Die Sentrum vir Gemeentelike Bediening (SGB) het op grond van die besluite van die Algemene Kerk-vergadering en met toestemming van die Kommissie van die AKV ’n gekoördineerde aksie in die Hervormde Kerk geloods, wat ten doel het om gemeentes te begelei in hul dienswerk. Gemeentes word begelei om iets te ontdek van die volgende:
- God se sending en handelinge met die wêreld.
- Kerkwees in ’n veranderende wêreld.
- Missionale aard van die gemeente.
- Dissipelskap.
- Verdiepte spiritualiteit.
- Onderskeiding en luister na die gemeenskap.
Die ses temas is aan die hand van die 40-dae-beginsel uitgewerk, wat ten doel het om inhoude deur middel van herhaling en inoefening te laat grondvat. Deur 40 dae op een tema te fokus, word inhoude vasgelê en deel van ’n gemeente se denk- en lewenswyse. Streekfasiliteerders is deur die SGB opgelei om gemeentes hierin by te staan.
Die eerste tema op die reis van 40 dae is die herontdekking van God se sending, ook bekend as missio Dei. Dit word toegelig vanuit Johannes 3: 16 – God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Enkele gedagtes oor Johannes 3: 16 is in ’n uitgebreide preekskets ingesluit, wat predikante kan benut in die voorbereiding van hul prediking en Bybelstudie. Dit is nie ’n preek nie – daarvoor is elke predikant self verantwoordelik.
Die preeksketse word apart aan predikante gestuur. In Die Hervormer word dan oordenkings vanuit die preeksketse opgeneem.