Baie jare gelede het ek en Elize een jaar besluit om van Plettenbergbaai tot by Kaapstad, kuslangs, met ons ou Golfie en ’n tweemantent te toer. Dit was in die dae voor tannie Google en haar baie hulpvaardige vriendin Google Maps.

Elize was in die Kaap toe sy baie klein was, ek was tot in daardie stadium nog nooit in die Kaap nie. Ons is by die huis in Potchefstroom weg, gewapen met ’n kaart van Suid-Afrika. Alles het goed gegaan, tot ons in Kaapstad gekom het. Ons sou by die offisiersmenasie in Wynberg tuisgaan, maar ek het nie ’n idee gehad waar Wynberg, of die menasie is nie. Met haar navigator langs haar het ons Kaapstad binnegery, onseker en sonder ’n idee waar ons is. Êrens het ons verkeerd gedraai en toe ons ons weer kry, is ons op die Kaapse vlakte. Ons het al gehoor van bendes en skietery en was maar bang. Maar so sukkel-sukkel het ons kaart ons deur die onsekerheid van gevaar en verdwaal deur gevat, en daardie aand het ons lekker in die menasie geslaap.

Wanneer ek aan hierdie vreemde jaar dink, dan dink ek terug aan daardie vakansie, spesifiek daardie laatmiddag in Kaapstad. Ons het sonder om te weet waar ons is, gery in die hoop om by ons beplande bestemming uit te kom. Padaanwysings was soms onduidelik en ander kere bedrieglik. Ons het verdwaal, was bang, het vir mekaar kwaad geword, maar ons het daar gekom. Hoekom? Want ons kaart het ons gehelp om, selfs toe ons verkeerd gery het, weer die regte pad te kry. Ons moes net vir ’n oomblik stil raak en weer mooi na die kaart kyk.

Hierdie jaar en alles wat met Covid-19 saamgaan, is vir my soos om sonder kaart die toekoms in te gaan. Ons weet nie waar ons gaan uitkom nie. Ons word bang wanneer ons hoor van die impak van hierdie siekte op die lewe van mense. Ons word bang wanneer iemand wat ons ken skielik oorlede is aan Covid-19, wanneer dit nie meer koue statistiek is nie, maar ’n mens met ’n naam saam met wie jy ’n stuk lewe gedeel het. (Rus in vrede, oom Hennie.)

Ons word kwaad wanneer ons nie al die reëls kan verstaan nie, wanneer jy met die magsvergrype van politici gekonfronteer word, wanneer jy wonder hoekom dit ’n “groter” misdaad is om te rook as om iemand op ’n plaas te vermoor. Ons word bang wanneer ons nie weet waar die toekoms, soos ’n spreekwoordelike gety in die see, ons gaan uitspoel nie. Ons word bang, onseker oor ons finansies, ons kinders se skoolonderrig, of ons nog ’n werk gaan hê. Ons wonder wat die toekoms vir die kerk, vir ons Kerk en vir ons gemeentes, gaan inhou. Maar net soos daardie laatmiddag op die Kaapse vlakte moet ons kophou, ’n bietjie stil raak en weer na die kaart kyk, na God en sy Woord gaan. Ja, die President het gesê hierdie tyd sal ook verbygaan, maar God sê vir ons dat Hy hier is, dat Hy by ons is, dat Hy ons nie alleen los nie.

Ek en jy kan nie die huidige situasie bepaal of wat môre of oormôre gaan inhou nie, maar ons weet, maak nie saak wat gebeur nie, God is met ons. Ja, soos so baie keer in die verlede, sal die kerk van die Here weer opstaan. Dalk nie in presies dieselfde gestalte as voorheen nie, maar ons sal aanhou om die Koninkryk te verkondig, om sy Naam groot te maak, waar en onder watter omstandighede ons ons ook al bevind.

In hierdie onsekerheid, op hierdie reis waar ons ons tans bevind, moes ons by Die Hervormer ook ’n paar aanpassings maak. Omdat so baie gemeentes tans nie eredienste het nie en Die Hervormer dus nie Sondae by die kerk versprei kan word nie, het ons besluit om die Julie 2020-uitgawe en dalk die volgende een ook, afhangende van die situasie, nie in gedrukte vorm te versprei nie, maar slegs elektronies. Die oomblik as alles weer na die een of ander vorm van normaal terugkeer, sal ons Die Hervormer weer in gedrukte vorm versprei. Dankie vir jul begrip.

Mag die almagtige God wat was, is en altyd sal wees, elke oomblik hierdie pad saam met jou stap.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap