Pioniersopleiding help lidmate en gemeentes om ’n sterker na buite gerigte benadering tot kerkwees te volg. Die Sentrum vir Gemeentelike Bediening (SGB) bied ’n soortgelyke pionierskursus aan as die een van die Hugenote Kollege waaroor diak Roy McEwan in hierdie uitgawe skryf.

Die beginsels waarna diak McEwan verwys, is prakties en doenbaar. Die gemeente van Jesus Christus moet insluitend dink en werk met verskeie bedieninge wat die onmiddellike omgewing waarbinne hulle hulself bevind, doelbewus insluit. Navorsing toon steeds dat ongeveer 90% van die plaaslike gemeente se energie en ywer op instandhouding ingestel is. 

Roy meld dat gemeentes die gemeenskap tot seën kan wees! Maar hoe kan gemeentes van die NHKA op elke plek bly hoop gee? Hy antwoord: Die span beplan hoe hulle daardie gemeenskap kan dien, deur middel van onder meer voedingsprojekte, verspreiding van klere en komberse, met sopkombuise, span- en sportaktiwiteite, moeder-en-kind-groepe, gemeenskapsprojekte, speelgroepe, en vroue- en mannegroepe. Idees vir hoe ons die gemeenskap kan seën is volop

  • Stuur foto’s…
  • Doen verslag daaroor…
  • Getuig van hoe die Here se vrede in en deur jul gemeente hoop gee…

Laat, Heer, u vrede deur my vloei…
waar haat is, laat ek daar u liefde bring.
Laat ek in pyn en smart vertroostend wees
en krag gee deur geloof in U, o Heer.
Laat, Heer, u vrede deur my vloei…
en laat ek hoop gee waar daar twyfel is.
Ek wil u lig in duisternis laat skyn.
Laat ware vreugde altyd uit my straal.
(Gesang 284)

Enige lidmaat en/of predikant wat in hierdie unieke opleiding belangstel, hetsy die aanbieding deur die Hugenote Kollege of die SGB se weergawe, kan my kontak by frikkie@nhk.co.za. Albei kursusse is primêr gerig op die ontwikkeling van vaardighede wat iemand verder toerus om ’n nuwe geloofsgemeenskap op ’n bepaalde plek te plant.

(Dr Frikkie Labuschagne is direkteur van die SGB)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap