Hierdie is die derde deel van die Reformatoriese leksikon wat na afloop van die jubileumjaar, 2017, gepubliseer word. In hierdie uitgawe word op die Wittenbergse Reformasie gekonsentreer. Die Reformasie is méér as Luther, maar die Reformasie kan ook nie sonder Luther verstaan word nie. Luther was ook nie die enigste persoon wat in Wittenberg ʼn rol gespeel het in die vestiging van die Reformasie nie. Hy het talle medewerkers gehad. Sy twee belangrikste bondgenote was Philipp Melanchthon en Johannes Bugenhagen. In hierdie uitgawe van die Tydskrif vir Hervormde Teologie word breedvoerig aandag gegee aan hierdie drie manne.

Foto (bo): Die drie hooffigure van die Wittenbergse Reformasie: Philipp Melanchthon, Martin Luther en Johannes Bugenhagen
Hier word ook aandag gegee aan een van die voorlopers van die Reformasie, die Tsjeg Jan Hus. Ook Hus is onlosmaaklik aan die Wittenbergse Reformasie gekoppel. Sonder Luther, sou Hus grootliks ʼn onbekende figuur uit die Roomse kerkgeskiedenis gebly het. Danksy Luther weet ons die een en ander van Jan Hus.
Die Reformasie het vanuit Wittenberg oor Europa versprei. Talle studente wat by Luther, Melanchthon en Bugenhagen studeer het, het in hulle tuislande ʼn Reformatoriese beweging aan die gang gesit. As voorbeeld word hier aandag gegee aan die Fin Mikael Agricola. Hy was grootliks ʼn student van Melanchthon, en danksy sy leermeester het hy die Finse taal tot skryftaal ontwikkel en die Bybel in Fins vertaal. Dit is bekend dat Finland die beste laerskoolsisteem in die wêreld het. Die Finne huiwer nie om die Wittenbergse Reformasie te erken as die fondament van hierdie prestasie nie.
Geskryf deur: Prof Natie van Wyk