dat Christene wel volgens die wet moet lewe, maar dat die wet nie ʼn aspek van die evangelie is nie. Calvyn het hierdie derde gebruik van die wet (die wet as riglyn vir die Christelike lewe) tot die belangrikste verhef en verder geargumenteer dat (bekeerde) Christene, en net hulle, die wet ten volle kan gehoorsaam. Hierdie uitleg van die derde gebruik van die wet, is ten diepste die rede vir die verval van die Calvinisme in moralisme. Dít verklaar die rigiediteit en morele verwaandheid van sekere Gereformeerde groeperinge (vgl. Wengert 2018:33-35).

Die 1559-kommentaar (wat op sy lesings van 1555 en 1556 berus), wyk af van die styl en aanslag van sy vorige kommentare. Hy het veel minder aandag aan taalkundige en retoriese kwessies gegee, en grootliks op teologiese temas in Kolossense gekonsentreer. Sy laaste eksegetiese arbeid getuig van drie kenmerke, wat juis by Calvyn ontbreek. Melanchthon was op sy oudag oortuig dat eksegese tematies benader moet word; net soos wat ‘dogmatiek’ eksegeties beoefen moet word. ʼn Kommentaar kan dus tematies georden word terwyl ʼn ‘dogmatiek’ van eksegetiese noukeurigheid moet getuig. Bybelse tekste moet dus binne groter teologiese temas en die hoofgedagtes van die evangelie uitgelê word. Dit is hierdie deurdringing van eksegese en teologie wat by Calvyn ontbreek. Tweedens lê Melanchthon Kolossense nie teksvers vir teksvers uit nie, maar konsentreer hy eerder op die groter tema wat ter sprake is. Dit is juis Calvyn se teks-vir-teks-eksegese wat ten grondslag lê van die biblisisme en fundamentalisme wat ʼn lang skadu oor Afrikaanse teologie gooi. Wanneer ʼn teksvers belangriker is as ʼn groter samehang of tema, verloor die kerklike boodskap sy geloofwaardigheid. Derdens het Melanchthon op die vrae van sy tyd ingegaan in sy eksegetiese arbeid. Die Woord van God is nie dooie letters nie, maar ʼn lewegewende boek. Die destyds van die outeur teenoor die vandag van die eksegeet was vir Melanchthon nie aanvaarbaar nie. Paulus se woorde is die saak van vandag, en vandag kan opgehelder word met behulp van Paulus se teks in die verlede (vgl. Wengert 2018:36).

  1. Loci communes (1521)

Nadat Melanchthon in September 1519 die graad Baccalaureus Biblicus behaal het, kon hy met groter vrymoedigheid lesings in teologie aanbied. Enkele dosente in teologie was ongemaklik met die gedagte dat iemand wat nie ʼn graad in teologie gehad het nie, dáár kon klasgee. Melanchthon wat in Julie 1519 al begin werk het aan lesings oor Romeine, kon toe volstoom voortgaan met sy werk aan ʼn Romeinebriefkommentaar. Teen Desember 1519 het hy die eerste ontwerp vir ʼn publikasie voltooi. In 1520 werk hy volstoom verder aan Romeine[11]. Hy sien egter af van die idee om ʼn kommentaar te publiseer, en begin werk aan ʼn boek waarin die hoofgedagtes van die Romeinebrief sistematies uiteengesit word. Op 27 April berig hy dat honderde studente sy lesings oor die loci communes, dit is die hoofbegrippe van Paulus se brief, begin bywoon het. Die woord hoofbegrippe (loci) het hy uit die klassieke retoriek oorgeneem. In die retoriek is daar destyds geleer dat goeie opvoedkundiges in staat is om die hoofbegrippe, óf die wesenlike temas van ʼn belangrike geskrif, vir studente en belangstellendes te verduidelik. Melanchthon wou doelbewus breek met die Middeleeuse tradisie wat telkens gepoog het om ʼn kompendium of ʼn samevattende leerboek van die teologie (summa theologiae) aan te bied. Hy, daarenteen, wou eerder ʼn inleiding tot die Bybelse teologie voorlê wat mense sou help om die Bybel reg te verstaan.

Met hierdie verklaring van die grondbegrippe van die Romeineboek het Melanchthon onbepland die eerste Reformatoriese sistematiese teologie voorgelê met die titel Grondbegrippe van die teologie, óf teologiese sketse (Loci communes rerum theologicarum seu hypotyposes theologicae[12]). Luther was só beïndruk met hierdie werk dat hy gehoop het dat hierdie werk, naas die Bybel, deeglik bestudeer sal word as ʼn poort tot die verstaan van die Bybelse boodskap (Jung 2010:23).

Dit is belangrik om te onderstreep dat hierdie ‘dogmatiekhandboek[13]’ ʼn breuk met die Middeleeuse skolastiek ingelui het. Ons het hier met ʼn nuwe metode in teologiebeoefening te make. Hier gaan dit oor die hoofpunte of kerngedagtes van die Bybel – en meer spesifiek van die belangrikste Bybelboek, naamlik Romeine – en nie oor ʼn kompendium of geslote sisteem van geloofsdenke[14] nie. Die uitleg of verklaring van die hoofbegrippe as sodanig kan nie die belangrike wees nie, aangesien dit wil uitnooi om na die primêre bron, die Bybel, in die oorspronklike tale, terug te keer. In die wydingsbrief aan die waarnemende rektor van die Universiteit Wittenberg, Tilemann Plettener, stel Melanchthon ([1521] 1997) dat in hierdie geskriffie:

… word die belangrikste hoofpunte van die Christelike leer aangebied, met die bedoeling dat die jeug kan verstaan waarna hulle hoofsaaklik in die Skrif moet soek […] Ek doen dit nie om die studente van die Skrif weg te lok na ʼn aantal donker en moeilike kwelpunte nie, maar om, sou ek kon, hulle nader na die Skrif self te lok (p. 12 [outeur se vertaling])

Die hoofbegrippe van die Romeinebrief handel oor die volgende temas: die vermoëns van die mens (vrye wil); die sonde; die wet; die evangelie; die genade; die regverdiging en geloof; die onderskeid tussen Ou- en Nuwe Testament; die tekens van God se genade (sakramente); die liefde; die owerheid en die aanstootlikhede.

Hier is duidelik nie ʼn enkele hoofstuk in die Loci wat oor ‘Skrifbeskouing’ of ‘reëls vir Skrifhantering’ handel nie. Hierdie tipe vraagstellings was vir die eerstegeslag-reformatore nie van belang nie. Vir hulle het dit oor die sentrale boodskap van die Skrif, naamlik die evangelie van Jesus Christus gegaan. In die lig van hierdie oortuiging, is uitsprake oor die lees van die Bybel gemaak. Melanchthon ([1521] 1997) argumenteer soos volg:

Die [heilige] Skrif bestaan, in die geheel beskou, uit twee dele, wet en evangelie. Die wet hou die sonde voor oë, die evangelie die genade; die wet wys uit wat die siekte is, die evangelie die geneesmiddel. Die wet is die dienaar van die dood – om die woorde van Paulus te gebruik –, die evangelie [dien] die lewe en die vrede. ‘Die wet is die krag van die sonde’ [1 Kor 15:56], die evangelie is die ‘krag tot heil vir elkeen wat glo’ [Rom 1:16]. (p. 161; [vertaling deur die outeur])

Melanchthon ([1521] 1997:161) waarsku egter onmiddellik teen ʼn misverstand: Die wet is nie net in die boeke van Moses en die evangelie nie net in die vier Evangelies te vinde nie. Die beloftes van genade en vergewing en uitsprake oor die wet kom in sowel die Ou as die Nuwe Testament voor. Die tye van wet en evangelie moet ook nie uitmekaargehaal word nie. In alle tye was en is daar toorn oor wetsoortredings, soos ook genade en vergewing vir die sondaars. Wet en evangelie kan mekaar in één hoofstuk afwissel. Dit bly egter belangrik om die evangelie nie met wetsvoorskrifte te verwar nie. Die volgende woorde van Melanchthon ([1521] 1997) is dus van belang:

Soos dít wat reg is deur die wet voorgeskryf word en die sonde deur die wet ontbloot word, só is die evangelie die belofte van die genade of die barmhartigheid van God en daarmee ook die vergewing van sonde en die getuienis oor God se toenadering tot ons. Op grond van hierdie getuienis moet ons harte op grond van die sekerheid oor die goedheid van God glo, naamlik dat alle skuld ons vergewe is; en [daarom behoort ons weer] met opgewektheid God lief te hê en Hom te loof, en in Hom vreugde te vind … (p.163; [vertaling deur die outeur])

Aangesien die argument oor die onderskeiding tussen wet en evangelie dikwels misverstaan word, herhaal Melanchthon sy groter argument ter wille van duidelikheid. Hy ([1521] 1997) stel:

… dit is nie die eerste en eintlike amp van Christus om ʼn wet te maak nie maar om genade te gee. Moses is die wetgewer en regter, Christus is [egter] die redder, soos wat Hy oor homself getuig in Johannes 3:17 … Die wet veroordeel, aangesien dit nou eenmaal nie deur ons vervul kan word nie. Christus gee ten spyte van die sonde genade aan diegene wat glo. Ten spyte van die feit dat Christus self ook dikwels die wet preek, aangesien die sonde nie sonder die wet geken kan word nie; wanneer ons die sonde nie [aan ons eie lywe] kan voel nie, kan ons ook nie die krag en grootsheid van die genade insien nie. Daarom moet wet en evangelie gelyktydig gepreek word; sonde en genade gelyktydig ter sprake gebring word. (p. 175; [vertaling deur die outeur])

Wat die implikasies is vir ‘Skrifbeskouing’ en ‘Skrifhantering’ in die lig van die onderskeiding en samehang van wet en evangelie het Melanchthon uitgewerk in die hersiene en uitgebreide uitgawes van sy Loci.

  1. Heubtartikel Christlicher Lere (1553)

Sedert 1522 was daar Duitse vertalings van Melanchthon se Loci. Die meeste van die vertalings is deur Georg Spalatin en Justus Jonas gedoen[15]. Tussen 10 April 1552 en 18 Maart 1553 het Melanchthon self gewerk aan ʼn verkorte en vereenvoudigde Duitse weergawe van sy leerboek (Theologia Germanica) wat bedoel was vir die breë publiek. Hierdie leerboek het talle uitgawes, verwerkings en herdrukke beleef. In 1558 is dit vir die laaste keer tydens sy leeftyd gedruk. In 1555 het hy self verklaar dat hierdie boek sy ‘testament’ is, en van beter kwaliteit is as sy Latynse Loci. Die merkwaardige van hierdie leerboek is dat dit aan sy vriend Joachim se eggenoot, Anna Camerarius, opgedra is. Dit was waarskynlik die eerste en laaste keer in eeue dat ʼn leerboek in die teologie aan ʼn vrou opgedra is. Hy het dit aan Anna († 1573) opgedra uit bewondering vir haar ontwikkeldheid en (selfverworwe) geleerdheid. In hierdie ‘dogmatiekhandboek’, wat herinner aan ʼn kategismus, het hy aanhoudend teruggeval op die Bybel self. Talle Bybelverwysings word aan die kante van die bladsye aangegee. Sy bedoeling was dat die lidmaat aan die hand van hierdie leerboek, die Bybel self moes lees. Die tekste van die Bybel, en nie dogmatiese stellings nie, was die kern waaroor dit vir Melanchthon gegaan het (Jung 2010:99-100).

In die wydingsbrief aan Anna Camerarius het Melanchthon enkele belangrike uitsprake oor die Skrif gemaak. Hy stel aan die begin van die brief dat die geskrifte van die profete en die apostels, gelees in samehang met die drie belydenisse van die kerk, die belangrikste literatuur vir kinders en hulle ouers is, aangesien dít die bronne en redes vir die geloof bevat. Nuwighede wat hiermee in stryd is, het nie ʼn plek in die kerk nie. Sy Locos Theologicos, soos wat hy hierdie geskrif in Latyn noem, is dus ten diepste ʼn kategismus wat handel oor Vader, Seun en Heilige Gees. Wat buite hierdie raamwerk val, het nie met die kern van die evangelie te make nie, en gaan lidmate nie aan nie ([1553] 2010:77-79).

In die voorwoord voer Melanchthon ([1553] 2010:80-85) ʼn argument wat vir ons ietwat vreemd mag klink, maar tog belangrik is ten opsigte van ons verstaan van die Skrif. Hy stel dat God vir Homself deur die eeue ʼn kerk versamel het en nog steeds versamel wat vir die ewige lewe bestem is. Dit is ondenkbaar dat God mense geskape het wat almal vir die verderf bestem is. Van Adam en Eva af, het God aan mense vergewing en nuwe lewe belowe. Hierdie beloftes van barmhartigheid en lewe is die oorsprong van die kerk. In en deur Jesus Christus het God egter die ware en ewige kerk gestig deur beloftes wat aan alle mense gerig is wat. Wie in sy Seun en sy werk glo, het die belofte dat hy of sy deel van die hemelse kerk sal wees. Die beloftes van God bind Ou en Nuwe Testament saam. Die beloftes van die Ou Testament – veral dié in die profeteboeke – is onlosmaaklik gekoppel aan die beloftes in die Nuwe Testament. Dit is daarom ondenkbaar dat die Ou Testament uit die lewe van die kerk geskrap kan word, óf dat daar gemeen kan word dat die Ou Testament niks met die kerk en die volgelinge van Jesus te make het nie. Die saaklike argumente oor God en sy beloftes verseker dat die Ou Testament die boek van die kerk is en bly.

  1. Loci praecipui theologici (1559)

Melanchthon het sy lewe lank aan die Loci gewerk. Hy het dit voortdurend verbeter en uitgebrei[16]. Ons gee hier aandag aan die 1559-uitgawe – die laaste uitgawe waaraan hyself gewerk het voor sy dood op 15 April 1560. Hierdie uitgawe ([1559] 2018) word as sy hoofwerk beskou en word gebruik as die beste bron vir wetenskaplike navorsing.

In die voorwoord tot sy ‘versameling van teologiese leerstukke’ het Melanchthon ʼn klompie opmerkings gemaak wat vandag dalk méér aktueel is as destyds. Dit gaan hoofsaaklik oor die vraag, hoe God (en die dinge aangaande God) geken word. Ek is daarvan oortuig dat die kerk, in sy amptelike besluite, nie van Melanchthon se standpunt kan afwyk nie. Melanchthon se vertrekpunt in die teologie is dat God aan mense die gawes van tel, meet en analiseer gegee het, met ander woorde, dat Hy ons die gawe van wetenskapsbeoefening gegee het. Melanchthon noem dit kortweg ‘filosofie’. In die filosofiese metode gaan dit om waarneming, verklaring en bewysvoering. In die teologie gaan dit nie om ʼn bewysvoerende metode nie, maar om die soeke na dít wat God ons meedeel – en dít wat God ons wil meedeel (oor sy wil en begeerte) vind ons in die Skrif, en nêrens anders nie. In die filosofie (of wetenskap) word daar na sekerheid gesoek – sekerheid wat gevind word in ervaring en bewyse. Die leer van die kerk vind sekerheid nie in bewyse nie, maar in God se woorde wat aan ons gerig word (ook sy openbaring genoem). Die geloof, die kerk, die teologie vind sekerheid nie binne die menslike oordeelsvermoë nie, maar op grond van die verkondiging van die evangelie, binne die oortuigingswerk van die Heilige Gees. In teenstelling tot die filosofie wat waarheidsaansprake op grond van bewysvoering doen, berus die waarheidsaanspraak van die kerk alleenlik op God se openbaring, wat ons in die Skrif vind. Waar die filosofie gekenmerk word deur voortdurende twyfel, is die kenmerk van geloof nie (voortdurende) twyfel nie, maar vertroue in die verkondigde evangelie, wat nêrens anders gevind word nie as in die boodskap van die profete en die apostels. Die evangelie wat verkondig word berus op die geskiedenis van Jesus van Nasaret, maar historiese bewysvoering is nie die hoofbelangstelling van die teologie nie. Geloof, vertroue, gebed[17] en oopstelling vir die werk van die Heilige Gees is waaroor dit in die kerk gaan (vgl. [1559] 2018:11-17).

  1. Praktiese raad oor die lees en bestudering van die Bybel

Melanchthon het by verskillende geleenthede raad aan studente (en lidmate) gegee oor hoe die Bybel gelees en bestudeer moet word, sodat hulle in staat sou wees om in Protestantse teologie te studeer en dit ook te begryp. In 1530 het hy (2012a) ʼn aantal kort riglyne vir teologiestudente opgestel oor hoe hulle tydens hulle studiejare met die Bybel behoort om te gaan. Die belangrikste is dat hulle (soos elke lidmaat) die tekste van die Bybel sal leer ken. Hy beveel aan dat hulle in die oggend nadat hulle opgestaan het, en saans voordat hulle gaan slaap, ʼn hoofstuk uit die Bybel moet lees. Die leser moet al lesende, aantekeninge maak oor die hooftemas wat in elke hoofstuk voorkom. As hulp, kan die Loci communes gebruik word sodat daar besef word dat die hooftemas handel oor die samehang en onderskeiding van wet en evangelie, regverdiging, geloof en genade in Christus asook bekering. Melanchthon beveel aan dat daar met die Romeinebrief begin sal word, en om dít op die volg met Galasiërs (met behulp van Luther se kommentaar). Hierna kan Kolossense aan die beurt kom. Dan volg Matteus en Lukas met die aandag toegespits op die Christelike lewe (die liefde), die gebed en die verhouding tot die samelewing en die staat. Die Evangelie volgens Johannes kan volgende aan die beurt kom. Hiermee saam moet die geloofsbelydenisse en ʼn kort kategismus gelees word, sodat kennis en begrip ontwikkel kan word oor die geloofsraamwerk van die kerk. Die Ou Testament moet ook aandag kry. Hy beveel aan dat die student met Genesis (aan die hand van Luther se kommentaar) moet begin en dit moet opvolg met die Psalms. Aangesien die voorskrifte vir die moraal ook aandag moet geniet, kan Spreuke die volgende boek wees wat gelees word. Intussen moet daar genoeg tyd vir gebed gemaak word. Met die lees van die Psalms moet onderskei word tussen gebede, gebooie en beloftes. Ná die Psalms moet die profete aandag kry. Daar moet veral gelet word op die beloftes van die komende Messias. By die verhalende literatuur moet daar gelet word op die onderskeid tussen morele voorskrifte en die evangelie (ja, daar is ook evangelie, minstens genade en vergewing, in die verhale van die Ou Testament te vinde). Die ywerige student kan ook af en toe iets van Augustinus lees; en selfs stukkies uit kerkordes maak goeie leesstof. Laastens behoort studente ook op die hoogte van die politiek te wees. Die staat is ook ʼn weldaad van God, en daar moet binne die maatskappy ook tot eer van God gelewe word. Goeie literatuur en filosofiese tekste moet deur die dag en oor naweke gelees word sodat mense se taal- en argumentasievermoë ontwikkel kan word.

  1. Die Bybel as die boek van die kerk

In 1549 skryf Melanchthon (2012b) ʼn insiggewende voorwoord in ʼn boek van een van sy oudstudente. In hierdie voorwoord spel hy uit hoe die kerk met die Bybel moet omgaan. Hy meen dat daar in die kerk nie op enkele duister gedeeltes gekonsentreer moet word nie. Daar moet eerder gekonsentreer word op dít wat duidelik is en waaroor elkeen eenstemmig behoort te wees, en dít is die volgende: In die Bybel lees ons van wet en belofte. Die gedeeltes oor die wet leer ons van God wat toornig raak oor ongehoorsaamheid terwyl die gedeeltes oor die beloftes ons leer van God wat barmhartig is en sondes vergewe. Binne hierdie konteks lees ons van Christus en die ewige lewe; kortweg die evangelie. Verder is dit duidelik dat God se wil is, dat hierdie evangelie verkondig sal word, en daarom is die amp van verkondiger van die evangelie aan die kerk gegee. Hierdie ampsdraer staan in diens van Hom wat die Heer van die kerk is. Die ampsdraers verkondig geen nuwighede nie, en leer die lidmate wat God ons in sy Woord meegedeel het. Hy ([1549] 2012b) sê:

Ja, die kerk is soos ʼn grammatika van die Woord van God. Dit dink niks nuuts uit nie, maar leer die volgende generasie hoe dinge ineenpas en wys op die uniekheid van die taalgebruik [in die kerk]. Die feit dat daar groot geskille is en was, het méér met die eiesinnigheid van die menslike verstand te make as met die meerduidigheid van die Woord van God. (p. 180; [vertaling deur die outeur])

Twis in die kerk, volgens Melanchthon, kan vermy word wanneer daar by die evangelie van Jesus Christus gebly word en allerlei nuwighede nie as Woord van God aangebied word nie. Melanchthon hamer daarop dat die verkondigers van die evangelie by die Bybelse taalgebruik moet bly. Die Bybelse begrippe moet nie vir sekulêre begrippe verruil word nie, aangesien die weiering om die Bybelse begrippe ter sprake te bring, die begin van kerklike verwarring en onrus is.

  1. Kernagtige samevatting van Melanchthon se verstaan van die Skrif
  • Melanchthon se slagspreuk sola scriptura het oorspronklik die volgende beteken: Geen hermeneutiese raamwerk (selfs nie eens dié van die kerkvaders nie), kan aanhoudende, kritiese eksegetiese arbeid kniehalter nie. Geen interpretasietradisie staan kritiekloos teenoor ʼn herhalende terugkeer na die Skrif self nie.
  • Bybelboeke moet bestudeer word met die oogmerk om die kerntema van die boek te ontrafel, sodat hierdie kerntema kan meehelp om die evangelie (die sentrale boodskap van die Skrif) te verstaan.
  • Die sentrale tema van die Skrif word saamgevat in die ‘regverdigingsleer’.
  • Met die bestudering van die Skrif moet onderskei word tussen wet en belofte. Vir die Christen is die beloftes aangaande Jesus Christus die hart van die evangelie, en daarom van die Skrif.
  • Die boodskap van die Skrif mag nie tot die enkele moraalskrifte wat daarin voorkom, verskraal word nie. Moraliteit sonder die beloftes van Christus, het weinig met die Skrif te make.
  • Evangeliese teologie óf dan Protestantse teologie was van die begin af ekumeniese teologie wat beteken dat dit in terme van leer ooreengestem het met die belydenisse van die Vroeë Kerk.
  • Die Bybelse gehalte van alle teologiese uitsprake en kerklike leer moet aanhoudend getoets word. Daar mag nie toegelaat word dat die Skrif misbruik word vir doeleindes wat nie uit die Skrif self na vore kom nie.
  • Bybelboeke moet in hulle geheel bestudeer word sodat die sentrale temas geïdentifiseer kan word.
  • Die sentrale boodskap van die Romeinebrief het met die vergewing van sondes op grond van God se barmhartigheid te make. Wie nie kan onderskei tussen persoon en werke nie, verhef die goeie werke foutiewelik tot die hart van die Bybelse boodskap.
  • Bybelse teologie beteken dat eksegese en dogmatiek mekaar wedersyds deurdring. Sonder hierdie deurdringing en beïnvloeding verval die teologie maklik in moralisme, biblisisme en fundamentalisme.
  • Die dualisme van ‘gister’ en ‘vandag’ moet verwerp word. Wanner ‘gister se tekste’ niks met ‘vandag se vraagstellings’ te make het nie, het die kerk nie meer ʼn reg op bestaan nie.
  • Die Bybelleser se oogmerk moet wees om die hoofargumente van die Bybel te leer ken en te verstaan.
  • Wet en evangelie moet duidelik onderskei word, maar nie geskei word nie. In sowel die Ou as die Nuwe Testament kan wet en evangelie waargeneem word.
  • Wat Ou en Nuwe Testament aanmekaar bind is die beloftes van God oor vergewing en nuwe lewe. Albei testamente is deurdring van hierdie beloftes en dáárom is ook die Ou Testament die Woord van God vir die kerk.
  • Wie wil weet waaroor die Bybel handel, moet die profete, Evangelies, apostels en die belydenisse lees en bestudeer.
  • Die Skrif is die enigste bron van kennis en sekerheid oor God. Die Woord van God is nie afhanklik van wetenskaplike bewysvoering nie, maar slegs van biddende bestudering, verkondiging en die werking van die Heilige Gees.
  • Die heilige Skrif moet in sy geheel gelees en bestudeer word.
  • Die afsonderlike Bybelboeke moet in hulle geheel bestudeer word.
  • Verkondigers van die evangelie moet hulle aan die begrippe van die Bybel hou. Wie dít nie doen nie, neem mettertyd afskeid van die inhoud van die evangelie.
  1. Kritiese opmerkings oor die hedendaagse diskoers vanuit ʼn Melanchthon-perspektief
  • Geen vooraf opgestelde hermeneutiese bedding kan die eksegeet dwing om onderdanigheid te toon aan die sosiaal-politieke kunsmis wat die bedding in stand wil hou nie. Die bewering dat eksegese onderworpe moet wees aan die sosiaal-politieke ideale van ʼn segment uit die Mediterreense antieke, is dus nie Reformatories nie. Die Skrif kan nie uitgelewer word aan ʼn hedendaagse sosiaal-politieke ideaal (wat hier en daar raakpunte het met die moraal binne ʼn bepaalde geografiese gebied, ongeveer 2 000 jaar gelede) wat die eksegeet dwing om die Bybel te verstaan en uit te lê in dienstigheid aan hierdie ideaal nie. Die Skrif het sy eie boodskap, en hierdie boodskap moet eksegeties uitgegrawe word.
  • Dit is duidelik dat die sentrale tema van die Bybel soos dit saamgevat word in die boodskap van die regverdiging deur die geloof en die genade nie meer die hoofbelangstelling van die Kerk is nie. Ons kerklike media gee te kenne dat dit vandag gaan oor die oproepe om ‘ʼn verskil te maak’ en om ‘terug te gee aan die gemeenskap’ (so asof ons almal diewe is wat by ander gevat het). Dit gaan dus om ʼn etiese oproep om goed te doen. Ons is dus terug in die Middeleeue waar die Christelike boodskap gereduseer is tot die doen van goeie werke wat lof kan uitlok. Hierdie vermoralisering van die kerklike boodskap gaan die Kerk nie staande hou óf laat groei nie, maar dit eerder vinniger laat wegkrimp. ʼn Kerk wat niks meer te sê het nie (veral ten opsigte van leer nie), maar slegs ʼn paar dade (in terme van gemeenskapsprojekte) wil tentoonstel, het met Reformatoriese teologie niks meer te make nie. Maar, duidelik pla dit nie baie predikante en lidmate nie.
  • Hedendaagse eksegese en hermeneutiek het dikwels weinig te make met die sentrale boodskap van die Nuwe Testament; ook die evangelie genoem. Die groter belangstelling is om die liberale sekulêre Westerse moraal te legitimeer. Sonde, wet en genade wek min belangstelling, terwyl die regverdiging deur die geloof ʼn totaal vergete tema is. Die diepste rede het met die moralisering van godsdiens te make. Die oordrewe konsentrasie op moraliteit kan teruggevoer word na die vermyding van die tema ‘God’ – minstens in sy Bybelse gestaltes. ʼn Ander rede is dat mense vandag weer dink dat dit wat hulle handelend na vore kan bring, hulle statuur as mense bepaal. Die feit dat Christene nie hierdie stryd oor menslike erkenning hoef te stry nie, word nie verstaan nie. Melanchthon se kritiek op die Middeleeuse skolastiek dat die Bybel nie ʼn handboek is vir die staatsleer en maatskaplike gestaltegewing nie, moet vandag herhaal word, aangesien ons in terme van Skrifverstaan terug is by die grondoortuiging van die Roomse Middeleeue.
  • Die fragmentering van teologie aan die universiteite en in studeerkamers het bygedra tot ons permanente worsteling met biblisisme en fundamentalisme in hierdie land. Totdat eksegete weer sistematies wil dink en denkers oor die geloof weer met die Bybelse tekste stoei, sal die bose kringloop van verdagmakery, bespotting en selfregverdiging voortduur.
  • Een van die redes hoekom predikante sukkel in gemeentes is dat hulle nie die hoofargumente van die Bybel ken en kan verduidelik nie. Die verskraalde kennis van en vermoë om die sentrale temas van die Bybel te verduidelik, is die krisis van die kerk – en nie die emosionele swaarkry nie.
  • Een van die groot teleurstellings met die teologie is die argument dat die Ou Testament weinig tot niks met die evangelie van Jesus Christus te make het. Indien albei Testamente nie as skriftelike bodem van die evangelie hanteer word nie, verwoes ons die fondamente van die Christelike geloof.
  • Wie teologie tot diens van die kerk wil beoefen behoort groot klem te plaas op die beloftes van die profete oor die koms van die Messias, en die lewe en werk van Jesus Christus soos dit in die Evangelies beskryf en in die belydenisse saamgevat word. Belydenisvyandige teologie het min waarde vir ʼn kerk wat die evangelie wil verkondig.
  • God se selfopenbaring, wat in die Skrif opgeteken is, kan nie met wetenskaplike metodes as waar bewys word nie. God is nie ʼn objek vir wetenskaplike ondersoek nie. In die godsdiens gaan dit om geloof, gebed, verkondiging en vertroue op die Heilige Gees. Wie hierop neerkyk, sal nie in die kerk gemaklik voel nie.
  • Die modeneiging om vir weke en maande op ʼn enkele Skrifgedeelte te konsentreer is baie vreemd. Kennis, meditasie en begrip van die hele Bybel is tog nodig – of is dit die ellende van ons huidige kultuurwêreld waar klein brokkies fragmentariese kennis voldoende blyk wees vir ʼn werk en ʼn salaris?
  • Wanneer die kerk nie meer met Bybelse begrippe wil werk nie, sal daar ʼn sterk vermoede ontstaan dat die kerk self niks meer te sê het nie, maar net herhaal wat die wêreld te sê het. Ek meen dit is die geval met die verdwyning van die woord ‘naasteliefde’ wat vervang is met die uitdrukkings ‘gee terug aan die gemeenskap’ en maak ʼn ‘verskil’. Christelike naasteliefde is nie pogings om mense goed of beter te laat voel oor hulself nie. Christene help ter wille van hulpverlening, en verwag geen beloning nie (wat ook dinge soos emosionele welbehaaglikheid insluit). Nuwe navorsing oor die begrip ‘naasteliefde’ is nodig om die kerk uit hierdie moeras van oppervlakkige napratery te bevry.

Literatuurverwysings

Dingel, I. (Hrsg.), 2014a, ‘Die Confessio Augustana, bearbeiteit von G. Seebaß und V. Leppin’, in Die Bekenntnisschriften der Evangelisch-Lutherischen Kirche, Vollständige     Neuedition, herausgegeben im Auftrag der Evangelischen Kirche in Deutschland, pp. 63-225, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Dingel, I. (Hrsg.), 2014b, ‘Die Apologie der Confessio Augustana, bearbeiteit von C. Peters, R. Kuhnert und B. Basse’, in Die Bekenntnisschriften der Evangelisch-Lutherischen Kirche, Vollständige Neuedition, herausgegeben im Auftrag der Evangelischen Kirche in Deutschland, pp. 227-709, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Dingel, I., 2019, ‘Die Leipziger Disputation 1519 in ihrem historischen Kontext: Verfahren –  Realisierung – Wirkung’, in M. Hein & A. Kohnle, Die Leipziger Disputation von 1519: Ein theologisches Streitgespräch und seine Bedeutung für die frühe Reformation, pp. 9-24, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Jung, M., 2010, Philipp Melanchthon und seine Zeit, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Junghans, H., 2019, ‘Martin Luther und die Leipziger Disputation’, in M. Hein & A. Kohnle, Die Leipziger Disputation von 1519: Ein theologisches Streitgespräch und seine Bedeutung für die frühe Reformation, pp. 125-133, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Kohnle, A., 2019, ‘Die Leipziger Disputation und ihre Bedeutung für die frühe Reformation’, in M. Hein & A. Kohnle, Die Leipziger Disputation von 1519: Ein theologisches Streitgespräch und seine Bedeutung für die frühe Reformation, pp. 25-46, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Kolb, R., 2018, ‘Melanchthon – ein >Lutheraner<?: Zu Vielvalt und Einheit der Wittenberger Theologie’, in Melanchthon: Der Reformator zwischen Eigenständigkeit und Erkenntnisgemeinschaft, R. Rausch & T. Jammrthal (Hrsg.), pp. 19-32, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Kuropka, N., 2010, Melanchthon, Mohr Siebeck, Tübingen.

Kuropka, N., 2018, ‘Melanchthon, der Lutheraner – Melanchthon, der Schriftausleger’, in Melanchthon: Der Reformator zwischen Eigenständigkeit und Erkenntnisgemeinschaft, R. Rausch & T. Jammrthal (Hrsg.), pp. 19-32, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Leppin, V., 2019, ‘Papst, Konzil und Kirchenväter: Die Autoritätsfrage in der Leipziger   Disputation’, in M. Hein & A. Kohnle, Die Leipziger Disputation von 1519: Ein theologisches Streitgespräch und seine Bedeutung für die frühe Reformation, pp. 187- 196, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Melanchthon, P., [1521] 1997, Loci Communes. Lateinisch – Deutsch,  H.G. Pöhlmann (übers.), das Lutherische Kirchenamt der VELKD (Hrsg.), 2. Aufl.,  Gütersloher Verlagshaus, Gütersloh.

Melanchthon, P., [1529] 2000, ‘Widmung des Römerbriefkommentars’, in Briefwechsel. Kritische und kommentierte Gesamtausgabe. Regesten, H. Scheible (Hrsg.), Bd. 3, Nr. 767, p. 471, Heidelberger Akademie der Wissenschaften, Heidelberg.

Melanchthon, P., [1553] 2010, Heubtartikel Christlicher Lere, Melanchthons deutsche Fassung seiner Loci Theologici, nach dem Autograph und dem Originaldruck von 1553, R. Jenett und J. Schilling (Hrsg.), 2. aktualisierte und ergänzte Ausg., Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Melanchthon, P., [1519] 2011a, ‘Baccalaureatsthesen’, in Melanchthon deutsch. 2. Bd, Theologie und Kirchenpolitik, 2. korrigierte Aufl., M. Beyer, S. Rhein und G. Wartenberg (Hrsg.), pp. 17-19, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Melanchthon, P., [1518] 2011b, ‘Wittenberger Antrittsrede – De corrigendis adolescentiae studiis’, in Melanchthon deutsch. 1. Bd., Schule, und Universität, Philosophie, Geschichte und Politik, M. Beyer, S. Rhein und G. Wartenberg (Hrsg.), pp. 45-67, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Melanchthon, P., [1530] 2012a, ‘Kurzer Leitfaden zum Erlernen der Theologie – Discendae theologiae ratio’, in Melanchthon deutsch. 4. Bd., Melanchthon, die Universität und ihre Fakultäten, M. Beyer, A. Kohmle und V. Leppin (Hrsg.), pp. 148-154, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Melanchthon, P., [1549] 2012b, ‘Vorrede zur Schrift des Matthias Flacius Illyricus „De voce et re fidei“ („Vom Wort und der Sache des Glaubens“)’, in Melanchthon deutsch. 4. Bd., Melanchthon, die Universität und ihre Fakultäten, M. Beyer, A. Kohmle und V. Leppin Hrsg.), pp. 175-184, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Melanchthon, P., [1559] 2018, Loci praecipui theologici nunc denuo cura et diligentia summa recogniti multisque in locis copiose illustrati 1559, Lateinisch – Deutsch, 1. Bd., P. Litwan, S. Grosse und F. Becher-Häusermann (Hrsg.), Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Scheible, H., 2016, Melanchthon: Vermittler der Reformation; Eine Biographie, C.H. Beck, München.

Van Wyk, I.W.C., 2018, ‘Luther and Calvin on predestination: A comparison’, In die Skriflig 52(2), a2342, http://doi.org/10.4102/ids.v52i2.2342.

Wengert, T., 2018, ‘“Mehr Licht“ – Die letzte Exegese Melanchthons’, in Melanchthon: Der Reformator zwischen Eigenständigkeit und Erkenntnisgemeinschaft, R. Rausch & T. Jammrthal (Hrsg.), pp. 33-63, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Eindnotas

[1] Ek praat doelbewus nie van ʼn ‘Protestantse teoloog’ en ʼn ‘Protestantse Kerk’ nie. Die eerste reformatore het hulself as ‘evangeliese teoloë’ beskou, ’wat lidmate van die ‘Evangeliese Kerk’ was, aangesien hulle geglo het dat hulle die evangelie herontdek het, en dat kerkwees net oor die evangelie kan gaan. Die woord ‘Protestant’ is ʼn produk van die latere kerkpolitieke stryd. Kortliks: In 1526 het die Ryksdag van Speyer besluit dat elke ryksgebied, op grond van die vryheid van gewete, self kan besluit of hulle Rooms wou bly of die Reformasie wou volg. In Maart 1529 roep die broer van keiser Karel V, aartshertog Ferdinand van Oostenryk en toekomstige opvolger van sy broer, weer ʼn ryksdag in Speyer byeen met die bedoeling om die reëling van 1526 ongeldig te maak. Hy oortuig die aanwesiges om die beginsel van die ‘meerderheidstem’ te aanvaar en om die gedagte van ‘gewetensvryheid’ te verwerp. Vier keer protesteer die afgevaardigdes van die evangeliese gebiede teen die verwerping van die gedagte dat ‘gewetensvryheid’ ʼn gepaste meganisme is waardeur kerkpolitieke dispute besleg kan word. Hulle Protestatio teen die beginsel dat die meerderheidstem deurslaggewend is in sake rakende die waarheid van die evangelie, het hulle die bynaam ‘Protestante’ gegee (vgl. Jung 2010:44-45).     

[2] Dit is belangrik om te weet dat die ouer Melanchthon ook ʼn hegte band met Calvyn gehad het (Melanchthon is ʼn eerstegenerasie- en Calvyn ʼn tweedegenerasie kerkhervormer). Calvyn het hom in 1532 met sy ‘bekering’ tot die Reformasie deur Melanchthon laat beïnvloed, terwyl Melanchthon in 1536 van Calvyn se eerste uitgawe van sy Institusie kennis geneem het. Melanchthon se Loci (1521) het as riglyn vir Calvyn se Institusie gedien. Albei publikasies was ‘dogmatiekhandboeke’ wat Christene ook met die geloofslewe wou bystaan. In Maart 1539 het Calvyn vir Melanchthon die eerste keer in Frankfurt ontmoet. In 1540/41 het Calvyn saam met Melanchthon aan die godsdiensgesprekke in Worms en Regensburg deelgeneem. Dáár het Calvyn ook die verbeterde uitgawe van Melanchthon se Augsburgse Geloofsbelydenis (Confessio Augustana Variata), as gesaghebbende belydenisskrif, onderteken. In hierdie tyd, en later weer in 1543, het Melanchthon Calvyn gewaarsku om eerder op die verkondiging van die sentrale evangeliese ‘leerstellings’ te konsentreer as om eindeloos oor die vraagstuk van die uitverkiesing of predestinasie te publiseer. Na hierdie raad het Calvyn geluister. Dit is nie waar nie dat die predestinasie die hart van Calvyn se leer uitgemaak het (kyk na Van Wyk 2018). Melanchthon en Calvyn het ʼn uitgebreide briefwisseling gehad. Twee temas is van belang: Die nagmaal en die triniteitsleer. In die Servet-sage het Calvyn op Melanchthon se advies gesteun (vgl. Jung 2010:67-70).   

[3] Volgens Luther was Melanchthon ʼn uitstaande leermeester van die heilige Skrif. Hy wou hom graag as kollega gehad het in die teologiese fakulteit, ten spyte van die feit dat Melanchthon (later) slegs oor ʼn baccalaureus in die teologie beskik het. Hy wou nooit verdere grade in die teologie verwerf nie, aangesien hy dit in elk geval nie nodig gehad het nie. Hy is ook nooit as predikant georden nie, ten spyte van die feit dat hy aan die Evangeliese Kerk gestalte gegee het. Hy was tevrede om professor in Grieks te bly. In September 1525 het keurvors Johann (reg. 1525 – 32) egter aan hom  ʼn groot salarisverhoging gegee met die bedoeling dat hy sal voortgaan, om naas sy ander werk, ook teologie te doseer. Dít het hy dan ook tot die einde van sy lewe gedoen. Naas sy ‘dogmatiekhandboeke’ het hy ook talle kommentare op Bybelboeke geskryf. Melanchthon se eksegetiese voorlesings was baie gewild. Volgens Luther het 500 studente sy vroeë voorlesings oor Romeine bygewoon. In 1556 skryf Johannes a Lasco aan Calvyn dat nagenoeg 1 500 studente sy voorlesings oor die Bybelboeke bywoon. Hy was dus by uitstek die leermeester van die Reformasie. By hom het ons geleer dat ware godsdiens neerkom op die bestudering van die Bybel (vgl. Kuropka 2010:39-54).  

[4] Die twee het hier en daar verskillende bewoordings gebruik vir dieselfde gedagtegange. Oor enkele sake was daar klemverskille. In die navorsing word gewoonlik verwys na die ‘verskille’ oor die nagmaal, die leer oor die vrye wil, die leer oor die derde gebruik van die wet en die regverdigingsleer. Selfs by hierdie temas, waar daar ligweg ʼn verskil van mening was, was hulle nie opponente nie (vgl. Kolb 2018 vir ʼn samevatting van die resente navorsing oor die klemverskille).

[5] In die Middeleeue en Vroeë Moderne was disputasies die belangrikste manier van akademiese gespreksvoering, kennisversameling en die presisering van waarheidsoortuigings. In die teologie is die reëls van die logikadosent, Petrus Hispanus (1240), gevolg by disputasies. ʼn Respondent (ook ʼn proponent genoem) het ʼn aantal stellings van ʼn dosent of ʼn kerklike verteenwoordiger krities bespreek en selfs bevraagteken. Binne die universiteit was daar drie tipes disputasies naamlik, ʼn gewone disputasie wat ʼn professor minstens een keer per jaar voor die universiteitsgemeenskap en die algemene publiek moes waarneem (publice, solenniter et ordinarie), ʼn sirkel-disputasie (wat een keer per week binne ʼn geslote groep studente moes plaasvind) en ʼn eksamen-disputasie (disputationes examinatoriae – waartydens doktorale studente hulle ‘proefskrifte’ moes verdedig. Die Disputasie van Leipzig (1519) was ʼn geleentheid wat oop was vir die universiteitsgemeenskap, kerklike verteenwoordigers en die publiek. Dít het daarom nie in ʼn universiteitsgebou plaasgevind nie, maar in die kasteel van die hertog. Die wêreldlike owerheid het dus die disputasie aangebied, alhoewel die ‘regterlike oordeel’ (op aandrang van Luther) deur die teologiese fakulteite van Erfurt en Parys uitgespreek sou word (vgl. Dingel 2019).  

[6] Ná die protes deur die 19 evangeliese stede en gebiede tydens die Ryksdag van Speyer in 1529 (kyk eindnoot 1), het keiser Karel V in 1530 ʼn ryksdag, onder sy eie voorsitterskap, in Augsburg byeengeroep, in ʼn poging om die Protestante te oorreed om na die Roomse Kerk terug te keer. Die Protestante se hoop was gevestig op die versoek dat hulle ʼn gemeenskaplike geloofsbelydenis aan die keiser kon voorlê wat deur hom en sy raadgewers krities beoordeel sou word. Die voorwaarde was dat hierdie belydenisskrif in Augsburg geskryf moes word. Aangesien Luther nie Sakse kon verlaat nie en in Coburg, die naaste skuilplek aan Augsburg, moes bly, het Melanchthon die verantwoordelikheid gekry vir die skryf van die belydenisskrif. Hy het tussen 2 Mei en 23 September 1530 in Augsburg gewoon en gewerk aan die opdrag. Hy is wel deur ander evangeliese teoloë, en Luther (per brief), raad en advies gegee, maar hy was die primêre outeur. Die hoofdoel was om aan te dui dat die Evangeliese Kerk in ooreenstemming is met die één, algemene Christelike kerk en sy belydenisse, en dat die Roomse Kerk op sentrale punte dwaal. Die Confessio Augustana (CA), is tweetalig, in Duits en Latyn opgestel. Op 25 Junie 1530 is die Duitse weergawe deur Christian Beyer (die Saksiese kanselier) vir die keiser (wat nie Duits magtig was nie) voorgelees. Die Roomse teoloë reageer deur middel van ʼn ‘Weerlegging’ (‘Confutatio’). Melanchthon reageer op sy beurt met ʼn Latynse ‘Apologie’ (‘Apologia’) wat op 22 September aan die keiser oorhandig is. Die keiser dring egter daarop aan dat die Confutatio aanvaar moet word. In die agtergrond het Melanchthon en Johannes Eck probeer om tot ʼn kompromis te kom, wat ongelukkig nie geslaag het nie [Die konflik tussen Johannes Eck en Philipp Melanchthon is ʼn saak waaraan weer aandag gegee moet word, aangesien dit duidelik is dat talle van ons eie predikante vandag nader aan Eck as aan Melanchthon staan. Eck kon nie die uitgangspunt van ‘die geloof alleen’ (‘sola fide) aanvaar nie. In ʼn poging om wel konsensus te bereik, stel Melanchthon voor dat daar gestel moet word dat ‘regverdiging ontvang word op grond van genade en geloof’. Dit het egter gou geblyk dat beide van hulle verskillende dinge onder ‘genade’ verstaan. Volgens Eck verleen die genade aan die mens ʼn nuwe kwaliteit (habitus) sodat hy werke van liefde kan oplewer, wat uiteindelik regverdiging voor God verseker. Vir Melanchthon, daarenteen, is genade die werk van die Heilige Gees wat die regverdigende geloof verseker. Uit dankbaarheid vir die regverdigverklaring pleeg die gelowige dan liefdesdiens, wat nie die basis van redding kan wees nie, aangesien dit steeds onvolmaakte werke is (vgl. Jung 2010:47)]. Op 19 November sluit die samekoms af deur te verklaar dat die CA verwerp is. Later sou hierdie twee geskrifte van Melanchthon die basis vorm van die Augsburgse Godsdiensvrede (1555) en opgeneem word in die amptelike korpus van Lutherse belydenisskrifte, te wete die ‘Konkordieboek’ / ‘Boek van ooreenstemming’ (‘Konkordienbuch’1580 – vgl. Dingel 2014).

[7] Die hernude belangstelling in Melanchthon-navorsing het onder andere te make met die herontdekking van sy belangrike werk as eksegeet en skrywer van kommentare (kyk na Kuropka 2018).

[8] Melanchthon het in sy intreerede aangekondig dat hy sy werksaamhede gaan begin met lesings oor Homerus en die Titusbrief. Aangesien daar in Wittenberg nie Griekse tekste beskikbaar was nie, moes die studente aanvanklik die Griekse teks afskryf. Melanchthon het egter spoedig ʼn drukker en uitgewer in Leipzig, Melchior Lotter, oortuig om ook  ʼn drukkery en boekwinkel in Wittenberg te open. Lotter kon wel Griekse tekste druk en verkoop. Wittenberg het gesukkel om dosente in Hebreeus te behou. Albei eerste dosente, te wete Böschenstein en Matthäus Adrianus, het gou ná hulle aankoms in Wittenberg die dorp weer verlaat. Melanchthon was verplig om intussen ook Hebreeus te doseer. Dít het hy gedoen aan die hand van die Psalms. In 1521 is hierdie pos in Hebreeus deur Matthäus Aurogallus (1490 – 1543) beset. Melanchthon het egter sy hele lewe volgehou met studies in Hebreeus, en hy kon selfs enkele Ou Testamentiese kommentare skryf – die belangrikste oor die boek Spreuke in 1524/ 29/ 55 (vgl. Kuropka 2010:37-49).

[9] Ek volg die afdrukke van die teks soos dit beskikbaar is in Kuropka (2018). Kuropka werk vanuit die 1532-weergawe wat wel in 1965 in ʼn klein oplaag gedruk is, maar nie meer in die handel of in ʼn Suid-Afrikaanse biblioteek beskikbaar is nie.

[10] Melanchthon het vier kommentare oor die Kolossensebrief geskryf, naamlik in die jare 1527, 1528, 1534 en 1559. Elke uitgawe het nuwe stof bevat. Dit was dus nie bloot verbeterde uitgawes van die eerste een nie. 

[11] Melanchthon het vóór die publikasie van sy Loci drie ander boeke oor Romeine gepubliseer te wete, Theologica Institutio; Rerum Theologicorum capita seu loci en ʼn Artifitium epistolae Pauli ad Romanos (vgl. voorwoord van G. Müller in Melanchthon [1521] 1997:8).  

[12] Loci communes beteken letterlik ‘algemene plekke’. Die uitdrukking het egter mettertyd die betekenis van hoofpunte, óf hoofbegrippe, óf grondstellings, óf grondwaarhede gekry. Eeue ná Melanchthon is hierdie woorde gebruik vir die titels van dogmatiekhandboeke. Die woord hypotyposis is uit die Grieks oorgeneem en beteken voorbeeld, óf model, óf templaat (verduideliking van die vertaler H. Pöhlmann in Melanchthon [1521] 1997:12).  

[13] Sekere navorsers weier om na hierdie publikasie as ʼn ‘dogmatiek’ of ʼn ‘sistematiese teologie’ te verwys, aangesien dit nader aan iets soos ʼn ‘Nuwe Testament teologie’ staan. Daar is meriete in albei standpunte.

[14] Dit gaan veral oor die monumentale werk van Petrus Lombardus (1095 – 1160) genaamd, Sentenzen 1-IV, ʼn versameling van uitsprake deur die kerkvaders oor die Godsleer, skeppingsleer, Christologie, deugdeleer, sakramente en eskatologie. Daar is in die Middeleeue geglo dat hierdie versameling van uitsprake genoegsame dogmatiese inligting verskaf en dat niks nuuts bygevoeg kan word nie.

[15] Georg Spalatin (1484 – 1545) was die sekretaris van die keurvors van Sakse, Frederik die Wyse. Ná sy dood word hy predikant van Altenburg. Justus Jonas (1493 – 1555) was die professor in kerkreg in Wittenberg. Hy het talle van Luther en Melanchthon se werke in Duits vertaal. Hy word later predikant in Halle, die setel van die biskop van Mainz, wat die aflaathandel verdedig het.

[16] Elke nuwe Latynse uitgawe, is spoedig deur ʼn Duitse vertaling daarvan opgevolg. Die studente, sy kollegas en die lidmate kon op hierdie wyse op die hoogte bly van sy vordering. Duitse vertalings van nuwe Latynse weergawes het verskyn in 1542, 1544, 1549, 1550, 1553, 1554, 1555, 1556, 1558 en 1559. Verdere Duitse vertalings is ook ná sy dood in 1561, 1569, 1571 en 1579 gepubliseer (vgl. (1553] 2010:53-67). Dit is moeilik om raak te skat, maar Melanchthon moes ʼn paar miljoen eksemplare van sy boeke verkoop het. Onthou, die Loci is ook in byna alle ander Europese tale vertaal en elke vertaling het talle drukke ondergaan!

[17] Die lees van die Bybel moet volgens Melanchthon biddend gedoen word. Biddend, aangesien die Bybel ʼn bestaans-relevante boek is. Dit bied hulp tot die verstaan van God, jouself en die wêreld. Aangesien hierdie literatuur oor sake van lewe en dood handel, moet dit nie alleen noukeurig gelees word nie, maar ook ernstig oordink en biddend hanteer word. Sonder gebed is die Skrif niks nie, het Melanchthon geargumenteer. Daar moet gebid word dat daar helderheid in jou gemoed sal kom oor die sentrale temas van die Skrif (Jung 2010:24).

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap